Hoe groot is ons God!
Na die verwoestende brande einde verlede jaar in Gordonsbaai, het ons hierdie getuienis ontvang. Dit is beslis die moeite werd om dit te lees.
Baie dankie aan Mariaan Kritzinger wat dit (en ook die foto’s) aan ons gestuur het:
Agtergrond:
Vanaf Augustus verlede jaar het ek besef ek is nie op ‘n plek waar die Here my konstruktief kan gebruik vir sy werk nie. Tony en ekself het hieroor begin bid en die gevolg was dat ek in Februarie vanjaar my bemarkingsbesigheid toegemaak het sonder dat ek geweet het wat die volgende stap vir my sou wees. In Maart het ek gehoor die Lodge is in die mark en het ek met die eienaar begin onderhandel om dit van hom te koop (sonder enige fondse tot ons beskikking) . Ek het ‘n besigheidsplan opgestel, dit aan die eienaar voorgele en hy het dit aanvaar, nieteenstaande die feit dat hy ‘n ander aanbod gehad het om die Lodge te verkoop. Die kontrak is absoluut in ons guns beskryf, met onder andere finansiele oorname eers in 2010 en op voorwaarde dat die beoogde ontwikkeling aan die regterkant van die Lodge goedgekeur word. Indien dit nie gebeur nie, word ek vergoed vir die tyd wat ek die Lodge ‘bestuur’ het en ook terugbetaal vir enige kostes aangegaan vir die opgradering van die Lodge - dit opsigself beloop al ‘n hele paar rande en baie ure se harde werk.
Die Sondag-oggend voordat ek die kontrak moes teken het ek ongeveer 02h45 wakker geword en die volgende gesprek met God gehad: “Here, U weet dat ons nie die geld het om hierdie plek te koop indien U seen nie op hierdie transaksie rus nie. Ek het werklik nodig dat U vir my ‘n teken of skrif gee wat gedoen moet word. Moet ons wegdraai van dit af, of moet ons aangaan. Wys my asseblief wat ek moet doen.” Ek het weer aan die slaap geraak, regte tyd opgestaan, klaargemaak en kerk toe gegaan. Ons predikant, Jannie le Roux, groet die gemeente met min of meer volgende woorde: “Ek het eintlik ‘n ander preek voorberei gehad, maar ek bly die gevoel kry dat ek vanoggend uit Josua 1 moet preek.” Gaan lees dit gerus, maar die kern van die boodskap is “Gaan en neem die beloofde land in en wees nie bevrees nie wat ek sal vir jou sorg”. Nodeloos om vir julle te vertel dat ek in trane was, maar my antwoord gekry het.
Die Brand:
Maandag om 13h30 het Hayley Wittridge van natuurbewaring ons kom ’brief’ oor wat met die vuur aan die gebeur is en die moontlike senario’s wat kon afspeel. Op daardie stadium was die vuur, wat Saterdag reeds in die Grabouw area op ‘n plaas begin het, 8km wyd, die wind het teen 45km per uur gewaai en die helikopter kon nie hoog genoeg bo die vlamme kom om ‘n korrekte waarneming te doen van wat werklik aan die gang is nie. Daar was drie opsies wat kon gebeur - OF dit kon oor die dam versprei na Godonsbaai, of dit kon deur die kloof kom regoor die Lodge, of dit kon deurbreek by Boskloof, wat ongeveer 5km van ons af is. Op hierdie stadium het die wind suid-oos gewaai wat beteken dat dit oor die berg vanuit die Betty’s Baai omgewing in die rigting van die Lodge gewaai het. Ek moet dadelik hier noem dat ek ongelooflik baie respek het vir Heiley en haar span, sy was saaklik, professioneel en ondersteunend, het geen doekies omgedraai nie en het ons deurentyd op hoogte van die situasie gehou. Ek sal ook nooit weer die stelling maak dat ‘n brandweerwa of ambulans se sirene die lelikste geluid ooit maak nie. Glo my dit is mooiste geluid in die hele wereld as dit is wat jy nodig het.
