NUUS: 16 Maart om 11:00
# President Jacob Zuma sê hy sal nie sy organisasie teengaan as takke hom sou benoem vir ‘n tweede termyn as president van die organisasie nie. Business Day berig dat hy sê sy volgende stap word altyd deur die ANC bepaal. Zuma wou nie bespiegel waar daar reeds opvolgstryde is nie, maar mense wat hulle veldtogte in die geheim voer, gewaarsku dat dit ontdek sal word. Die party het na die naweek se vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee kommer uitgespreek oor opvolgingspraatjies wanneer Zuma se termyn in 2012 verstryk.
# ‘n Mynwerker is dood in AngloGold Ashanti se Moab Khotsong-myn naby Klerksdorp in Noordwes. Die maatskappy het in ‘n verklaring bevestig dat Handrie Khosa gesterf het toe twee treine tydens rangering ondergronds gebots het. Bestuur het meegevoel betoon met Khosa se naasbestaandes, kollegas en gemeenskap.
# Soweto se polisie het tot dusver vandag nog geen berigte ontvang van aanvalle op busse wat deel is van Johannesburg se nuwe snelvervoerstelsel nie. Pendelaars moes in lang toue wag toe taxibestuurders hulle staking teen die stelsel voortgesit het. Gister is verskeie operateurs in hegtenis geneem vir openbare geweldpleging en ‘n onwettige byeenkoms. Taxidienste sal na verwagting môre hervat word. Die stadsraad sê ondanks die toue verloop die busdiens sonder voorval.
# Noordwes se polisie het ontken dat daar ‘n gyselaarsdrama in die kantore van die Moses Kotane-munispaliteit is. Die vakbondfederasie Cosatu het gister beweer dat sowat 250 werkers ses bestuurders aanhou oor ‘n salarisooreenkoms wat verlede jaar bereik is, maar nooit in werking gestel is nie. Die polisie sê egter bestuurders en werknemers het tot middernag vergader, maar niemand is aangehou nie.
# Die owerhede in Fidji het ‘n ramptoestand afgekondig te midde van ‘n tropiese sikloon wat die eilande in die ooste teister. Sikloon Tomas het kommunikasieverbindings verbreek en duisende mense ontwortel. Die weer verhoed dat die omvang van die skade bepaal kan word.
# Sokker: Engeland se afrigter, Fabio Capello, weier om die moontlikheid uit te sluit dat David Beckham weer vir die land kan speel. Sky News berig dat die middelveldspeler aansterk na ‘n operasie om sy geskeurde Achilles-sening te heg. Hy kan tot ses maande buite aksie wees, maar Capello hoop hy sal fiks wees vir die volgende Europese Kampioenskaps-kwalifiseringsveldtog.
# Gholf: Die PGA-Toer wag nog om te hoor wanneer die wêreld se voorste speler, Tiger Woods, na die baan gaan terugkeer. Kommissaris Tim Finchem sê hy het nog niks om aan te kondig nie, ondanks wye bespiegeling. Woods is die afgelope weke gesien waar hy geoefen het nadat hy ‘n paar maande gelede in selfopgelegde ballingskap gegaan het weens probleme in sy privaatlewe.
# Geldsake: Die rand verhandel tans teen 7 rand-41 teen die dollar, 10 rand-14 sent teen die euro en 11 rand-12 sent teen die pond. Die goudprys is duisend-111 dollar-98 per fynons en Brent ruolie kos 78 dollar-61 per vat.
# En die stryd tussen die geslagte duur voort wat daaglikse take aanbetref. ‘n Ondersoek het bevind dat vroue beter as mans is met stryk, bed-opmaak en om gare deur ‘n naald se oog te kry. Hulle vaar ook uitstekend daarin om verkeersamptenare te oorreed om hulle nie te beboet nie, en met die wen van ‘n argument. Mans was egter beter met die lees van ‘n kaart, omruil van ‘n motorband en herstel van ‘n elektriese prop.
Dit is die einde van die nuus, saamgestel deur NuusFlits Nuusagentskap