NUUS: 11 November om 08:00
PenOrent Nuus: Woensdag 11 November 2009.
Die nuus om agtuur:
*** Twee mans is beseer toe hul mikrovliegtuig gistermiddag laat net na opstyging by Renosterfontein buite Pretoria geval het. Die mans van 45 en 51 het verskeie beserings opgedoen.
Die beseerde mans is deur hul vroue en lede van die gemeenskap op die ongelukstoneel gestabiliseer en na die hospitaal geneem voordat nooddienswerkers opgedaag het.
***‘n Aktrise in die gewilde TV-sepie, Sewende Laan, Clerissa Bester, is steeds in die hoësorg-eenheid van ’n Pretoriase hospitaal nadat haar kar die naweek in ’n trompop botsing met ‘n ander voertuig in Centurion betrokke was.
Bester se twee dogtertjies van onderskeidelik twee jaar en nege maande is ook in die botsing beseer.
Sy vertolk die rol van Elsabé, ’n joernalis van die Hillside Times, in die sepie.
***’n Man is gister by ‘n huis in Kew, in die noorde van Johannesburg vasgetrek nadat hy en sewe makkers ’n paneelwa met ‘n besending sigarette in Randburg probeer kaap het.
Die polisie wat op die kaping afgekom het , het een van die kapers se voertuie tot by ’n huis in Highweg in Kew gevolg waar een van die verdagtes in hegtenis geneem is.
Drie drie handwapens sowel as die sigarette is by hom gekry.
Die bende, wat hulle glo as Telkom werkers voorgedoen het, word van verskeie huisinbrake in Gauteng verdink.
*** Die afgedankte Ekurhuleni-metropolisiehoof, Robert McBride, het glo verskeie dokters tot so ver as Durban gaan spreek om vervalste mediese getuienis vir sy weergawe van gebeure tydens sy beweerde dronkbestuur voorval te kry.
‘n Voormalige kollega van McBride, Stanley Sagathevan, het gister in die Pretoriase streekhof getuig dat verskeie dokters egter nie bereid was om McBride te help lieg nie.
‘n Geneesheer dr. Joseph Moratioa staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling in verband met ’n beweerde vals mediese sertifikaat vir die oud-metropolisie
hoof.
***Die voorsitter van Atletiek Suid-Afrika Leonard Chuene en lede van ASA se uitvoerende raad kan dalk binnekort strafregtelik vervolg word as hulle bly weier om te bedank.
James Evans van Westelike Provinsie Atletiek het gister namens dié atletiek provinsie, asook Boland, OP en Vrystaat Atletiek, ’n ultimatum aan Chuene en sy bestuur gerig.
Hulle eis dat Chuene-hulle vandag teen twaalfuur vanmiddag hul bedankings indien of die gevolge dra. Die provinsies wil ook strafregtelike klagte teen die raadslede lê omdat finansiële state nie beskikbaar gestel is nie.
*** Brasilië se twee grootste stede Rio de Janeiro en Sao Paulo ondervind tans grootskaalse kragonderbrekings weens ‘n tegniese probleem by die reuse Itaipu hidro-elektriese dam op die grens met Paraguay.
Die kragonderbrekings is waarskynlik aan ‘n storm te wyte.
Verskeie ander stede in Brasilië word ook deur die kragonderbreking geraak.
***Die Spaanse polisie het op elf ton dagga beslag gelê het wat in ‘n skeepshouer met gevriesde sardientjies versteek was.
Nege Spanjaarde is in verband met die reuse dwelmvonds gearresteer.
Die dwelms is op ‘n industriële perseel in die kusdorpie Santa Pola ontdek.
Spanje is ‘n gewilde deurgangsroete vir dwelms na Europa.
*** ‘n Vlieënier van die Amerikaanse lugdiens, United Airlines, is aangekla nadat hy vroeër vandeesweek glo onder die invloed van alkohol was terwyl hy aan diens was.
‘n Kollega van die 51-jarige Erwin Vermont Washington het kort voor die vlug van Londen na Chicago onraad bemerk en die polisie op die Heathrow lughawe ontbied.
Die vlieënier sal op 20 November in die hof verskyn.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 38 teenoor die dollar, op 12 rand 34 teenoor die pond en op 11 rand 6 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen 1,109 dollar 9 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-359 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 30 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.