NUUS: 10 November om 11:00
Dinsdag 10 November 2009
Die Nuus om Elf
*** AfriForum se regspan gaan vandag die minister van Polisie, Nathi Mthethwa, skriftelik versoek om redes te verskaf vir die besluit om BBP-beskerming tot beskikking van die ANC-jeugleier, Julius Malema, te stel.
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, sê belastingbetalers het die reg om te weet waarom Malema toegang tot staatsgefinansierde BBP-beskerming kry. Hy is nie eens ʼn openbare ampsbekleder nie.
*** Spies sê verlede jaar is die BBP-beskerming van Cope se leier, Mosiuoa Lekota, onmiddellik opgeskort toe hy as minister en LP bedank het.
Verder is die deursnee Suid-Afrikaner daagliks sonder enige beskerming en in lewens-gevaar weens die hoë voorkoms van geweldsmisdade by hulle woon- en werkplekke.
Sodra die redes vir die Malema-besluit ontvang is, sal AfriForum besluit oor
moontlike geregtelike hersiening van die besluit.
*** Die vakbond Solidariteit gaan Donderdag ’n reeks hofgedinge teen die regering bekendmaak om die regering en maatskappye terug te dwing in die situasie waarin regstellende aksie binne die raamwerk van bestaande wette toegepas word.
Solidariteit se uitvoerende adjunk-hoof, Dirk Hermann, sê dit sal die grootste aanslag tot nog toe teen regstellende aksie in die land wees. Volgens hom is dienslewering die hoofdoel van die gedinge.
Hermann sê die vinger word toenemend gewys na mense wat weens regstellende aksie in uitvoerende poste aangestel is, maar nie bekwaam is om die werk te doen nie. Besonderhede oor die gedinge sal Donderdag op ‘n nuuskonferensie bekendgemaak word.
*** Die regering se plan vir ’n nasionale aftreefonds waartoe Suid-Afrikaners ’n verpligte bydrae moet lewer, vorm steeds die kern van ’n reeks ingrypende hervormings om ’n omvattende stelsel van bestaansekerheid vir almal te skep.
Die direkteur-generaal van Maatskaplike Ontwikkeling, Vusi Madonsela, het tydens ’n parlementêre inligtingsessie gesê die doel daarvan is om mense te dwing om vir aftrede te spaar.
Madonsela sê die staat beplan ook om sy ouderdomspensioen na alle bejaardes uit te brei om armoede te verlig.
*** Sowat ‘n honderd plaaslike kontrakteurs het verlede nag ‘n sitstaking by die Govan Mbeki-munisipale kantore in Secunda gehou. Die polisie is ontbied toe die betogers drie munisipale beamptes aangehou het.
Die kontrakteurs beskuldig die munisipaliteit daarvan dat hulle tenders aan
raadslede en kontrakteurs van ander munisipaliteite en provinsies toeken.
*** Drie buitelandse diplomatieke sendings in New York het gister briewe met wit poeier ontvang.
Die polisie sê toetse word nog gedoen of vas te stel of dit nie dalk antraks is nie, maar sowat 40 personeellede van die ambassades van Frankryk, Uzbekistan en Oostenryk – wat die briewe ontvang het – is as voorsorgmaatreël ontsmet.
In 2001 het briewe, wat antraks bevat het, tot die dood van vyf mense in Amerika veroorsaak en landswyd paniek veroorsaak.
*** Die hoof Palestynse onderhandelaar, Saeb Erakat, sê die Palestynse president Mahmud Abbas gaan beslis bedank indien daar niks van Amerika se pogings gaan kom om weer die Midde-Oosterse vredesonderhandelinge aan die gang te kry nie.
Hy sê Abbas se bedanking sal waarskynlik tot die ineenstorting van die Palestynse Owerheid lei.
Erakat het in Ramallah gesê Abbas wil die president van ‘n Palestynse staat wees en indien hy voel dat sy projek om ‘n Palestynse staat tot stand te bring, in gevaar is en dat Israel die gedagte van so ‘n staat wil vernietig, sal hy nie in sy huidige pos aanbly nie.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 39 sent teenoor die pond en op 11 rand 15 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,098 dollar per fynons en platinum teen 1,350 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar een sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.