Het Proteas Aussies onderskat

Die oortuigende wyse waarop Australië die Proteas in die eerste twee toetse geklop het, het baie vrae laat ontstaan. Die meeste ondersteuners vind dit moeilik om te verstaan hoe dieselfde span wat Australië op hulle eie velde kon verslaan ewe skielik so ‘n powere vertoning in Suid-Afrika kan opdis.

Die kaartjieverkope vir toetse was die beste in ‘n baie lang tyd en daar was soveel afwagting na die sukses in Australië. Baie ondersteuners begryp nie waar dinge vir Graeme Smith en sy span skeefgeloop het nie en dit is nie maklik om die werklike oorsake te identifiseer nie. Daar kan seker met reg gevra word of ons boulaanval werklik deurlopend vir die taak opgewasse is en of daar nie te veel wisselvalligheid in die vorm van ons top boulers is nie. Morne Morkel het gesukkel met sy vorm in die tweede toets in Durban en Dale Steyn het teen die einde van die Aussies se eerste beurt in die tweede toets gevaarlik gelyk, maar kon die deurlopend die kolwers van Australië onder druk plaas nie. Die vraag kan ook gevra word of Paul Harris se insluiting in Durban die regte besluit was en of Albie Morkel nie dalk ‘n beter keuse sou wees nie.

Die Suid-Afrikaanse kolwers is ook soms geneig om onder druk te swig en dan word van dieselfde kolwers verwag om te red. JP Duminy se vertoning in die eerste beurt in Durban is weer ‘n bewys van sy waarde as kolwer en dit terwyl sy kolfmaats nie een werklik die mas kon opkom nie. Jaques Kallis en AB de Villiers het belowend gelyk in die tweede beurt in Durban, maar hulle onvermoë om die nuwe bal te trotseer was vir baie ‘n groot teleurstelling. Die skrif was wel teen daardie tyd teen die muur vir die Proteas, maar ‘n beter poging om terug te veg teen die einde kon dalk net meer aansien aan die beurt en Suid-Afrika se vertoning in die toets verleen het.

Die vraag is nou wat gaan Mickey Arthur en sy span doen om minstens die derde toets op Nuweland te probeer wen. Niel McKenzie het sekerlik genoeg geleenthede gehad om hom te vestig in die toetsspan en die vraag is of Albie Morkel of Ashwell Prince nie nou ‘n geleentheid verdien nie. Met Albie is daar onmiddellik ‘n ekstra bouler in die span. Is die vuur en venyn van ‘n Andre Nel dalk ‘n oplossing of het hy reeds genoeg kanse gehad?

Daar is beslis baie vrae sonder antwoorde. Hopelik kan die Proteas, wat sonder hulle kaptein in derde toets moet klaarkom, van die antwoorde op Nuweland gee.

2 Responses to “Het Proteas Aussies onderskat”

  1. hennie says:

    Ek stem saam met die opmerking oor Niel McKenzie.

  2. Simon says:

    Ek stem saam met die idee oor Mc Kenzie en selfs Andre Nel, maar laasgenoemde se “venyn” grens soms aan dit wat hom by die beamptes in die sop laat beland. Miskien sal ‘n sport-lewensstyl-ghoere soos Morne Du Plessis die antwoord wees om Nel nog ‘n kans te gee. Hoe dit ookal sy, ons is myns insiens skielik baie mak vir die Aussies en ons kort iemand wat die kole sal stook…!

Leave a Reply