Musiek vir jou Kerskous
Daar is ‘n magdom nuwe vrystellings waarmee jy verskeie Kerskouse vanjaar kan volmaak.
Kyk uit vir Kurt Darren se nuutste Uit die diepte van my hart. Dis klassieke Kurt op sy polsende beste. Luister beslis na “Papsopwinterwaternat”! “Af en Af” blyk ook ‘n gunsteling te wees.
Ray Dylan spog ook met die nuwe CD: Breek die ys. Ons het jou uitgevang, Ray… die intro vir “7Dae 7Nagte” is so wraggies Creedence Clearwater Revival se “Fortunate Son”. Maar jy is oulik, hoor.
Arno Jornaan (Gee my), Wynand Strydom (Vasgevang in my) en Gerhard Steyn (Breekbaar) is ook baie goeie keuses. Natuurlik is Lianie May se Kers-album (Kersfees met Lianie) ook op die rakke… hardloop, NOU, en kry jou kopie.
Daar is sekere kunstenaars wat mens net nie probeer nadoen nie. Dink aan Freddie Mercury, Mark Knopfler, Scott Stapp… en dan die nimlike diepstem Roger Whittaker. Dink aan “Annie’s Song”, “Durham Town” en “Don’t believe in if”. Tog het Mathys Roets hierdie Groot Stem interpreteer en nou ‘n CD die lig laat sien, getiteld: Master of Song: The very best of Roger Whittaker. Seker een van die min plaaslike kunstenaars wat dit kan doen, en Mathys doen dit uiters goed. Wel gedaan.
Die beste saamgestelde CD’s, wat die internasionale mark aanbetref, bly onomwonde 702 Solid Gold en ook Springbokradio Top 40.
Vier wonderlike CD’s met net die beste goue oues daarop. Wanneer laas het jy Marianne Faithful se “Ballad of Lucy Jordan” besit? Seker op ‘n langspeler? Tensy jy gelukkig is om die baie skaars klankbaan van Thelma & Louise te hê. Moes myne al die pad van die Amazon af kry.
Die groep Rascal Flatts is iets om beslis oor opgewonde te raak. Die nuwe gesig van country, en wat ‘n mooi gesig is dit nie. Hulle het ook al weggestap met ‘n hele paar Grammy-toekennings. Dis gelukkig nie die dooie perd-cowboy se vrou het hom gelos-country nie. Hulle kry ‘n groot klap op die boud van my af. Maak jou (saal)sakke vol met hulle jongste CD, Still feels good . Yeee Haaaaa!!