“Die rol van die hart”
Die Rol van die hart
Die rol van die hart is om ou bloed te pomp na die longe en nuwe bloed met suurstof te pomp na die liggaam. Die emosionele hart neem die irriterende roetine van die lewe verwerk dit en pomp nuwe vars lewe in die lewe en die huwelikslewe in.
Wanneer jou hart geen probleme het nie, wanneer daar geen emosionele aanpaksels is nie dan kan jy moeilike omstandighede in jou lewe en huwelik makliker verwerk. Wanneer jou hart begin toegroei van te veel verkeerde kos raak jy gou moeg en jy moet ‘n hart operasie kry. So ook met die emosionele hart.
Daar is verskillende probleme in die huwelik wat ons moet oorkom. Ons het persoonlikheids- verskille wat maak dat ons koppe verskillend werk. Ons spandeer nie genoeg tyd aan mekaar nie. Die kinders verg baie aandag en tap ons energie en ons is besig met werk of met die kinders. So vlug romanse by die agterdeur uit. So dan en wan wil die man seksuele toenadering soek by sy vrou en sy is moeg van al die pligte wat sy het om na te kom in die huis en kan nie aan hom aandag gee nie. Hy voel dan verstote en alleen.
Een van die maniere om jou hart gesond te hou is om op te let na die goeie dinge wat jou man doen. Die kere wat hy jou byvoorbeeld te hulp gekom het. Jy kan net konsentreer op die negatiewe in die lewe. Ek hoor ‘n praatjie waar ‘n man sê ‘n suikerbekkie soek blomme en ‘n aasvoël soek karkasse. Dit hang dus af waarop jy konsentreer wat jy gaan raaksien. Gaan dit blomme of karkasse wees? Dit beteken jy kan niks goeds onthou wat jou manof vrou doen nie. Of jy kan begin oplet na dingetjies in die huis wat hy reg doen of jou vrou reg doen.
Wanneer jy hierdie skatte in jou hart begin stoor kan jy in tye wanneer dit nie goed gaan nie, dink aan hierdie tye wanneer hy of sy goeie dinge aan jou gedoen het. Jy kan op die positiewe konsentreer of jy kan dink aan die huidige negatiewe gebeurtrenisse.
‘n Mens kan ‘n rukkie in iemand se teenwoordigheid wees dan begin sy hart na vore kom. Wanneer ‘n mens begin om goeie dinge uit jou hart na vore te bring dan begin jou woorde verander. ‘n Mens se hart word sigbaar deur jou woorde. Jesus sê mos in Matt 12:34 ‘n Mens bring goeie of slegte dinge te voorskyn uit sy hart. As jy probleme het met jou woorde kyk na jou hart. Wat groei in jou hart?
Ons harte kan ook negatiewe gedagtes begin huisves wanneer ons saam met ander mense deelneem aan negatiewe gesprekke oor ons mans of vrouens. Wanneer iemand anders negatief praat oor hulle maats dan begin ek ook negatief praat oor myne en dan word my gedagtes negatief.
Baie van ons is getroud met mense wat nie emosioneel ingestel is nie of wat nie dink wat hulle sê nie. Wat dominerend oorkom en wat die lewe moeilik maak. Ons kan die lewe vir ons nog moeiliker maak deur gedurig aan die dinge te dink. Of ons kan begin om ons gedagtes in te stel op die positiewe aspekte van die lewe rondom ons en geluk te vind in ons self en begin om as positiewe mense te lewe.
Skep jy ‘n meer positiewe atmosfeer in jou huis deur jou woorde of neem jy deel aan die negatiewe atmosfeer in die huis deur jou hart?
Druk die positiewe knoppies
Baie dikwels wonder mense is dit algemeen dat een huweliksmaat haar huwelik of huweliksmaat wil verander.
Dit is ongelukkif waar dat ons persepsies het van mekaar en ons wag vir mekaar om te verander of ons wil mekaar verander. As jy dus nie so gelukkig is in die huwelik nie kan jy reeds begin om ‘n paar dinge te verander. Dinge aan jouself, bedoel ek.
Ons moet besef ons het wel invloed op ons maats. Ons weet byvoorbeeld wat gaan hom woedend kwaad maak. Jy sal nie voor die TV gaan staan terwyl hy rugby kyk nie. Jy sal ook nie iets sê terwyl hy bestuur nie. Ons weet dus watter knoppies om te vermy. As ons dan weet watter knoppies negatief is en die reaksie wat dit veroorsaak kom ons soek die positiewe knoppies. As daar knoppies is wat negatiewe reaksies veroorsaak, dan moet daar ook knoppies wat positiewe reaksies veroorsaak.
Mense het knoppies wat verandering bewerk, maar ons fokus op die negatiewe dinge in die huwelik en kry daarom nie die positiewe knoppies nie. Positiewe verandering in jou en beandering tot jou maat kan aanleiding gee tot ‘n positiewe verandering in jou maat. Jy kan jou maat bestudeer en kyk wat ‘n meer positiewe houding in hom of haar te weeg sal bring.
Die beginsel is dus eenvoudig verander jouself eers. Bring ‘n verandering in jou denke deur te konsentreer op die positiewe dinge wat jou maat doen. Bring ‘n verandering in jou hart. Gaan kyk na die positiewe in jou maat. Daar is geen mens op hierdie aarde wat alles reg doen nie, daar bestaan nie so ‘n mens nie. Jy kan dus maklik die negatiewe kry.
Ons moet met versoening leef. In 2Kor 5:19 sê Paulus dat die boodskap van versoening beteken dat God mense hulle oortredings nie toereken nie. Om dus met versoening te leef beteken dat ons moet verstaan dat God ons onvoorwaardelik aanvaar en dat ons ook foute het. Ons is ook ongeduldig, ons het ook humeure en is selfsugtig. Dan in vers 20 se hy die boodskap van versoening is aan ons toevertrou. Ons moet dus met versoening leef.
Dit is net so dat houdings aansteeklik is. Hoe jy reageer op mense sal bepaal hoe hulle reageer op jou. Houdings is gewortel in jou binnekant en kan jou beste vriend wees . Dit kan jou huweliksmaat na jou aantrek of wegstoot.
Gesindheid kan nie verberg word nie dit moet op ‘n manier na vore kom. Dit bepaal jou sukses of mislukking en is nie afhanklik van omstandighede nie. Dit word binne in jou geskep deur jou denke en kom op een of ander manier na vore.
Jou gesprekke is ‘n weerkaatsing van jou gesindheid. Jou denke lei tot ‘n gesindheid en jou gesindheid lei tot dade. Jou dade lei tot gewoontes en jou gewoontes word jou karakter.
Jy kan dus konsentreer op die negatiewe in jou maat of jy kan konsentreer op die positiewe. Jy kan ‘n negatiewe mens word of jy kan ‘n positiewe mens word.
Dit gaan bepaal of jy jou maat se neagtiewe knoppies druk of jou maat se positiewe knoppies gaan soek en so jou maat motiveer.