NUUS: 15 Februarie 2010 om 11:00

Die Nuus om Elf

…………………………………………………………………………………….

***  Vyf mense is dood en nog tien beseer toe ‘n taxi verlede nag tussen
Beaufort-Wes en Aberdeen gerol het.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor nadat ‘n band gebars het.

Vier vroue en ‘n baba is op slag dood.

Die taxi was van die Oos-Kaap af na Kaapstad op pad.

***  Dertien mense is vanoggend in twee taxi-ongelukke in KwaZulu-Natal beseer.

Volgens ‘n nooddienste-woordvoerder is sewe mense beseer in ‘n botsing tussen ‘n taxi en ‘n motor in Durban.

En in Pietermaritzburg is ses mense beseer toe ‘n taxi van agter teen ‘n ander taxi vasgery het.

***  Regsgenootskap van Suid-Afrika het ‘n beroep op die minister van Justisie, Jeff Radebe, gedoen om die aanstelling van Mokotedi Mpshe as waarnemende regter inNoordwes op te skort.

Die genootskap sê in ‘n verklaring dit sal die Regterlike Dienskommissie, wat in April vergader, in staat stel om die saak te oorweeg.

Die Regsgenootskap het hom by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings, die Algemene Balieraad en die organisasie, Vryheid onder die Reg, aangesluit in hulle teenkanting met die aanstelling van ‘n voormalige waarnemende hoof van die vervolgingsgesag as waarnemende regter.

***  Drie mans sal vandag in die Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn in verband
met beweerde bedrog van sowat 16-komma-agt-miljoen rand by ‘n selfoonmaatskappy. 

Die mans is Vrydagnag in Midrand aangekeer.

Die verdagtes is vermoedelik deel van ‘n sindikaat.

***  Dertien Yemeense soldate is dood toe ‘n militêre helikopter, wat gewonde
soldate vervoer het, in die berge in die noorde van Yemen neergestort het.

Vier bemanningslede en sewe gewonde soldate, wat tydens ‘n skietstilstand met
Sjiïtiese rebelle verwyder is, asook twee soldate in ‘n militêre voertuig waarteen
die helikopter vasgevlieg het, is dood.

***  Die Suidsee-eiland, Tonga, word deur die sikloon Rene geteister en skade is aan
geboue en oeste aangerig.

Geen berigte van ongevalle is tot dusver ontvang nie.

Die sikloon gaan gepaard met rukwinde van tot 230 kilometer per uur en krag- en
kommunikasieverbindings is ook ontwrig.

Ontruimingsentrums is op die eiland ingerig en regeringskantore, skole en besighede
is gesluit.

*** Afriforum het ʼn dringende versoek aan die Suid-Afrikaanse
Skeidsregtersvereniging gerig om sy besluit om die rugbyreëlboek voortaan slegs in
Engels beskikbaar te stel, te heroorweeg. 

Dit volg nadat ondersteuners en skeidsregters gekla het omdat die boekie nie meer in
Afrikaans beskikbaar is nie.

Die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Alana Bailey, sê hulle vind die
vereniging se verskoning dat daar geen behoefte vir die boekie in Afrikaans is nie,
onaanvaarbaar

en onverstaanbaar, aangesien ʼn groot persentasie rugbyspelers, skeidsregters en
ondersteuners Afrikaanssprekend is.

AfriForum het die Skeidsregtersvereniging sewe dae tyd gegee om op die versoek te
reageer. 

Indien die reaksie nie gunstig is nie, sal ander vorme van protes oorweeg word.

***  Krieket:  Die teetydtelling op dag twee van die tweede toets tussen Indië en
Suid-Afrika in Kolkata was 232 vir twee in Indië se eerste beurt.

Indië is nog net 64 lopies agter Suid-Afrika se eerstebeurttotaal van 296.

Virender Sehwag, wat met sy telling op 47 deur JP Duminy in die glippe laat val is,
het sy honderdtal van net 87 balle aangeteken.

Hy staan reeds op 125 en Sachin Tendulkar, wat sy 55ste toets-50-tal aangeteken het,
is op 65 nie uit nie.

Hulle derdepaaltjie-vennootskap beloop reeds 150 lopies.

***  Nieu-Seeland het aan die einde van die eerste dag van die enigste toets teen
Bangladesj in Hamilton 258 vir vyf in sy eerste beurt gehad.

Martin Guptill is op 80 nie uit nie en Brendon McCullum het 58 lopies.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 71 sent teenoor die dollar,
op 12 rand 7 sent teenoor die pond en op 10 rand 50 sent teenoor die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,094 dollar per fynons en platinum teen 1,513
dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 86 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply