NUUS: 10 November om 08:00
Dinsdag 10 November 2009
Die Nuus om Agt
*** Die vakbond, Solidariteit, sê hoewel die getal mynsterftes in die
eerste tien maande van die jaar minder was vergeleke by dieselfde tydperk
verlede jaar, is die verhouding van die getal noodlottige ongelukke vanjaar
hoër.
Intussen lê die sogenaamde komkommertyd, waarin mynongelukke normaalweg gedurende die laaste twee maande van die jaar skerp toeneem, ook nog voor.
Woordvoerder Jaco Kleynhans sê in die eerste tien maande was daar byna
twee-duisend-700 mynongelukke waarin 143 mynwerkers gesterf het.
Hy meen dat Suid-Afrikaanse myne geensins tevrede kan wees met die huidige vlak van mynsterftes nie.
*** Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het gelas dat ’n bekende
branderry-tydskrif tien-duisend rand aan Angela Wells betaal nadat ’n
uitlokkende foto van haar 12-jarige dogter geplaas is.
Regter Dennis Davis het gister in Wells se guns uitspraak gelewer nadat sy
’n eis van 500-duisend rand teen die tydskrif Zigzag se eienaar, Atoll
Media, en die redakteur, Will Bendix, ingestel het.
Die regter het bevind dat die foto van Wells se minderjarige dogter,
Taryn, as ’n prikkelpop-plakkaat bedoel was.
Volgens hom is die foto sonder toestemming of inagneming van die moontlike implikasies gepubliseer.
*** Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het sy kommer uitgespreek oor die humanitêre krisis in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo.
Volgens die Oostenrykse ambassadeur by die VN, Thomas Mayr-Harting, is die raad bekommerd oor die gevolge wat die militêre bedrywighede op burgerlikes in die streek het.
Die raad het ook sy steun toegesê aan ‘n besluit van die VN-mag in die DRK
om nie met eenhede van die DRK se weermag wat by menseregtevergrype
geïmpliseer word, saam te werk nie.
*** Nasionale krieketafrigter Mickey Arthur sê sy span sal baie meer
ongenaakbaar wees wanneer hulle vanmiddag en vanaand in Centurion in die tweede opwarmings-eendagwedstryd teen Zimbabwe te staan kom.
Suid-Afrika het Zimbabwe in Sondag se eerste kragmeting in Benoni met 45
lopies geklop, maar die boulers het gesukkel en kon nie die Zimbabwiese
kolwers uitboul nadat die telling 94 vir vyf was nie.
Jacques Kallis en JP Duminy, wat Sondag se kragmeting weens beserings
misgeloop het, sal vandag speel.
*** Die Internasionale Rugbyraad het bekendgemaak dat vier lande belangstel om 2014 se Wêreldbekertoernooi vir vroue aan te bied. Hulle is Kazakstan, Nieu-Seeland, Samoa en Amerika.
Die Rugby Wêreldbekermaatskappy sal die tenders evalueer voordat die
gasheerland in Mei aanstaande jaar deur die IRR aangewys sal word.
Aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi vind in Engeland plaas.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 47 sent teenoor die pond en op 11 rand 15 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,102 dollar per fynons en platinum teen 1,356 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 38 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.