NUUS: 18 Februarie 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Die Transvaalse Landbou-unie, TLU SA, sê hy het namens alle boere in die land met skok kennis geneem van die styging in die brandstofheffing van meer as 25 sent per liter wat gister deur die minister van Finansies, Pravin Gordhan, aangekondig is.
Die voorsitter van TLU SA, Ben Marais, sê in ‘n verklaring die styging gaan die boere erg tref, aangesien elke vertakking van die bedryf
brandstof-sensitief is.
Hy sê die hoër vervoerkoste gaan ‘n invloed op boere se kunsmis-, saad- en voerpryse hê.
*** Marais sê met die brandstofverhoging en die verwagte verhoging van elektrisiteit, gaan alle ander pryse ook astronomies styg, terwyl die boere steeds in die onbenydenswaardige posisie is dat hulle maar moet aanvaar wat hulle vir hul produkte kry.
Hy sê die landbou is op die rand van ‘n katastrofe en indien daar nie vir die boere voorsiening gemaak word nie, gaan die verhoogde koste tot ‘n vermindering in voedselproduksie, met alle gevare daaraan verbonde, lei.
*** Die eienaar van ‘n Oos-Kaapse busmaatskappy en die bestuurder van ‘n dieseltenkwa is in verband met ‘n brandstofbedrogspul in hegtenis geneem.
Die polisie se superintendent Mzukisi Fatyela sê die bestuurder van die tenkwa het Dinsdagaand aan die polisie gesê dat hy in Tsolo naby Mthatha gekaap en van sy beursie en selfoon beroof is.
Die polisie het die leë tenkwa, wat met 37-duisend liter brandstof van Port Elizabeth na Durban op pad was, in Libode gevind.
Ondersoekbeamptes het daarna op geslote baan televisie by die depot van ‘n busmaatskappy in Mthatha gesien hoe die brandstof uitgetap word en dat die bestuurder ‘n onbekende hoeveelheid geld as betaling ontvang het.
Die polisie soek nog na ‘n derde verdagte.
*** Die polisie in Mpumalanga sê die toestand op Ogies is nog gespanne nadat inwoners vroeg vanoggend paaie in die omgewing versper en die polisie met bottels gegooi het.
Minstens een betoger en twee polisiebeamptes is beseer.
Die polisie se kaptein Leonard Hlathi sê inwoners het betoog teen plaaslike myne wat glo buitelanders in diens neem en het geëis dat BHP Billiton aan hulle werk moet verskaf.
Ses mense is in hegtenis geneem.
‘n Betoger is beseer toe die polisie met rubberkoeëls op die skare geskiet het natat hulle met botels gegooi is.
*** ‘n Airbus 330 van die Australiese Qantas-lugdiens met sowat 200
passasiers aan boord het ‘n noodlanding op die internasionale lughawe van Sydney gedoen nadat die onderstel ná opstyging op ‘n vlug na Sjanghai geweier het om terug te trek.
Die lugdiens sê in ‘n verklaring die vliegtuig is gedwing om twee uur lank oor Sydney te sirkel om van sy brandstof ontslae te raak voordat dit kon land.
*** Krieket: Die teetydtelling op die laaste dag van die tweede toets
tussen Suid-Afrika en Indië in Kolkata was 250 vir sewe in Suid-Afrika se
tweede beurt.
Suid-Afrika het nog ‘n agterstand van 97 lopies.
Suid-Afrika, wat aan die begin van die dag se spel nog 233 lopies nodig
gehad het om ‘n beurtnederlaag af te weer, het vandag die paaltjies van
Ashwell Prince met 23 lopies, AB de Villiers met drie, JP Duminy met 6 en
Dale Steyn met een verloor.
Hashim Amla het sy derde agtereenvolgende honderdtal in Indië aangeteken en
hy is op 106 nie uit nie met Wayne Parnell op 22.
*** Bangladesj het aan die einde van die vierde dag van die enigste toets
teen Nieu-Seeland in Hamilton 88 vir vyf in sy tweede beurt gehad.
Nieu-Seeland het nog vyf paaltjies nodig om die toets te wen, terwyl
Bangladesj 316 lopies vir ‘n onwaarskynlike oorwinning nodig het.
*** Tiger Woods gaan môre die eerste keer met die media praat sedert sy
middernagtelike ongeluk buite sy huis in Florida drie maande gelede en die
omstredenheid oor sy buite-egtelike verhoudings.
Volgens sy agent, Mark Steinberg, sal Woods met ‘n klein groepie
joernaliste, asook vriende, kollegas en vennote in Ponte Vedra Beach,
Florida vergader.
Hy sê Woods sal oor die verlede praat en ook wat sy planne vorentoe is.
Hy sal ook om verskoning vra vir sy gedrag.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 67 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 98 sent teenoor die pond en op 10 rand 39 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,100 dollar per fynons en platinum teen
1,508 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 75 dollar 71 sent per vat.
……………………………………………………………………….
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.