NUUS: 1 Desember om 11:00

Die nuus om elfuur:

***Eskom het sy aansoek vir tariefverhogings tot 35 persent per jaar oor die volgende drie jaar verlaag.
Die nasionale elektrisiteitsvoorsiener het vroeër 45 persent gesoek.
‘n senior beampte van die Nasionale Energiereguleerder het bevestig dat Eskom sy tariefaansoek tot 35 persent verlaag het.
Die ANC en vakbonde het Eskom se vroeëre aansoek gekritiseer.

***Die uitvoerende direkteur van die VN-liggaam, UNAIDS,
Michel Sidibe, het die Suid-Afrikaanse regering geloof vir sy vasbeslotenheid om die stryd teen MIV/Vigs te verskerp.
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beraam dat daar vyf-komma-sewe miljoen mense in Suid-Afrika is wat MIV/Vigs onder lede het.
Pres. Jacob Zuma sal vandag in Pretoria as deel van Wêreld Vigsdag, die regering se veranderde beleid oor MIV/Vigs uiteensit.

***Die Verenigde State gaan 840-miljoen rand aan Suid-Afrika skenk vir die aankoop van anti-retrovirale middels vir die behandeling van Vigs.
Die skenking volg op ‘n pleidooi deur president Jacob Zuma dat geld nodig is vir sy nuwe benadering om die pandemie te beveg. Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Donald Gips sê die geld sal oor ‘n tydperk van twee jaar uitbetaal word.

*** Agt van die sestien vermeende lede van ‘n dwelmsindikaat sal vandag in die Randburgse landdroshof verskyn nadat die Valke die naweek op dwelmsmouse in Sandton en Noordwes toegeslaan het.
Die agt beskuldigdes sal na verwagting aansoek om borgtog doen.
Die ander agt wat in Noordwes in hegtenis geneem is, sal later die week en aanstaande week in die hof op Klerksdorp verskyn.
Daar is tydens die klopjagte op dwelms van sowat vier miljoen rand beslag gelê.

***Die nasionale dierebeskermingsvereniging, die DBV, het aan die beheerliggaam van sokker, FIFA, geskryf oor die voorgestelde planne om beeste by elke Wêreldbeker-sokkerstadion te slag ten einde dit te seën.
Die DBV se eenheidsbestuurder oor plaasdiere, Del Jones, sê hulle het aan elkeen geskryf wat hulle dink ‘n rol speel.
Die DBV het gevra dat hulle by die besluitnemingsproses betrek moet word aangesien die voorkoming van dieremishandeling deel van hulle pligte is.

***Vier gevangenes is dood toe ‘n muur van ‘n tronksel op hulle geval het tydens ‘n mislukte ontsnappingspoging uit ‘n tronk in Kinshasa, die hoofstad van die Demokratiese Republiek van die Kongo.
Die tronkowerheid het ontken dat hulle weens versmoring in die oorvol sel dood is.
Tronke in die DRK is dikwels oorvol en tot sowat ‘n honderd gevangenes word in ‘n sel aangehou wat vir slegs 30 bedoel is.

***Die owerhede in Sri Lanka sê hulle het die groot vlugtelingskampe in die noorde van die land oopgestel.
Dit sal die eerste keer bewegingsvryheid aan Tamils verleen wat reeds vroeër vanjaar gedwing is om in die kampe te woon.
Die regering van Sri Lanka sê die kampbewoners kan nou die kampe verlaat nadat hulle hul besonderhede aan die owerheid gegee het.

*** Die Amerikaanse gholfspeler Tiger Woods wat vroeër vandeesweek glo deur sy vrou met ‘n gholfstok toegetakel is oor sy beweerde affair met ‘n gesellin, sal weens sy beserings nie
aan die Chevron wêreld uitdaagtoernooi kan deelneem nie.
Woods het verlede jaar ook die toernooi misgeloop toe hy herstel het van ‘n knieoperasie.
Woods wat tydens die huismoles ‘n ongeluk met sy voertuig gemaak het, wou tot dusver nie met die polisie oor die voorval praat nie.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 36 ‘n Britse pond 12 rand 13 en ‘n Euro 11 rand 8 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,188 dollar 77 sent per fynons verhandel en platinum
teen eenduisend-469 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 78 dollar 84 sent per vat.

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.

Leave a Reply