NUUS: 11 Maart om 11:00
PenOrent Nuus: Donderdag 11 Maart 2010.
Die nuus om elfuur:
***Die LUR vir finansies in Kwazulu-Natal, Ina Cronje, het bekend gemaak dat vyf munisipaliteite in die provinsie meer as sewe miljard rand in uitstaande dienstegeld en belasting geskuld word.
Sy het gesê ses miljard rand wat al langer as 90 dae uitstaande is , sal waarskynlik as slegte skuld afgeskryf moet word.
Cronje het gesê die hoe skuldvlakke van munisipaliteite maak dit al hoe moeiliker om dienslewering te verbeter.
*** ‘n Man het vanoggend verdrink toe die boot waarop hy was by Ramsgate aan die Kwazulu-Natalse Suidkus omgeslaan het.
Die man was glo deel van ‘n groep wat praktiese toetse moes doen ten einde vir ‘n kapteinslisensie te kwalifiseer.
Die boot het omgeslaan nadat dit deur ‘n hoe golf getref s.
Twee ander mans op die boot het die voorval oorleef.
*** Twee Oos-Kaapse mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo hul kinders op Libode verkrag het.
Die polisie sê ‘n 23-jarige man is gearresteer nadat hy sy tweejaar oue kind verkrag het.
In die ander voorval is ‘n 40-jarige man in hegtenis geneem in verband met die beweerde verkragting van sy nege jaar oue stiefdogter.
Die twee mans sal waarskynlik vandag in die hof verskyn.
*** Die Suid-Afrikaanse weermag blyk ‘n paradys vir sogenaamde voorheen benadeelde mense te wees.
‘n Vrou wat in 2007 as ‘n skoonmaker vir die weermag in Pretoria begin werk het, is vroeer vanjaar tot die rang van sersant bevorder sonder om enige kursusse te voltooi.
Nadat Beeld oor dié snelle bevordering van sersant Mmaluka Louisa Florence Mgcina navraag gedoen het, het die weermag gesê dat die weermaghoof, genl. Godfrey Ngwenya, ‘n raad van ondersoek na haar aanstelling gelas het.
*** Die Rwandese minister van buitelandse sake, Louise Mushikiwabo, sê druk word op die Suid-Afrikaanse regering uitgeoefen om ‘n generaal uit te lewer wat daarvan beskuldig word dat hy Rwanda probeer destabiliseer het.
Sy sê daar is baie ernstige aanklagtes teen luitenant-generaal Kayumba Nyamwasa wat hom glo in Suid-Afrika bevind.
Die minister sê daar is bewyse dat Nyamwasa by drie handgranaat aanvalle in die hoofstad Kigali betrokke was.
***Die president van die Palestynse owerheid, Mahmoed Abbas, weier om onderhandelings met Israel te voer in die lig van die twis oor nuwe huise in Oos-Jerusalem.
Israel het aangekondig dat eenduisend-600 nuwe huise vir Israelse setlaars in die oorwegend Arabiese deel van die stad gebou gaan word.
Die Palestynse hoof onderhandelaar Saeb Erakat het bevestig dat Abbas die Arabiese Liga en die Amerikaanse vise-president, Joe Biden, oor sy besluit ingelig het.
***Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemkampioen, Natalie du Toit het gisteraand in Aboe Dhabi ‘n Laureus-eerbewys in die afdeling vir gestremde atlete ontvang.
Die wêreld- en Olimpiese naelloopkampioen, Usain Bolt van Jamaika, is die tweede keer as sportman van die jaar aangewys.
Die Amerikaanse tennisster Serena Williams is die sportvrou van die jaar.
*** Drie van Suid-Afrika se voorste bergfietsryers het die wennerspodium van die Giro del Capo vol gestaan ná die tweede skof van dié padfietstoer.
Burry Stander het die skof oor 143 km in ‘n tyd van 3 uur, 21 minute en 53 sekondes gewen.
Stander is nou ook die nuwe algehele voorloper in die padfietstoer.
David George en Kevin Evans was onderskeidelik tweede en derde.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 44 teenoor die dollar, op 11 rand 14 teenoor die pond en op 10 rand 15 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen eenduisend-106 dollar 87 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-583 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 81 dollar 65 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.
Sel: 083 491 5148