NUUS: 12 Maart om 11:00
Die Nuus om Elf
………………………………………………………………………………..
…..
*** ‘n Pretoriase skoolmeisie wat Woensdag weens oorinfeksie by die huis gebly het, is met ‘n mes doodgesteek, terwyl haar moordenaars ook haar hande afgekap en saam met hulle geneem het.
Die 17-jarige Anika Smit se pa het ná werk op haar naakte liggaam in hulle huis in Theresapark in die noorde van Pretoria afgekom.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder is sy ses keer met ‘n mes in die nek gesteek.
‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel of sy verkrag of onsedelik aangerand is.
Anika was ‘n graad 11-leerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria.
*** President Jacob Zuma het weereens vir die ANC Jeugleier, Julius Malema, in die bresse getree en gesê hy sal hom nie laat dwing om Malema stil te maak nie.
Hy het aan die Mail & Guardian gesê Malema het die reg om sake te opper en as hy gestop word, sal daar weer gesê word apartheid het teruggekeer.
Zuma sê selfs Nelson Mandela was een van die luidrugtigste jeugligaleiers.
*** Die Demokratiese Alliansie en boere in Noordwes het saamgespan om sowat 186 individuele klagtes teen Malema by die Menseregtekommissie in te dien.
Dit ná Malema se omstrede uitlatings by ‘n vergadering op die kampus van die Universiteit van Johannesburg.
Die DA se provinsiale leier, Chris Hattingh, sê Malema is bekend vir sy
onverantwoordelike, kinderlike uitlatings, maar hierdie keer het hy te ver gegaan.
Hy sê Malema se blatante aanstigting tot geweld teen boere behoort nie toegelaat te word om sonder gevolge voort te duur nie.
*** Lang rye pendelaars was vanoggend by taxi-staanplekke regoor die Groter Johannesburg-gebied gestrand weens ‘n staking deur taxi-operateurs uit protes teen die uitbreiding van die snelvervoerbusdiens.
Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie sê die staking kom in Orange Farm, Freedom Park, Eldoradopark en sekere dele van Soweto voor.
*** ‘n Regter in Rio de Janeiro het gelas dat Air France een-komma-15 miljoen dollar se vergoeding betaal aan ‘n senior staatsamptenaar wat dood is toe ‘n Airbus A330- passasiersvliegtuig met 228 passasiers verlede jaar in die Atlantiese Oseaan geval het.
Die regter het gesê die ramp, wat Brasilië se ergste lugtragedie was, is veroorsaak deur nalatigheid van Air France.
Die oorlede staatsamptenaar was ‘n voormalige pokureur-generaal in Brasilië, Marcelle Fonseca.
*** Rugby: Die Crusaders is met 18 punte bo-aan die punteleer nadat hulle hul Super 14-wedstryd teen die Chiefs in Hamilton met 26-19 gewen het.
Die Crusaders, wat rustyd met 23-16 voorgeloop het, het twee drieë gedruk
teenoor die een van die Chiefs.
Die Lions speel op die oomblik in Sydney teen die Waratahs.
*** Krieket: Die teetydtelling op die eerste dag van die eerste toets
tussen Bangladesj en Engeland in Chittagong was 243 vir twee in Engeland se
eerste beurt.
Die kaptein, Alastair Cook, is op 113 nie uit nie en Kevin Pietersen staan
op 51.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 39 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 14 sent teenoor die pond en op 10 rand 13 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,113 dollar per fynons en platinum teen
1,614 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 80 dollar 33 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.