Om 15h15 het Hayley my gebel om te vra dat ons ontruim. Op daardie stadium het ons gaste in die Lodge gehad, onder andere twee peuters en twee baba’s, met twee groter sussies wat na die kinders gekyk het terwyl die ouers werk. Leone wat vir my werk, het hulle gevra om hulle goedjies te pak, ons ander het gevat wat ons gedink het beskerm moet word, ons het vir Ouma Let wat in die huisie by Rocky Baai bly in rat gekry en na die parkeerterrein in Gordonsbaai gegaan, en geglo dat ons voor slaaptyd terug sou wees by die Lodge. Die gaste het hulle kinders kom haal en Leone en haar man is na familie toe in die Kom. Op daardie stadium was die berg teen Godonsbaai reeds in vlamme gehul en die brandweer het gedoen wat hulle kon. Boskoof het ook reeds gebrand en die lodge was dus letterlik in die middel van al hierdie brande.
Wat het ek gepak: ons foto’s, die twee skootrekenaars, twee stelle klere vir myself, twee stelle klere vir Tony (sonder hemde en skoene, ek het seker nie gedink dit is belangrik nie) ons toiletware en o ja, my haarkleursel - I’m sooo vain! En op daardie stadium het ek besef dat wat agterbly werklik geen waarde het as lewens op die spel is nie. Ek het ook werklik besef dat die belofte wat ek aan God gemaak het dat die Lodge tot Sy eer en verheeliking bedryf sal word, werklik die begeerte van my hart is want wat agtergebly het is nie myne nie, dit is Syne, soos wat ek belowe het toe ons gebid het oor die Lodge.
Jacques en Ronel Lombard het sonder huiwering hulle huis oopgemaak vir Tony, myself en Ouma Let toe dit duidelik word dat hierdie vuur nog lank nie sy brand klaar gebrand het nie. Jacques en Ronel, julle is vriende waarvoor mens net vir God kan dank, eerlik, opreg en gelowig, mense met wie ek graag geassosieer wil wees. Jurgen Bester, ons bybelstudie leier het vir almal SMS’e gestuur om te vra dat hulle asseblief vir ons moet bid omdat ons eiendom letterlik in die middel van al hierdie vure is. Aan elkeen van julle wat gebel het, gebid het of ‘n SMS gestuur het, baie dankie - die ontruiming het my nie werklik gegooi nie, maar julle omgee het. Ek was verstom oor die hoeveelheid oproepe, hulp wat aangebied is en gebede wat vir ons opgegaan het. Ek het die gaste wat sou inkom laat weet dat hulle asseblief sommer op Worcester moet slaap en onderneem om hulle op hoogte te hou van wat gebeur. Hulle was wonderlik al was hulle hele vakansie van twee weke in die weegskaal.
Hayley het my van tyd tot tyd op hoogte gehou en ongeveer 11h00 het ons gaan ’slaap’. Op daardie stadium het Tony en ek tyd gehad om bietjie alleen gesels en altwee van ons het die visie gehad van God se engele wat om die plek staan met hulle vlerke gestrek om die vuur van die lodge af weg te keer. Om 02h30 het ek helder wakker geword en weer begin bid dat die Here se wil sal geskied en as dit so is dat die Lodge moet afbrand Hy my die onderskeidingsgees sal gee wat om verder te doen.
Om 04h00 het ek opgestaan en weer vir Hayley gebel. Die verslag was soos volg: ” The fire burst through the gorge at approximately 02h30 with the wind from behind in the direction of the lodge, but the wind changed direction and the fire burned itself out running parallel along the road”. Dit is ongeveer 1 meter van ons grensdraad af aan die oorkant van die pad. Andre, ‘n buurman van Rocky Bay, en vriend van ons, het op daardie stadium (02h30) op die lodge se voorstoep gestaan en vir God gevra dat die wind asseblief van rigting moet verander. Toe almal ontruim het Andre gevoel dat hy MOET bly - ons almal weet nou waarom.
Andre is in trane elke keer as hy daarvan praat, wat die verhoring van sy gebed het ook vir hom groter betekenis in ander aspekte van sy lewe - om God te vertrou met sy hele lewe al is hy onlangs uit ‘n besigheid uit verneuk deur mense wat hy vertrou het. ’n Besigheid waarom sy hele finansiele toekoms gebou was - Andre is getroud en het twee seuns, 10 en 12 jaar oud en is ‘n 40-jarige blanke man in ‘n nuwe SA.
