Mites in die huwelik

Mites in die Huwelik

 

Daar is ’n paar mites wat mense glo oor die huwelik.  Een is dat jou huweliksmaat dadelik gaan weet wat dit is wat jy van hom verwag om jou gelukkig te maak.

 

’n Verwagting kan ’n lewensreël wees wat ek van my kinderjare af saambring of dit kan ‘n spesifieke optrede wees wat ek van my man vereis.  Baie dikwels is hierdie verwagting bepaal deur my persoonlikheidstipe en ander kere is dit bepaal deur die omgewing waarin ek woon of beweeg, soos die kerk. Jy het met ander vrouens gepraat by die Bybelstudie en kom toe agter,  hulle mans doen sekere dinge in die huis en so word dit ‘n onrealistiese verwagting dat jou  man ook so moet maak.

 

Dikwels hoor ’n mens vroue sê dat as hy haar liefhet, hy sal weet wat sy wil hê.  As hy vir my omgee sal hy dinge aan my doen wat my gelukkig sal maak. 

 

Dikwels  weet ons nie wat die ander gelukkig sal maak nie en dikwels weet ons nie dat ons maats met ’n hunkering in die binnekant loop of ’n irritasie ronddra nie.  Omdat ons almal ook blindekolle het en gedeeltes van onsself nie raaksien nie weet ons ook nie altyd dat ons irriterende gedrag het nie.

 

Jy moet dus leer om te vra vir verandering in gedrag by jou maat. Of om aan ’n behoefte van jou aandag te gee.   Kom ons sê weer vanoggend, vra vir ’n verandering in optrede nie in persoonlikheid nie.  ‘n Voorbeeld sal wees om nie vir jou maat te ek wens jy wil minder slordig wees nie, maar sê: “Sal jy asseblief die klere optel?”

 

Vanoggend wil ek sê, vra weer vir ’n optrede van jou man om aan jou behoefte aandag te gee maar moenie vra vir ’n verandering in gesindheid nie, maar vra vir ’n verandering in optrede. Bv ek wens jy wil meer wys jy het my lief teenoor “Kom gee my ’n druk en ’n soen wanneer jy van die werk af kom”  of “masseer my bietjie my voete.” Hier vra jy dus vir ’n spesifieke optrede teenoor ’n algemene wens.

 

Moenie dink dat gedrag wat nie spontaan kom,  nie goed is nie.  Dikwels leer mense optredes aan en dan kom die gevoelens later.  Jou maat kan leer waarvan jy hou en dit maak die atmosfeer in die huis ook vir hom/haar makliker wanneer jy hom komplimenteer oor die goed wat hy reg doen. Spreek jou waardering uit wanneer hy positief reageer op jou optredes.

 

Wanneer hy dinge doen wat jy vra, al is dit op aanvraag, (as so kan stel) dan beteken tog nog hy wil jou te vrede stel. Party ouens is nou maar een maal net nie kreatief nie en daarom moet jy maar vra wat jy wil hê.  Mense kan natuurlik ook nie gedagtes lees nie. Hulle sal nie weet wat jy wil hê as jy nie sê nie.

 

Een ou erken: “Ek is nie goed met die opmerk van subtiele suggesties nie.  Ek het nie ‘n ‘clue’ wat sy wil hê nie.”  Jy moet dus self ook gaan sit en mooi dink, wat is dit wat jy wil hê en dit aan jou maat oordra as ‘n versoek en nie ‘n verwyt nie.

 

Dit is ook so dat die Bybel in Maleagi 2:14 sê dat jou vrou of jou man jou metgesel is.  Dit beteken ons is mekaar se beste maats. Ons moet onsself afvra: “Wat sal my beste maat gelukkig maak? Wat sal hom laat voel dat ek hom bewonder? Wat sal haar laat voel dat ek haar liefhet? Wat sal haar sekuriteit gee? Wat sal hom laat voel hy het tuisgekom?”

 

Leave a Reply