NUUS: 12 November om 08:00

PenOrent Nuus: Donderdag 12 November 2009.

 

Die nuus om agtuur:

 

***Polisie in die Vrystaat het vyf mense in hegtenis geneem wat blykbaar lede van ‘n sindikaat is wat vervalste leerling- en bestuurderslisensies in Bloemfontein en omgewing verkoop het.

Die verdagtes, onder wie ‘n klerk by ‘n toetsentrum in Bloemfontein , is tydens klopjagte op verskeie huise in die Rosestad in hegtenis geneem.

Beslag is gele op ‘n rekenaar en ander toerusting wat gebruik is om die vervalste rybewyse te maak.

***Drie groot dorpe in die Suid-Kaap is weens die uitmergelende droogte tot rampgebiede verklaar.
Die betrokke dorpe is George, Mosselbaai en Knysna.

Die feit dat die Eden-distriksmunisipaliteit, wat die drie dorpe insluit, tot rampgebied verklaar is maak dit moontlik dat die 53 miljoen rand droogtehulp wat  deur die nasionale tesourie bewillig is, nou bestee kan word.

 

*** Die vermeende meesterbrein van die berugte Rolex-roofbende, wat ryk sakemanne in Sandton geteiken het, is veilig agter die tralies.

Kevin Ludidi is na ‘n wilde jaagtog en skietery in Sandton se strate deur die polisie vasgetrek.

Ludidi, wat tydens die jaery deur die polisie gewond is, is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal.

 

*** Die agste staatsgetuie gaan vandag in die hooggeregshof in Johannesburg in die korrupsieverhoor van die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, getuig.

Die opspraakwekkende verhoor is reeds vyf weke aan die gang.

Drie staatsgetuies, onder wie ‘n sekuriteitskonsultant,  het gister getuig.

*** Mosambiek se president  Armando Guebuza is vir ‘n tweede ampstermyn vekies nadat hy in die afgelope presidensiele verkiesing 75 persent van die stemme gekry het.

In die parlementere verkiesing het die president se Frelimo party sy meerderheid van 160 setels tot 191 setels in die parlement van 250 lede verhoog.

Die hoof opposisieparty Renamo het slegs 51 setels gewen.

 

***’n 79-jarige Ierse priester wat ‘n maand lank deur rebelle in die Filippyne gyselaar gehou is, is deur sy ontvoerders vrygelaat.

Vader Michael Sinnott   is op 11 Oktober op die Mindanao eiland ontvoer.

Die Ierse regering sê hy het nie ‘n losprys vir die priester se vrylating betaal nie.

 

***’n Griekse vragskip wat na Suid-Afrika onderweg was, is deur Somaliese seerowers gekaap.

Die skip met 24 bemanningslede is naby die Seychelle eilande  gekaap.

Die teenwoordigheid van internasionale oorlogskepe dwing seerowers om verder van die Somaliese kusgebied af te opereer.

 

*** Tennis: Die Brit Andy Murray is deur na die derde ronde van die Paryse meesterstoernooi nadat hy James Blake geklop het.

Die telling is 6-3, 6-7 en 7-6.

Murray sal in die derde ronde teen Radek Stepanek kragte meet.

 

 *** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 41 teenoor die dollar, op 12 rand 28 teenoor die pond en op 11 rand 11 teenoor die euro.

Goud het kort gelede teen 1,119 dollar 60 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-377 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 98 sent per vat.

 

………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….. 

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.

Leave a Reply