NUUS: 12 Februarie om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Die Congress of the People se jeugbeweging het president Jacob Zuma as ‘n oortuigde leuenaar bestempel nadat hy in sy staatsrede in die Parlement aangekondig het dat die regering verlede jaar 480-duisend werksgeleenthede geskep het.
Die jeugvleuel sê in ‘n verklaring dit is gewoon nie waar nie en die
president het ‘n onewewigtige, skandelike toespraak met gefabriseerde feite
aangebied.
*** In die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sal die slotbetoë ter
strafversagting vandag aangehoor word voordat die veroordeelde
seksoortreder, Cezanne Visser, gevonnis word.
Visser is in Oktober verlede jaar op 11 van die 14 aanklagte teen haar
skuldig bevind.
Onder die aanklagte was die besit en vervaardiging van kinderpornografie en die onsedelike aanranding van minderjarige meisies.
‘n Forensiese kriminoloog het vroeër die week aanbeveel dat Visser onder
korrektiewe toesig geplaas word.
*** Nog tien gevalle van masels is die afgelope twee weke in die Oos-Kaap
aangemeld.
Volgens die Herald Online bring dit die getal bevestigde gevalle van die
siekte op 190 te staan.
Die woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, Sizwe Kupelo, sê die toestand is nog nie buite beheer nie en die publiek hoef nie paniekerig te wees nie.
Hy sê hoewel ‘n tekort aan mannekrag ondervind word, het die provinsie die
vermoë en genoeg voorrade om met die uitbreking te handel.
*** Die hoof van die Verenigde Nasies se program wat bedreigde spesies
beskerm, het Zimbabwiese veiligheidsmagte van wildstropery beskuldig.
Die sekretaris-generaal van die VN-konvensie van Internasionale Handel in
Bedreigde Spesies, Willem Wijnstekers, het op ‘n nuuskonferensie in Harare
gesê veiligheids-magte het die afgelope 20 jaar ongeveer 200 renosters in
Zimbabwe doodgemaak.
Hy sê dit het daartoe gelei dat die renosterbevolking in die land feitlik
uitgewis is.
Volgens Wijnstekers is olifante ook doodgemaak, maar hy het geen getalle
genoem nie.
*** Rugby: Die eerste Super 14-wedstryd van die seisoen tussen die Blues
en die Hurricanes in Albany, Auckland, is deur die Hurricanes gewen.
Die telling was 34-20 nadat die Blues met rustyd met 20-12 voorgeloop het.
Die Blues het twee drieë teenoor die een van die Hurricanes gedruk en 27 van die Hurricanes se punte is deur middel van strafdoele aangeteken.
*** Die nuwe Super 14-seisoen het nie goed vir die Brumbies begin nie.
Die span wat vanmiddag teen die Western Force te staan kom, is deur sowat 30 polisiemanne ingewag toe hulle op die lughawe van Perth aangekom het.
Dit het gevolg nadat daar glo ‘n voorval aan boord van hulle vliegtuig was
op die vier uur lange vlug vanaf Sydney na Perth.
Die vlieënier het blykbaar gekla het dat van die spelers opgestaan het
terwyl die liggie wat aandui dat passasiers hulle sitplekgordels moet
aanhou, steeds aan was.
Die Brumbies se afrigter, Andy Friend, het erken dat daar ‘n voorval was,
maar meen dit was oordrewe om 30 polisiemanne op te kommandeer.
*** Krieket: Die jongste beskikbare telling in die derde eendagwedstryd
tussen Australië en die Wes-Indiese Eilande in Sydney, is ses sonder verlies
in die Wes-Indies se beurt.
Dit was in die eerste boulbeurt.
Spel is intussen weens reën gestaak.
Australië is in sy beurt tot 225 lopies beperk met Michael Clarke wat die
hoogste telling van 46 aangeteken het.
Die Windies se snelbouler, Ravi Rampaul, het vier paaltjies vir 61 lopies
laat kantel.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 66 sent teenoor die dollar, op 12 rand 5 sent teenoor die pond en op 10 rand 45 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,089 dollar per fynons en platinum teen 1,517 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 73 dollar 63 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.