NUUS: 15 Maart om 11:00

Die Nuus om Elf

………………………………………………………………………………..
…..

***  Sewe mense is dood en nog vyf beseer toe ‘n minibus-taxi vanoggend op die Mabopane-hoofweg naby Rosslyn buite Pretoria gerol het.

Volgens ER24-woordvoerder Werner Vermaak is drie van die beseerdes in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem.

Hy sê reddingswerkers van die Tshwane-brandweerdiens moes lewenskake gebruik om sommige van die insittendes uit die taxi te kry.

Die taxi het op sy dak op die spoorlyn langs die pad tot stilstand gekom.

***  Intussen het die dodetal in gisteraand se padongeluk naby Bothaville in die Vrystaat tot 15 gestyg nadat een van die beseerdes in die hospitaal dood is.

Polisiewoordvoerder Stephen Thakeng sê 14 mense is op slag dood toe ‘n kombi en ‘n bakkie reg van voor teen mekaar gebots het.

Nog ‘n minibus-taxi het daarna teen die twee voertuie gebots.

In die aanvanklike botsing is sewe vroue en twee mans in die taxi, asook die vier insittendes van die bakkie dood.

‘n Insittende van die tweede taxi is ook dood, terwyl altesaam 21 mense beseer is.

***  Nog ‘n boer is die naweek in Noordwes vermoor.

Die 64-jarige Frik van Deventer is Saterdagaand op sy plaas, Langwater, naby die Botswana-grens en Dorset in die Vaalwater-gebied doodgeskiet.

Provinsiale polisiewoordvoerder Ronél Otto is hy omstreeks seweuur in sy tuin geskiet waarna twee gewapende rowers die huis ingestorm en sy vrou oorval het.

Sy is vasgebind en aangerand.
Die rowers het ‘n vuurwapenkluis op die egpaar se bakkie gelaai en daarmee in die rigting van Vaalwater gevlug.

Hulle het egter die bakkie gerol en vermoedelik te voet verder gevlug.

***  Intussen is die naam ook bekendgemaak van die man wat Saterdagnag op ‘n plaas tussen Potchefstroom en Vanderbijlpark vermoedelik met ‘n haelgeweer deur sy slaapkamervenster in die rug geskiet is.

Hy is die 58-jarige Danie Nortjé wat in ‘n bestendige toestand in die
Potchefstroom-hospitaal is.

***  Duisende pendelaars was weer vanoggend gestrand weens’n staking deur taxi-operateurs in Soweto uit protes teen die uitbreiding van Johannesburg se snelbusdiens.

Mense is ook verhoed om van treine gebruik te maak om by hulle werk uit te kom.

‘n Metrobus is onder meer aan die brand gesteek en paaie is met brandende buitebande en klippe versper.

Bykomende polisielede is in die gebied ontplooi.

***  Minstens 26 mense is dood toe ‘n bus in die noordweste van Indië deur
die relings van ‘n brug gebars en in ‘n droë rivierbedding geval het.

Die polisie sê van die ander 34 insittendes wat beseer is, is tien in’n
ernstige toetstand na die hospitaal geneem.

***  Engeland se sokkerster, David Beckham, sal weens ‘n geskeurde hakspier
nie aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika kan deelneem nie.
Hy is gister gedurende die laaste paar minute van AC Milan se wedstryd teen
Chievo Verona beseer.

Hy sal vandag na Finland gaan vir ‘n operasie.

***  Krieket:  Die teetydtelling op die vierde dag van die eerste toets
tussen Bangladesj en Engeland in Chittagong was 125 vir vyf in Bangladesj se
tweede beurt.

Engeland het vroeër sy tweede beurt gesluit verklaar op 209 vir sewe en aan
die tuisspan die taak gestel om 513 lopies lopies vir ‘n oorwinning aan te
teken.

***  Tennis:  Die voormalige kampioen, Maria Sharapova van Rusland, is in
die derde ronde van die BNP Paribas Ope op Indian Wells in Kalifornië
uitgeskakel.

Sy is met 6-3, 2-6 en 6-3 deur Zheng Jie van Sjina geklop.

Die vierde gekeurde Elena Dementieva van Rusland het na die vierde ronde
deurgedring nadat sy die Belg, Kirsten Flipkens, in twee stelle geklop het.

In die mans-enkelspel het die eerste gekeurde Roger Federer van Switserland
na die derde ronde deurgedring nadat hy met 6-3, 6-7 en 6-1 teen Victor
Hanescu van Roemenië gewen het.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 41 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 23 sent teenoor die pond en op 10 rand 18 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,104 dollar per fynons en platinum teen
1,605 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 80 dollar 3 sent per vat.

……………………………………………………………………….
………………………..

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply