NUUS: 12 April 2010 om 11:00

Die Nuus om Elf

………………………………………………………………………………..
…..

***  Die prokureur van die 15-jarige verdagte in die Eugene
Terre’Blanche-moordsaak het bevestig dat die minderjarige kind nie deur
Terre’Blanche seksueel gemolesteer of mishandel is nie.

Dit ná berigte die naweek dat die verdagtes glo hulleself verdedig het teen
beweerde seksuele toenadering.

Volgens die SAUK het die jeugdige se prokureur, Zola Majavu, vanoggend gesê
ingevolge die nuwe Kinderwet is daar streng beperkinge op die bekendmaking
van inligting, maar hy kan egter bevestig dat die kind aangedui het dat hy
nie seksueel aangerand of gemolesteer is nie.

***  Die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, sal na verwagting
vandag in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg hoor of hy
kwytskelding gaan kry op aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die
­gereg.

Selebi se regspan het die hof gevra om die aanklagte teen hom te laat vaar,
omdat die staat se hoofgetuie, die dwelmbaas Glenn Agliotti, uiters swak
was.

Die staat het egter aangevoer dat teenstrydighede in Agliotti se getuienis
nie ‘n kwytskelding regverdig nie en dat daar oorgenoeg bewyse is om met die
saak voort te gaan.

***  Die Regterlike Dienskommissie (RDK) begin vandag in Kaapstad met
onderhoude met 50 aspirant-regters vir 27 vakante poste op die regbank.

Onderhoude in die onlangse verlede is dikwels gekenmerk deur aggressiewe
ondervraging van aansoekers met apartheidsbagasie.

Die hoofsweep van die Inkatha Vryheidsparty, Koos van der Merwe, het aan Die
Burger gesê sommige mense stel nie meer belang om aansoek om regterposte te
doen nie, want hulle voel soos beskuldigdes in ’n beskuldigdebank.

Hy sê mense moet op grond van die meriete van hulle werk beoordeel word.

Advokaat Hennie de Vos van Pretoria is verlede jaar deur die RDK versoek om
verskoning te vra vir die tyd tussen 1982 en 1987 toe hy ’n lid van die
destydse Konserwatiewe Party was.

***  Verkeer op die N4 tussen Nelspruit en Komatipoort in Mpumalanga is
vanoggend erg ontwrig nadat ‘n vragmotor naby die Matsulu-afrit omgeslaan
het.

Die pad was byna heeltemal versper waar die vragmotor, wat dekgras vervoer
het, omgeslaan het.

***  Betogers teen die regering in Thailand het belowe om voort te gaan met
hulle pogings om die regering van eerste minister Abhisit Vejjajiva omver te
werp.

Die betogers, bekend as die Red Shirts, sê die tyd vir onderhandelings is
verby ná die ergste politieke onrus in 18 jaar.

In die hoofstad, Bangkok, is 21 mense die naweek in straatgevegte tussen
veiligheidsmaglede en betogers dood, terwyl meer as 800 beseer is.

***  Die Wêreldbank sê voortgesette ekonomiese groei in die besette Wesoewer
sal afhang van verdere stappe deur Israel om beperkings op beweging op te
hef.

Die bank sê op die vooraand van ‘n skenkerskonferensie in Madrid, Spanje,
die finansiële posisie van die Palestynse Owerheid bly haglik en ondanks
tekens van ekonomiese groei in die Wesoewer, is die volhoubaarheid daarvan
twyfelagtig.

Die Wêreldbank het aanbeveel dat verligting van die ekonomiese beperkings op
die Wesoewer en die opheffing van die blokkade van die Gazastrook ‘n top
prioriteit van die regering moet bly.

***  Rugbynuus is dat die Waikato Chiefs se losvoorspeler Jarrad Hoeata twee
weke lank geskors is omdat hy ‘n teenstander in Saterdag se Super
14-wedstryd teen die Bulls in Hamilton met die vuis geslaan het.

Hoeata het vandag in Wellington voor ‘n Sanzar-regsbeampte verskyn nadat hy
uitgewys is omdat hy die Bulls se plaasvervanger-slot, Flip van der Merwe,
geslaan het.

Die Bulls het die kragmeting met 33-19 gewen.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 26 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 21 sent teenoor die pond en op 9 rand 88 sent teenoor die
euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,164 dollar per fynons en platinum teen
1,727 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 86 dollar 24 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©

Leave a Reply