Baie geluk, Hennie Koortzen!

Die Sportjoernalis van die Jaar-toekenning, het – sedert dit in 1980 deur Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) in die lewe geroep is – met rasse skrede gegroei tot een van die mees gesaghebbende toekennings vir sportverslaggewers in Suid-Afrika.

 

Die toekenningseremonie het op 29 Junie tydens ‘n glansryke banket by die Sandton Sun plaasgevind. ‘n Rekordgetal van 450 inskrywings is vanjaar ontvang van top joernaliste uit die gedrukte en die internetmedia, asook omroepers en aanbieders op radio en televisie.

 

In die radiokategorie het Hennie Koortzen, sportredakteur en algemene bestuurder van Rippel 90.5 fm, die Program van die Jaar-toekenning ontvang vir RugbyRadio. Nie net is Hennie Koortzen die aanbieder van die program nie, maar behartig ook die beplanning, samestelling en regie. Die toekenning is deur Dr Vincent Maphai (Uitvoerende Direkteur van Korporatiewe Sake en Transformasie: SAB Beperk) aan Hennie Koortzen oorhandig.

 

RugbyRadio is die enigste Afrikaanse program uit al die inskrywings vir gedrukte media, radio of televisie wat ‘n toekenning ontvang het.

 

RugbyRadio is ‘n interaktiewe een-en-‘n-halfuur-program wat oor rugby, van skool- tot internasionale vlak, verslag doen; met in-diepte kommentaar deur verskeie internasionale en plaaslike rugbykenners. Wynie Strydom, spanbestuurder van die Blou Bulle, is ook ‘n ad hoc-aanbieder van die program.

 

RugbyRadio word die afgelope ses jaar van 19:00 tot 20:30 op Donderdagaande in Pretoria, Centurion en omliggende areas uitgesaai. Luisteraars buite die opvangsgebied, luister via die internet  op www.rippel.co.za.

 

Hennie Koortzen is ‘n vryskut-kommentator vir SuperSport, en is ook deur SuperSport vir die SAB Sportjoernalis as “Beste rugbykommentator vir 2009” benoem.

 

Rippel 90.5 fm is die enigste gemeenskapsradiostasie wat ‘n toekenning verwerf en met nasionale en kommersiële uitsaaiers meegeding het.

 

hennie-toekenning

Leave a Reply