Om 02h30 was slegs 1 assisterende brandweerwa van Natuurbewaring beskikbaar by die lodge (’n kleintjie met 500liter watertenk), aangesien die ander baklei het om die vuur van die huise af weg te hou in Gordonsbaai. Hou asseblief in gedagte dat die wind teen hierdie tyd nog steeds teen 45km per uur gewaai het al was dit nou in ‘n ander rigting. Om 06h00 het Hayley my laat weet dat die gorge weer brand en ons het op versoek van Ronel almal saam gebid dat God sy wil moet laat geskied met hierdie brand. Om 02h30 was daar een brandweerwa beskikbaar, om 06h00 toe die vuur weer opvlam, was daar 5 brandweerwaens beskikbaar om die Lodge en Rocky Baai te beveiling. Neem ook asseblief in ag dat die Lodge en Rocky Baai net met gas werk, daar is dus rofweg ongeveer 70 gasbottels op die twee persele. Glo enigiemand nog dat God NIE gebede verhoor nie! Praat met my, my maat ek sal jou dinge vertel wat jou hoendervleis sal gee. Onder andere dat die vuur so vinnig in die gorge afgekom het dat die droe hout wat op die grond le nie eers gebrand het nie - dit het verwoesting gesaai teen 45km per uur, en sonder God se ingryping was daar GEEN, maar GEEN manier wat hierdie vuur geblus kon word nie.
Mariaan, vriendin, jy is kosbaar. Mariaan is een van my beste vriendinne, woon in Pretoria - my gebedsvriendin, lagvriendin en huilvriendin. Sy het my Dinsdag-oggend gebel en onderneem om my te vertel van ‘n visie wat sy gehad het die vorige nag. Later die dag praat ons weer en ek vertel haar van my en Tony se visie van die engele wat om die plek staan. In trane vertel Mariaan dat dit presies dieselfde visie is wat sy gekry het, en Dinsdagaand getuig Lucinda, ‘n opregte mensie wat baie diep in ons harte le, van ‘n visie wat sy gehad het van ‘n skaar engele wat om die plek staan en die perseel bewaak van die vuur - glo julle nog God praat nie meer met mense op aarde nie?
Dinsdag namiddig, ongeveer 16h00 het Hayley my laat weet dat dit veilig is om terug te keer lodge toe. Tony en ekself het besluit om eers te gaan kyk hoe dit daar lyk, voordat ons die ander laat weet. Vriende die Here was ons baie genadig en ongelooflik goed vir ons. Die lodge het nie eers na brand geruik binne toe ons die deure oopmaak nie. Buiten die roet wat rondgewaai het, het ons nie eers nodig gehad om die gordyne of linne weer te was nie. Ek het die selfsorg eenhede uitgevee, afgestof en VUOLA - die gaste kon kom vakansie hou. Dinsdagnag het ons beurte gemaak om wag te hou aangesien die vuur ongeveer 1km van ons af nogsteeds gewoed het, en die wind weereens in die rigting vanuit die vuur na die lodge gewaai het. Woensdag en Donderdag het die vuur steeds gebrand en gister het dit weer oor die gorge gespring en teen die rivier ongeveer 500m van ons af begin brand. Ons weereens op gereedheid grondslag geplaas en weereens het al julle gebede ons deurgedra.
Vanoggend skyn die son oor ‘n windlose landskap en ek kan nie anders nie as om hierdie boodskap oor te dra sodat God daardeur verheelik kan word nie. Aan ALMAL wat kontak met ons gehad het in hierdie tyd, BAIE BAIE BAIE dankie, as ons maar net in politieke moeilikheid ook so kan saamstaan het die vyand geen kans nie.
Ons waardeer julle, ons is lief vir julle en hoop dat ons ook eendag DAAR kan wees vir julle soos julle nou daar was vir ons. Ek is so bang om name te noem omdat ek bang is ek laat iemand uit, maar maat, jy wat gebel het, hulp aangebied het , gebid het, ge-SMS het of net aan ons gedink het, dankie - dit is julle wat maak dat ons weet ons is omring met mense wat omgee.
Laat jou lewe, jou liefde en bekommernisse in die hande van Jesus - dink net wat Hy met jou lewe kan doen as jy maar net bereid sal wees om Hom te vertrou.
Laastens wil ek vra dat julle met nuwe oe na die mense van natuurbewaring en die brandweer sal kyk - hulle kry meer dikwels kritiek as prys, maar hulle doen ‘n ongelooflik onbaatsugtige werk. Hulle was ten alle tye professioneel, hulpvaardig en simpatiek, het na ons eiendom gekyk asof dit hulle eie was en het 24uur-skofte gewerk aangesien daar net nie genoeg mense was om te help nie. Dit het ook gedurende hierdie tyd op ander plekke in die Kaap gebrand.
Baie dankie en liefde vir almal
Tony en Sanet Collard
Sunbird Guest Lodge



Dis wonderlik om sulke getuienisse te lees!