NUUS: 1 Februarie 2010 om 11:00

Die Nuus om Elf

………………………………………………………………………………..
…..

***  Vrystaat Landbou vergader vandag in Bloemfontein met verteenwoordigers van staatsdepartemente en ander rolspelers oor noodhulpmaatreëls vir boere wat weens oorstromings groot skade gely het.

Die hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, Henk Vermeulen, sê miljoene rand se skade is aangerig en die regering sal bystand moet verleen.

Distrikte wat erg geraak is deur die vloede is Cornelia, Villiers,
Frankfort, Tweeling, Reitz, Petrus Steyn, Daniëlsrus, Heilbron, Koppies,
Parys, Oranjeville, Kroonstad, Sasolburg, Wesselsbron en Bothaville.

***  Reddingspanne soek nog na ‘n man wat vermis word nadat hy in die vroeë oggendure by Deneysville vanaf ‘n brug in die vol Vaalrivier gespring het.

Nooddienstewoordvoerder Werner Vermaak sê nog ‘n man wat saam met hom gespring het, het aan ‘n boom vasgeklou en is deur paramedici gered.

Dit is nie bekend waarom die mans, wat albei in hulle dertigerjare is, in
die water gespring het nie, maar hulle het mekaar glo uitgedaag om dit te
doen.

***  Drie politieke partye, die Demokratiese Alliansie, die PAC en die
Onafhanklike Demokrate, het hulle ontevredenheid uitgespreek oor die magte
van die president om kwytskeldings toe te staan.

Dit kom te midde van gerugte dat die bedrieër, Schabir Shaik, en die
voormalige Vlakplaasbevelvoerder, Eugene de Kock, onder diegene is wat vir
presidensiële kwytskelding oorweeg word.

***  Die leier van die OD, Patricia de Lille, het reeds ‘n memorandum aan
die Parlement voorgelê in ‘n poging om wetgewing deurgevoer te kry wat die
presidensiële magte sal wegneem.

Die PAC sê kwytskelding aan gevangenes moet deur ‘n kwytskeldingskomitee, en
nie die president nie, oorweeg word.

Volgens die DA is die mag wat ingevolge die Grondwet aan die president gegee
is, nie onbeperk nie.

***  Minstens sewe mense is dood en nog 27 word vermis nadat ‘n seilboot
tydens ‘n storm aan die kus van die Aru-eilande, oos van Indonesië, gesink
het.

Volgens amptenare was daar 35 bemanningslede en passasiers aan boord en een
persoon is kort ná die ongeluk deur vissermanne gered.

Die boot se kaptein het glo ‘n stormwaarskuwing verontagsaam.

Reddingspanne fynkam nog die gebied vir moontlike oorlewendes.

***  Die Britse egpaar wat in Oktober verlede jaar deur Somaliese seerowers
ontvoer is, het in ‘n video-opname om hulp gevra omdat hulle nie deur hulle
ontvoerders goed behandel word nie.

Die 59-jarige Paul Chandler en sy 55-jarige vrou, Rachel, word afsonderlik
aangehou.

In die video wat deur Sky News in die hande gekry is, smeek ‘n maer en
verwaarloosde Rachel om hulp.

Hulle is op 23 Oktober 2009 van hulle seiljag ontvoer.

***  Die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Gerald Majola, het
berigte ontken dat daar van Mickey Arthur as afrigter van die
Suid-Afrikaanse krieketspan ontslae geraak is om vir ‘n swart afrigter plek
te maak.

Hy sê dit is ook snert dat hy glo baie ongelukkig was omdat Makhaya Ntini
vir die laaste twee toetse teen Engeland uit die span gelaat is.

Majola sê die aanstelling van die nuwe afrigter, asook ‘n nuwe struktuur wat
vir Suid-Afrikaanse krieket beplan word en die wyse waarop die nuwe
keurkomitee saamgestel sal word, sal op 19 Februarie bespreek word.

***  ‘n 37-Jarige toeskouer is van aanranding aangekla nadat hy gister in
die vyfde en laaste eendagwedstryd tussen Australië en Pakistan in Perth op
die veld gehardloop en een van die Pakistanse veldwerkers, Khalid Latif, van
agter af platgeduik het.

Hy sal op 16 Februarie in die hof verskyn.

Die uitvoerende hoof van die Wes-Australiese krieketvereniging, Graeme Wood,
sê die man, wat deur ‘n boete van 500 dollar in die gesig gestaar word, is
ook verbied om ooit weer wedstryde by die veld by te woon.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 59 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 10 sent teenoor die pond en op 10 rand 54 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,082 dollar per fynons en platinum teen
1,516 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 71 dollar 59 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply