NUUS: 11 November om 11:00

PenOrent Nuus: Woensdag 11 November 2009.

 

Die nuus om elfuur:

 

*** Minstens 37 kinders ontvang hospitaalbehandeling nadat die bus waarin hulle gery het op Papalong buite Matatiele in die Oos-Kaap die pad verlaat en omgeslaan het.

Volgens die skoolleerlinge het die busbestuurder te vinnig gery en in ‘n draai beheer oor die voertuig verloor. Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose bestuur.

 

*** ‘n Polisievrou is vanoggend vroeg dood nadat sy in ‘n motorongeluk in Sinoville in Pretoria betrokke was.

Netcare 911 woordvoerder Chris Botha sê die ongeluk het gebeur toe die polisievoertuig by ‘n kruising teen ‘n ander motor gebots  en daarna omgeslaan het.
Twee ander poliselede in die voertuig is ernstig beseer.

 

*** ‘n Vyfde staatsgetuie sal na verwagting vandag getuig in die korrupsie-verhoor van die  voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi. Die hooggeregshof in Johannesburg  het gister gehoor dat Selebi se tjekrekening met 552-duisend rand gegroei het  oor die jare wat hy met die dwelmsmous, Glen Agliotti bevriend was

 ‘n Oudit deur die ouditeursfirma, KPMG, toon dat Selebi  in ‘n stadium meer geld bestee het as wat in sy rekening inbetaal is.

 

***Suid-Afrikaners sal ingevolge ‘n nuwe vuurwapen amnestie aanstaande jaar vier maande tyd hê om onwettige vuurwapens by hulle plaaslike polisiekantore in te handig.

Die amnestie sal strek van 11 Januarie tot 11 April.

Vuurwapens, ongeag of dit wettig of onwettig is, kan sonder vrees vir vervolging by enige polisiestasie ingehandig word.

*** Die Suid-Afrikaanse sakeman Barry Tannenbaum, wat tans in Australië woon, en deur die polisie in verband met ‘n onwettige piramiedeskema van sowat twaalf-komma-vyf miljard rand gesoek word, het uit sy huis in Sydney gevlug.

Tannenbaum se prokureur in Johannesburg, Darryl Ackerman sê sy kliënt het getrek na wat hy as ‘n veiliger plek beskou.  Die Suid-Afrikaanse owerheid het verlede maand  ‘n lasbrief vir Tannenbaum se arrestasie uitgereik.

 

***Die Algemene vergadering van die Verenigde Nasies  het 18 Julie tot Mandela-dag verklaar uit erkenning vir die groot rol wat oud-pres. Nelson Mandela gespeel het in die veldtog om vryheid in die wêreld te bevorder.

Die resolusie om Mandela op die wyse te vereer is deur die Suid-Afrikaanse ambassadeur by die VN, Baso Sangqu aangevoor.

Hy het Mandela as ‘n ikoon en simbool van hoop  beskryf.

 

***Die hoogverraad-verhoor van die tesourier van die MDC party  in Zimbabwe, Roy Bennet, word vandag in die  hooggeregshof in Harare hervat nadat dit Maandag uitgestel is.

Die Zimbabwiese prokureur-generaal, Johannes Tomana, wat die vervolging lei, sê die verdediging se voorleggings is ‘n dag te laat ingedien.

Bennet word daarvan beskuldig dat hy saamgesweer het om pres. Robert Mugabe se bewind met geweld omver te  werp.

 

 *** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 37 teenoor die dollar, op 12 rand 33 teenoor die pond en op 11 rand 7 teenoor die euro.

Goud het kort gelede teen 1,113 dollar 85 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-369 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 52 sent per vat.

 
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.

Leave a Reply