NUUS: 17 Februarie 2010 om 11:00
Die nuus om elfuur:
***Die leier van die DA, Helen Zille, sê sy gaan vanoggend ‘n besoek aan die Mowbray polisiestasie in Kaapstad bring om ondersoek in te stel na die omstandighede rondom die omstrede arrestasie en aanhouding van ‘n 25-jarige Ikey student.
Zille sê dit wil voorkom of Chumani Maxwele, wat lank oor die voorval ondervra is, se konstitusionele regte aangetas is.
Maxwele is verlede week in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n middelvinger na pres. Jacob Zuma se konvooi gewys het.
Dié klagte is later teruggetrek weens ‘n gebrek aan voldoende bewyse.
*** Die Vryheidsfront Plus sê die minister van finansies, Pravin Gordhan, kan vandag se begrotingsrede gebruik om
om beleggers en die buiteland se vertroue in Suid-Afrika te herbevestig.
Die party sê die ANC-Jeugleier Julius Malema se wilde uitlatings oor die
nasionalisering van myne skep onsekerheid oor die presiese ekonomiese pad wat die Zuma-regering gaan stap.
Daar word verwag dat die minister oor die begrotingstekort, werkskepping en die Reserwebank se mandaat sal praat.
***Twee mense is dood en elf ander beseer toe ‘n minibus taxi op die N-2 snelweg in die rigting van Kaapstad omgeslaan het.
Van die passasiers is uit die taxi geslinger toe dit omgeslaan het.
Die ongeluk het blykbaar plaasgevind toe ‘n band gebars het.
*** ‘n Bekende inwoner van Vredendal in die Wes-Kaap is vroeër vandeesweek op aanklagte van kindermolestering en die besit van kinderpornografie in hegtenis geneem.
Die 49-jarige man is gearresteer nadat hy na bewering seks teen betaling met ‘n 15-jarige seun gehad het.
Die polisie het glo op kinderpornografie afgekom nadat hulle ‘n lasbrief bekom het om die man se huis te deursoek.
Die man sal na verwagting vandag in die plaaslike hof verskyn.
*** ‘n Pretoriase vrou het haar aanvaller so hard gebyt terwyl hy bo-op haar gelê
het dat hy besluit het om haar nie te verkrag nie.
Beeld berig dat die man het hom haastig uit die voete gemaak nadat die 39-jarige
huisvrou van Wolmer haar tande in sy bolyf ingeslaan het.
Sy makker het intussen elektroniese ware soos ‘n DVD-speler in hul motor en die vrou
se kar gelaai waarna die twee vort is.
*** Minstens drie Taliban vegters is dood in ‘n Amerikaanse lugaanval in die
noordweste van Pakistan.
Die teiken van die lugaanval was ‘n wegkruipplek van die Taliban in die Tapi Tolkhel
nedersetting.
Die aanval volg ‘n dag nadat Amerikaanse amptenare aangekondig het dat ‘n top
Afgaanse Taliban militêre bevelvoerder verlede week deur Amerikaanse en Afgaanse
magte gevange geneem is.
***Krieket: Suid-Afrika wat in die tweede en laaste toets teen Indië in Kolkata
speel, het vanoggend sy tweede kolfbeurt op ses sonder die verlies van ‘n paaltjie
hervat nadat Indië sy eerste beurt op 643 vir ses gesluit verklaar het.
Spel op die vierde dag is vertraag weens ‘n nat buiteveld.
Die besoekers het ‘n ruk gelede 113 vir drie op die telbord gehad.
Suid-Afrika het ‘n agterstand van 236 lopies met sewe paaltjies staande.
***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 66, ‘n Britse pond 12
rand 11 en ‘n Euro 10 rand 56 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom eenduisend-123 dollar 89 sent per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-550 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 77 dollar 57 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.