NUUS: 19 Februarie 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
*** ‘n Man is vanoggend gewond en vier minibus-taxi’s aan die brand gesteek by ‘n taxi-staanplek in Germiston aan die Oos-Rand.
Die polisie is omstreeks half-sewe vanoggend na die toneel uitgeroep ná ‘n skietery.
Twee mans wat na bewering op mense losgebrand het, is in hegtenis geneem.
Pendelaars is aangesê om die toneel te verlaat.
Die gewonde man is in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem.
*** Twee polisiebeamptes is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met hulle beweerde betrokkenheid by transito-rooftogte.
Polisiewoordvoerder superintendent Jay Naicker sê in ‘n verklaring twee polisiemanne van Ladysmith en ‘n veiligheidswag van Newcastle is Woensdag gearresteer in verband met ‘n vlaag transito-rooftogte in die omgewing aan die einde van verlede jaar.
Hulle is ook aangekla vir ‘n transito-rooftog in Amersfoort in Mpumalanga in September verlede jaar.
*** Die waarnemende direkteur-generaal van die departement van Vervoer, George Mahlalela, sê die departement gaan nie toelaat dat Snelbusdiens misluk nie.
Dit ná gerugte dat die departement groot finansieringsprobleme ondervind.
Hy het op ‘n konferensie van die Suider-Afrikaanse Busoperateursvereniging in Pretoria gesê die snelbusdiens is ‘n reuse vervoernetwerk-projek wat volgehoue finansiering vir sowat 10 tot 20 jaar nodig sal hê en onvoldoende finansiering is ‘n groot probleem.
Die projek, as deel van die regering se poging om die openbare
vervoerstelsel te verbeter, is reeds in Johannesburg in werking.
*** Sjina sê die besoek van die Dalai Lama aan Washington het betrekkinge tussen Sjina en Amerika ernstig ondermyn.
In reaksie op president Barack Obama se ontmoeting met die Tibettaanse geestelike leier, het Sjina in ‘n skerp bewoorde verklaring gesê Amerika moet stappe doen om die kwaadaardige gevolge van die ontmoeting ongedaan te maak.
Sjina se adjunk-minister van buitelandse sake, Cui Tiankai, het ook die Amerikaanse ambassadeur in Beijing, Jon Huntsman, ontbied om Sjina se ontevredenheid oor die besoek aan hom oor te dra.
*** Reddingswerkers het sewe oorlewendes gevind nadat ‘n bergdorpie in die noorde van Pakistan onder ‘n reuse sneeustorting begrawe is.
Die polisie en amptenare sê die dodetal kan tot 30 styg, aangesien 17 liggame reeds gevind is en 13 vermiste mense vermoedelik nog onder die sneeu begrawe is.
Die sneeustorting het drie dae gelede die dorp, Bagroodara, sowat 220 kilometer noord van die hoofstad, Islamabad, getref, maar wees swaar sneeu en gure winterstoestande het reddingswerkers lank gesukkel om die dorp te bereik.
*** Rugby: Die Blues het die Highlanders in ‘n Super 14-wedstryd in
Dunedin met 19-15 geklop.
Die rustydtelling was 12-7 in die guns van die Highlanders.
Die Blues het drie drieë gedruk teenoor die twee van die Highlanders.
*** Krieket: Die jongste beskikbare telling in die vyfde en laaste
eendagwedstryd tussen Australië en die Wes-Indiese Eilande in Melbourne is
35 vir drie in die Windies se beurt.
Australië het 324 vir vyf in sy 50 boulbeurte aangeteken met Ricky Ponting
wat die hoogste telling van 61 aangeteken het.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 67 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 83 sent teenoor die pond en op 10 rand 34 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,106 dollar per fynons en platinum teen
1,509 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 76 dollar 54 sent per vat.
……………………………………………………………………….
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.