Getuienis en danksegging: Baba Henry-Lück
Ons het hierdie pragtige e-pos ontvang van Jaco Vermaak, pappa van klein Henry-Lück. ons plaas graag die storie onveranderd.
“My naam is Jaco Vermaak.
Ek en my vrou het ‘n premature baba seun gehad op 28 Aug. 2007. Almal in die familie het aangeneem dat hy dit nie gaan maak nie. Want ons het gehoor dat seuntjies gewoonlik nie sterk genoeg is om dit te maak nie.
Henry-Lück was lank in die hospitaal en my medies het uitgeput geraak. Ons het hom ‘n paarkeer amper verloor.
‘n Vriendin by Henrihette se werk het ‘n e-pos geplaas wat toe die rondte begin doen het. Baie mense, vreemdes, het ons gekontak en ons opgedra voor die Here en vir ons gebid.
Henrihette moes die eendag, na die seun se ontslag uit die hospitaal, na haar werk gaan, waar ‘n sakkeroller haar selfoon vasgelê het. Ons het al die telefoon nommers verloor van die mense wat ons gebel en ge-SMS het.
Nou wil ek graag vra of dit moontlik is dat julle ons kan help om al die mense te bedank. Want ek glo hulle dink dalk, dat dit net ‘n slenter was, maar dit is nie. Ek heg ‘n paar fotos by van hoe hy gelyk het met geboorte en hoe hy nou lyk. Want ons glo as dit nie vir ons mense was, wat ons in hul gebede opgedra het nie, sou ons dalk ook moed verloor het en hom dan dalk ook verloor het want dit was net gebede wat hom deurgehaal het.
Hier is die volledige gebeure deur sy ma (my vrou) uiteengesit:
Op 15 Augustus 2007 het ek opgestaan en gereed begin maak om vir my 26- weke-ondersoek by my ginekeloog te gaan, toe my water breek. Ek het nie die vaagste benul gehad van wat dit is nie, want ek het met my ander 2 seuns keisersnitte gehad.
Ek was nie rerig bekommerd nie (nog nie) en het rustig klaargemaak. Ek het my dokter geskakel en met die ontvangsdame gepraat en sy het gese ek moet eerder dadelik inkom. Wel ek was in elk geval oppad soontoe. So ek het dit vir haar gesê. Toe ek instap by die spreekkamer en hulle vra wat fout is.
Dokter het my dadelik begin ondersoek en daar is bevind dat my water wel gebreek het en dat my swangerskap op 26 weke verby is. Daar is ‘n sonar gedoen en die baba se hartklop was sterk en seker.
Ek is dadelik opgeneem in die kraamkamers, waar hulle my begin voorberei het vir ‘n noodkeiser. Dokter het ‘n klomp medikasie voorgeskryf vir sy longe en om hom gereed te maak om gebore te word. Hy het maar 976 gram geweeg volgens die sonar. Dokter het besluit om hom so lank as moontlik binne in my te hou elke dag langer in my baarmoeder was beter vir hom as daarbuite.
Ek het vir 2 angsvolle weke in die hospitaal gebly. Op 28 Augustus 2007 het Henry-Lück in fetale nood gegaan, dokter het besluit om ‘n noodkeisersnee te doen.
Henry-Lück is op 28 Augustus 2007, 14:50 gebore - ‘n volle 1,08 kg.
Hy is gebore op 28 weke. Ek was so bang, maar met almal se gebede en boodskappe wat ek gekry het, het dit my beslis gehelp om positief te bly.
Ek moes na net 10 dae weer terug gaan werk toe, ek moes my kraamverlof spaar vir wanneer hy ontslaan word. Hy het ‘n paarkeer opgehou asemhaal en infeksie gekry van al die kere wat daar by hom bloed getrek moes word. Sy are kon nie meer die druk wat op hulle geplaas word hanteer nie en ‘n chirurg is in geroep en hy het ‘n broviac ingesit sodat sy aanvulling en medikasie daardeur in sy sisteem kon ingaan. Hy was vir ‘n maand in die hospitaal. Ons mediese skema dek vir NICU net R250 000 en dit het net ‘n maand gehou. Die 1ste Oktober 2007 is hy oorgeplaas na ‘n staatshospitaal. (Kalafong).
Ek het amper my kind net daar en dan gegryp en weggehardloop. Hulle het nie ontsag vir ‘n klein lewetjie nie het sy pleisters afgeruk en van die dik wit pleisters opgeplak. Ek wou van my kop af raak toe hy so huil en ek kan niks doen om hom te help nie. Ek het elke dag vir 16 ure by hom gesit en wag.
In die eerste week vandat hy daar is het die professor my aangeraai om hom te borsvoed. Hy het so gou beter begin word dat hulle die broviac laat uithaal het en van toe af het hy nie weer enige bloedinfeksies gekry nie. Hy het goed begin gewig optel. Sy magie het begin om sy kos te verteer en hy het beter begin asemhaal op sy eie. Op die 19 Oktober 2007 is hy ontslaan met ‘n skrale gewig van 1,56kg. Maar gesond. Ek het nie nodig gehad om ‘n suurstoftenk te huur vir hom nie hy het net sy ysteraanvulling gekry.
Ek kon nie vinnig genoeg wegkom van die hospitaal of nie. Die behandeling daar was van die beste maar die diens deur die personeel nie te watswonders nie. Die hospitaal self is in ‘n toestand.
Daar lê spuitnaalde in die afvoerdreine en die publieke toilette is onbruikbaar. Dit het later gevoel of ek in ‘n dwaal is. Die eerste paar dae by die huis met ons klein wonderwerkie het ek net oor en oor dankie gesê. Daar was baie mense wat my gekontak het en gese het dat hulle het die e-pos gelees en hulle gee ‘n R100 of R1000 om te help, as daar enige geldelike hulp sou ontstaan. Ek het elke dag wat ek langs die broeikas gesit het en vir die klein mensie gekyk het, God gesmeek net om hom deur te haal al is daar nie mense wat glo dat hy dit nie sou maak nie.
Vandag, 19 maande later, is hy ‘n besige mannetjie wat oral rondhardloop en kattekwaad saam met sy twee ouer boeties aanvang. Maar hy is altyd reg met ‘n glimlag selfs as ek hom in die oggend gaan wakker maak is dit met ‘n glimlag.
Hy is waarlik ‘n geskenk van Bo en ek dank die Here elke dag vir hom en sy drie ander boeties.
Ja, drie! Henry-Lück was net 6 maande oud toe ek uitvind dat ek weer swanger is. Ek het steeds geborsvoed en het ‘n voorbehoedmiddel gebruik. Wel, my dokter was nie baie ingenome met ons gewees nie, omdat ek ‘n hoë-risiko- swangerskap gehad het, sou die volgende een waarskynlik ook een wees. Maar als het goed afgeloop en sy boetie, Ruben, is op 14 Oktober 2008 gebore, ‘n volle 3,61kg by geboorte ‘n klein reusie in vergelyking met Henry-Lück. Ek is nou die trotse moeder van 4 wonderlik seuns, geeneen wat ek sal verruil vir enige iets ter wereld nie.
Ek wil net vir almal “die hospitaal ook Femina” weereens dankie sê vir al julle gebede en bydraes wat gemaak is. Ons hele gesin waardeer dit opreg en weet dat God julle sal seen vir die bystand wat julle ons gebied het in ons tyd van nood.
Groete Jaco & Henrihette Vermaak