NUUS: 11 Februarie om 11:00
Die nuus om elfuur:
*** ‘n Bejaarde egpaar is vanoggend deur hul seun dood in hul huis in Mayville, Pretoria aangetref.
Die man in sy tagtigs is vasgemaak en het op sy gesig in die sitkamer gelê.
Sy vrou, wat ook in haar tagtigs was, het in die huis se gang gelê.
Dis nie bekend of iets uit die huis gesteel is nie.
***Die hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi, sê oud-president Nelson Mandela kan trots wees oor die vordering wat Suid-Afrika gemaak het twee dekades na sy vrylating.
Vavi het met joernaliste by die Drakenstein tronk buite die Paarl gepraat waar die ANC vandag die 20ste herdenking van Mandela se vrylating herdenk.
Volgens Vavi is Suid-Afrika ‘n gerespekteerde demokrasie en spog met die beste
grondwet ter wêreld.
***Die organisasie Freedom Under Law het hom by die Balieraad aangesluit en gesê
hy is besorg oor die aanstelling van Mokotedi Mpshe as ‘n waarnemende regter in
Noordwes.
Die organisasie sê die aanstelling van ‘n staatsamptenaar as waarnemende regter, is
strydig met die verdeling van mag, soos in die Grondwet vervat.
Mpshe is die voormalige waarnemende nasionale vervolgingshoof.
***Dis is blykbaar niemand in die polisiediens om ‘n agtjarige Afrikaanse meisie,
wat seksueel gemolesteer is, se verklaring in haar moedertaal af te neem nie.
Die kind se huidige pleegma sê daar is nie ‘n Afrikaanssprekende polisievrou om na
‘n die meisie se vertelling te luister van hoe haar voormalige pleegma se tienerseun
haar glo gemolesteer het nie.
Daar is na bewering ook nie ‘n Afrikaanssprekende forensiese maatskaplike werkster
om die kind te evalueer nie.
***Minstens 250 volstruise het weens hitte uitputting in die Oudsthoorn distrik in
die Klein Karoo gevrek.
Temperature in die distrik het vandeesweek tot meer as 50 grade Celsius gestyg.
Ongeveer ‘n honderd volstruise het op een plaas gevrek.
Volstruise tussen vier en vyf maande oud is baie gevoelig vir erge hitte.
*** Die toestand in die Siyathemba woonbuurt buite Balfour in Mpumalanga is
vanoggend weer kalm nadat hernieude geweld gistermiddag opgevlam het.
Volgens die polisie is geen ernstige geweldsvoorvalle gedurende die nag aangemeld nie.
Die inwoners kla oor swak munisipale dienslewering.
Altesame 32 mense is reeds op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem
sedert die onrus Sondag uitgebreek het.
***Minstens sestien mense is dood in gevegte tussen lede van die Afrika Unie se
vredesmag en radikale Islamitiese rebelle in die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe.
Burgerlikes is getref in die daaropvolgende skietery by die presidensiële paleis toe
die vredesmagte die rebelle se mortieraanvalle wou probeer keer.
Die dodetal sal na verwagting verder styg.
***Duisende pro-regeringsondersteuners in Iran het in Teheran byeengekom vir die
31ste herdenking van die Islamitiese revolusie wat ‘n einde aan die bewind van die
Sjah gebring het.
Die saamtrek is deur president Mahmoud Ahmadinejad toegespreek.
Intussen word berig dat die Iranse opposisieleier Mehdi Karroubi besluit het om na
sy huis terug te keer nadat sy lyfwagte en ondersteuners blykbaar sonder rede deur
Iranse veiligheidsmagte in Teheran aangeval is.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 67 teenoor die
dollar, op 11 rand 97 teenoor die pond en op 10 rand 57 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen eenduisend-79 dollar 96 sent per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-517 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 74 dollar 71 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
nuus.©.