NUUS: 11 November om 13:00
PenOrent Nuus: Woensdag 11 November 2009.
In die nuus om eenuur:
**Japanse sokkerspan teen hoë misdaad gemaan.
**Julius Malema weer die teiken van spottery.
**En minstens agtien mense dood in Zambiese padongeluk. …
***Die Japanse sokkerspan wat eerskomende Saterdag in ‘n vriendskaplike wedstryd teen die 2010 wêreldbeker gasheer Suid-Afrika in Durban speel, is weens die hoë misdaad aangesê om nie hul hotel na sononder te verlaat nie.
Die span se media direkteur, Ichirota Fukushi, het gesê die spanlede kan egter na die strand voor die hotel gaan.
‘n Duitse sekuriteitsmaatskappy wat aanstaande na die veiligheid van die Duitse sokkerspan in Suid-Afrika gaan omsien, het na berig word onlangs gesê dat die spanlede met koeëlvaste baadjies buite hul hotel toegerus gaan word.
*** Die ANC Jeugliga het teen die mynwerkersvakbond NUM uitgevaar omdat hy Bobby Godsell verdedig het wat as Eskom voorsitter bedank het nadat die hoof uitvoerende beampte Jacob Maroga geweier het om te bedank.
Die Jeugliga se woordvoerder Floyd Shivambu het gesê die organisasie sal altyd moontlik doen om die beginsels van transformasie in semi-staatsinstellings soos Eskom te verdedig.
Die NUM se sekretaris-generaal , Frans Baleni, het gister gesê dat rassisme aantygings teen Godsell ongegrond is. Hy het gese dat die ANC regering Godsell genader het om sake by die sukkelende kragvoorsiener reg te ruk.
***Die omstrede ANC Jeugliga leier Julius Malema gaan waarskynlik nie in sy noppies wees met die jongste poging om spot met hom te dryf nie.
Die maatskappy Laugh it Off, wat bekend is vir sy satiriese t-hemde, het Malema se gesig op die lyf van die Khoisan slaaf Saartjie Baartman geplaas wat destyds groot opslae in Europa gemaak het oor haar uitermate groot agterstewe.
Malema het na aanleiding van die geskil oor Caster Semeya se geslag onlangs gesê daar bestaan nie so iets soos ‘n hermafrodiet nie omdat daar nie so ‘n naam in Pedi is nie.
*** ‘n Span van 60 soek reeds drie dae vergeefs na ‘n bejaarde man wat in die Cederberg in die Suid-Kaap vermis word. Die 68-jarige Izak Hessqias word vermis nadat hy Sondag ‘n staptog in die Kagga Kamma wildreservaat onderneem het.
Hy woon na berig word op ‘n plaas in die omgewing.
***Stortreen oornag in die Kaapse Skiereiland het tot oorstromings in verskeie plakkerskampe gelei. Verskeie paaie is ook oorstroom.
In die Kaapstadse voorstad Ottery moes ‘n parkeerterrein by ‘n hipermark gesluit word toe dit oorstroom is. Kapenaars kan die res van die week reens oor die gebied verwag..
***Minstens agtien mense is dood en 47 ander beseer in ‘n trompop botsing tussen ‘n olietenkwa en ‘n bus in die noorde van Zambië .
Altwee bestuurders van die voertuie is na berig word ernstig beseer.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
***Die Zimbabwiese premier Morgan Tsvangirai en ministers van sy MDC-party het vanoggend se kabinetsvergadering in Harare bygewoon. Dit volg nadat hulle onlangs hul drie weke lange boikot van deelname aan die eenheidsregering beëindig het.
Die Suider Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap het onlangs pres. Robert Mugabe se ZANU PF party en die MDC aangesê om hul verskille binne dertig dae by te lê .
** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 37 teenoor die dollar, op 12 rand 33 teenoor die pond en op 11 rand 6 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen 1,115 dollar 7 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-366 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 93 sent per vat.
……………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.