NUUS: 10 Desember om 07:00
***Drie vermeende voertuigkapers is gister in hegtenis geneem en ‘n vierde verdagte gewond toe ‘n skietery tussen hulle en die polisie op Atteridgeville, in die weste van Pretoria, uitgebreek het.
Die mans het op die polisie begin skiet toe hulle die gekaapte motor genader het. Die polisie het na die mans se arrestasie op verskeie gesteelde vuurwapens en ammunisie afgekom.
Die luukse motor waarin hulle gery het, is verlede maand gekaap.
***Die kragvoorsiener, Eskom, het beraam dat daar tot tienduisend onwettige kragverbindings in ‘n enkele plakkerskamp kan wees.
Eskom se David Zola, sê pogings om dié verbindings te ontkoppel is nutteloos, omdat dit dikwels dieselfde dag weer gekoppel word. Zola het in Kaapstad gepraat na ‘n besoek aan woonbuurtes waar onwettige elektrisiteitsverbindings ‘n algemene gesig is.
***Vyf mense is in verband met die diefstal van goedere ter waarde van 300-duisend rand in hegtenis geneem nadat daar valslik voorgegee is dat ‘n vragmotor by Bronkhorstspruit oos van Pretoria gekaap is.
Die bestuurder van die vragmotor en sy assistent het na bewering die vrag wat goed soos kerse, waspoeier en melkpoeier insluit aan ‘n supermark in Dunswart aan die Oos-Rand verkwansel.
Die polisie het nadat die twee mans erkentenisse gemaak het, twee bestuurders en ‘n werknemer van die supermark gearresteer.
***Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het gister by ‘n menslike ketting aangesluit wat om die gebou van die provinsiale wetgewer in Kaapstad gestrek het.
Die doel van die ketting is om mense bewus te maak van die beraad oor
klimaatsverandering wat tans in Kopenhagen plaasvind.
Zille en haar kabinet het ‘n beroep op organisasies en regerings by die beraad gedoen om die nodige besluite te neem om kweekhuis-gasse te beperk en grootskaalse klimaatverandering te voorkom.
***Polisie in die Oos-Kaap sê ‘n vermeende skoendief is deur woedende inwoners van Mthatha se Chris Hani-park woonbuurt doodgeslaan.
Die 20-jarige man, wat erg aangerand is, is in die hospitaal dood.
Nog niemand is in verband met die vigilante voorval aangekeer nie.
***Die regering oorweeg dit om staatsveeartse in Kuba te werf om die nypende tekort aan plaaslike staatsveeartse te verlig.
Die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Petterson, sê daar is 85 vakante poste vir veeartse in haar
departement.
Sy het gesê die eerste aanstellings uit Kuba sal waarskynlik vroeg aanstaande jaar plaasvind.
***’n Woordvoerder van die Europese Unie se anti-kapingsmag sê Somaliese seerowers het ‘n Pakistanse vissersvaartuig in die Indiese Oseaan gekaap.
Kommandeur John Harbour sê die gekaapte skip het ‘n bemanning van 29.
Die seerowers het tot dusver geen eise aan die skip se eienaar gestel nie.
***’n Rooms Katolieke priester en ‘n non is in afsonderlike voorvalle in die
oostelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo vermoor.
Die twee is naby Bukavu in die oostelike Sud-Kivu provinsie doodgemaak.
Die aartsbiskop van Kinshasa, Laurent Pasinya, het die moorde op die priester en non veroordeel en bygevoeg dat die moordenaars blykbaar doelbewus die Rooms Katolieke Kerk geteiken het.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 56 teenoor die dollar, op 12 rand 32 teenoor die pond en op 11 rand 14 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen 1,129 dollar 5 per fynons verhandel en platinum teen
eenduisend-415 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 55 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.