“Gebruik positiewe taal”

Gebruik Positiewe Taal

 

Wanneer ons kommunikeer moet so ons so praat dat ons maats bereid sal wees om te luister.   Ons boodskappe word verduister deur die manier waarop ons met ons maats praat.

 

Ons moet so praat dat ons maats die boodskap wat ons wil oordra, hoor. Trouens eintlik bedoel ek dat hulle bereid sal wees om te luister. Wanneer ons mekaar stormloop met kwaai woorde, gesigsuitdrukkings en moeilike stemtone dan gaan jou maat nie bereid wees om te luister nie.

 

Om aan jou maat terugvoer te gee oor jou behoeftes verwagtings deur openlik en eerlik met jou maat te praat is die ideaal. Openlik en eerlik is nie aggressief of soos sommige mense sê “reguit” nie. 

 

Kom ons sê dat jy ontevrede is oor jou man  en kinders nie die borde in die skottelgoed wasmasjien sit nie. Jy kan nou aggressief reageer en sê waarvan jy nie hou wat hulle doen nie.  Jy sou met ‘n kwaai stemtoon aggressief kon sê : “Ek hou nie daarvan as julle so slordig is nie.   Wanneer gaan julle leer om die skottelgoed in die wasmasjien te pak?”

 

Wat nou gebeur is dat jy ‘n negatiewe reaksie kry van jou maat. Jy is presies reg hulle doen nie wat jy wil hê nie, maar hulle hoor nie dit nie. Hulle hoor hoe hulle jou irriteer.

 

Moet dus nie sê wat jy nie wil hê nie of waarvan jy nie hou nie, maar gebruik meer positiewe taal. Sê waarvan jy hou.

 

Jy kon sê: “Dit gaan my baie help as julle gou kom om die skottelgoed in die masjien te pak.”

 

Kom ons kyk na nog ‘n voorbeeld.  Jou vrou is moeg na die werk en sy sê vir jou iets op ‘n kwaai manier. Jy sou kon sê (met ‘n kwaai stemtoon) : Ek hou nie daarvan as jy so met my praat nie. Ek wens jy wil anders met my praat. Dit is nie vir my lekker as jy so met my praat nie.”

 

Jy sou kon sê: “Ek kan sien en hoor jy is moeg.  Ek gaan jou beter verstaan as jy  kalm vir my sê wat jou pla.”

 

Stel ‘n versoek eerder as om te kla. “Die kinders lyk of hulle drie dae laas gebad is. Kan jy nie ‘n mens help nie. Moet ek alles altyd alleen doen?”  ‘n Mens kan dit positief so stel: ” Die kinder is baie vuil. Kan jy my help om hulle te bad en in die bed te kry, dan kan ek  vir ons koffie maak?”

 

Mense vra dikwels gee vir ons maniere om ons konflik te hanteer. Dit begin by ‘n gesindheid en die manier waarop ons met mekaar praat. Na sulke voorbeelde en nog meer op ‘n huwelik seminaar sê ‘n meisie vir my “Dit help nie om so mooi met hom te praat nie. Hy luister net as ek kwaai is.”

 

Die punt is, wees ingestel daarop om as Christene mekaar se belange op die hart te dra en om mekaar te laat voel jy gee om en verstaan.

 

Indien jy gedurig sulke kwaai taal gebruik gaan jy dalk kry wat jy wil hê, maar jy verloor intimiteit.  Jy verloor jou maat se nabyheid. Dit is nie iets wat rasioneel verklaar word nie of beskryf word nie.

 

Wanneer julle anders met mekaar praat en saamleef dan sal jy dit net ervaar. Jy sal voel jy het tuisgekom jy behoort êrens.

 

Kom ons laat mekaar veilig voel.

 

Riaan Pienaar

Leave a Reply