NUUS: 10 November om 13:00
Dinsdag 10 November 2009
In die Nuus om Een
** ANC se sekretaris-generaal sê die voormalige voorsitter van Eskom is nie
‘n rassis nie,
** Verbruikers gemaan oor roekelose uitgawes gedurende die feesgety, EN
** Die Jackie Selebi-saak ontwrig.
*** Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het bewerings dat die voormalige voorsitter van Eskom, Bobby Godsell, ‘n rassis is, skerp
veroordeel. Hy sê dit is onwaar dat Godsell ‘n rassis is en onaanvaarbaar dat mense in ‘n krisis persoonlik en irrasioneel raak.
Mantashe sê dit is ook laakbaar dat mense na die uitvoerende hoof van Eskom, Jacob Maroga, as ‘n swart persoon verwys.
*** Die nasionale kredietreguleerder het gewaarsku dat roekelose
Kersinkopies groot stres vir verbruikers in die nuwe jaar kan veroorsaak.
Die reguleerder se senior bestuurder vir opvoeding en strategie, Peter
Setou, het in ‘n verklaring gesê mense moet noukeurig boekhou oor wat hulle in die feesgety gaan uitgee.
Hy sê verbruikers moet sosiale druk weerstaan om geld uit te gee en moet
eerder nou al ’n begroting opstel, omdat al die klein uitgawes uiteindelik
’n groot bedrag word.
Setou beveel ook aan dat bonusse of 13de tjeks eerder aangewend moet word om skuld te betaal of om gereelde afbetalings soos huispaaiemente of water- en ligte-rekeninge te verdubbel vir die maand.
*** Die N3-hoofweg by Ashburton in KwaZulu-Natal was tot laat vanoggend gesluit nadat ‘n vragmotor met agt luukse vier-by-vier-voertuie op die pad omgeslaan het.
Die vragmotor was na Pietermaritzburg op pad. Die bestuurder – wat blykbaar beheer oor die vragmotor verloor het – is in die ongeluk beseer.
*** Die Jackie Selebi-saak in die Johannesburgse Hooggeregshof is vanoggend deur ‘n onbekende vrou ontwrig.
Die vrou het uit die openbare galery gevra of sy die verrigtinge kan
onderbreek omdat sy graag Selebi se advokaat onmiddellik wil sien.
‘n Dronkgeslane regter Meyer Joffe het die hof verdaag sodat ‘n hofordonans en verteenwoordigers van die staat en die verdediging die probleem kan uitsorteer.
Nadat die hofverrigtinge hervat is, het advokaat Jaap Cilliers en die
staatsaanklaer, Gerrie Nel, aan die regter gesê die vrou het onsamehangend
gepraat en dat die voorval niks met die saak te doen het nie.
*** Noord- en Suid-Korea blameer mekaar vir vanoggend se voorval toe twee patrolliebote op mekaar geskiet het. Volgens amptenare in Seoel het die Noord-Koreaanse boot aan die brand geslaan nadat dit getref is.
President Lee Myung-Bak het ‘n noodvergadering van sy veiligheidsministers belê en eerste minister Chung Un-Chan het Noord-Korea in die parlement daarvan beskuldig dat ‘n regstreekse aanval op die Suid-Koreaanse patrollieboot uitgevoer is.
Volgens brigadier-generaal Lee Ki-Sik het die twee vaartuie sowat twee
minute lank oor ‘n afstand van drie kilometer op mekaar gevuur.
*** Sowat 40 mense is ná swaar reën in ‘n grondstorting in ‘n heuwelagtige
streek in die suide van Indië dood.
Volgens ‘n regeringsamptenaar is byna 300 kleihuise verwoes en agt mense is met beserings in die hospitaal opgeneem.
*** Uit Brisbane in Australië word berig dat vier mans wat hulle klere by
‘n motorwas-onderneming uitgetrek en hulself met seep begin was het, in die hof op aanklagtes van openbare onsedelikheid en stoornis verskyn het.
Volgens die polisie het twee 19-jarige en twee 23-jarige mans vir ‘n volle
motorwasdiens betaal en toe hulle klere uitgetrek en hulle met seep begin
was, terwyl die vroue wat saam met hulle was, foto’s geneem het.
Die polisie het opgedaag nadat hulle deur die bestuurder van die onderneming ontbied is. Die bestuurder en die polisie het gewaarsku dat die hoëdruk-toestel wat die water spuit, baie gevaarlik kan wees en dat iemand sy oog kan verloor as die straal sy oog tref.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 41 sent teenoor die pond en op 11 rand 15 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,102 dollar per fynons en platinum teen 1,352 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 45 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.