NUUS: 1 Maart 2010 om 11:00

Die Nuus om Elf

………………………………………………………………………………..
…..

***  Die nuwe voorsitter van die Afrikanerbond, Pieter Vorster - ‘n
prokureur van Bloemfontein - sê Afrikaners word tans soos toeskouers en tweedeklas burgers in hulle eie land behandel.

Hy het ná sy verkiesing in Johannesburg gesê hoe gouer die regering en die ANC besef dat Afrikaners en ander minderhede integraal deel is van Suid-Afrika, hoe gouer kan daar gekyk word na oplossings vir die land se probleme.

Hy het dit benadruk dat die meerderheid Afrikaners in Suid-Afrika en ook die duisende wat reeds die land verlaat het, wil help in die soeke na oplossings.

Hy sê Afrikaners is gereed om met erns en oortuiging hulle kundigheid en ervaring beskikbaar te stel.

***  Vorster sê die regering moet besef dat Suid-Afrika ‘n land met ‘n
diverse veelheid van mense met ‘n diverse geskiedenis is - waarvan nie almal ANC-ondersteuners is nie.

‘n Drastiese politieke wil is nodig om die kundigheid en ervaring wat wel beskikbaar is, aan te wend.

***  Die Jackie Selebi-korrupsieverhoor sal na verwagting vandag in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg hervat word.

Die verhoor is drie maande lank vertraag ná pogings deur die ministerie van Staatsveiligheid om te keer dat die voormalige intelligensiehoof, Barry Gilder, getuig.

Die Konstitusionele Hof het egter teen die ministerie uitspraak gelewer. 

***  Tien mense is beseer in ‘n botsing tussen twee minibus-taxi’s en ‘n motor op die N2 naby Isipingo in KwaZulu-Natal.

Volgens ‘n nooddienste-woordvoerder het die ongeluk plaasgevind toe die bestuurder van een van die taxi’s skielik gestop het om passasiers af te laai.

 
*** Die polisie hou die situasie dop in Thembelihle naby Lenasia, suid van Johannesburg, waar betogers vroeg vanoggend paaie met bakstene en brandende bande versper en eiendom beskadig het.

Volgens die polisie het betogers gister ook elektrisiteits-toevoerpunte in die gebied verwoes.

Metrospoor het ook sy dienste tussen Vereeniging na Johannesburg opgeskort nadat die betogers ‘n goederetrein aan die brand gesteek het.

***  ‘n Nasionale ramp is in Frankryk afgekondig nadat hewige storms in groot dele van die land verwoesting gesaai het.

Aan die Franse Atlantiese kus is 45 mense in die naweek se storms dood, terwyl sowat ‘n dosyn nog vermis word en byna 60 mense beseer is.

Eerste minister Francois Fillon sê geld sal beskikbaar gestel word om
verwoeste gemeenskappe weer op te bou.

Voorrang sal egter gegee word aan mense wat dakloos gelaat is en wat nog deur stygende vloedwater bedreig word.

Ongeveer ‘n miljoen huise is ook sonder elektrisiteit.

Fillon sê vloedvoorkomingsdyke sal ook versterk word.

***  Die stormweertoestande wat ook Portugal en Spanje geteister het, het intussen na Duitsland, België en Nederland uitgebrei.

Vloedwaarskuwings is ook nog van krag in Engeland, Wallis en Skotland waar swaar reën die naweek op plekke uitgesak het.

Treindienste na en van Londen is ook weens oorstromings ontwrig.

***  Sjina gaan ‘n miljoen dollar aan Chili skenk om met noodleningspogings
te help ná Saterdag se verwoestende aardbewing waarin meer as 700 mense dood
is.

President Hu Jintao het ook ‘n boodskap van meegevoel aan sy Chileense
ampsgenoot, Michelle Bachelet, gestuur.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 66 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 60 sent teenoor die pond en op 10 rand 44 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,121 dollar per fynons en platinum teen
1,547 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar 7 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply