NUUS: 19 November om 08:00

Die Nuus om Agt

***  Die kabinet het besluit om ‘n tussen-ministeriële taakspan teen
korrupsie aan te stel. Dit kom ná ‘n onlangse verslag van die
Staatsdienskommissie waarin wydverspreide korrupsie onder staatsamptenare
oopgevlek is.

Die regering se woordvoerder Themba Maseko het ná ‘n kabinetsvergadering
gesê stappe moet gedoen word om korrupsie uit te roei omdat dit die land se
beeld plaaslik en oorsee skaad.
Die minister in die presidensie belas met monitering en evaluering, Collins
Chabane, sal die taakspan lei.
Alle staatsdienswerkers is gewaarsku dat daar ernstig opgetree sal word teen
enigeen wat by korrupsie betrokke is.

***  Twee mense is dood en nog twee is in ‘n kritieke toestand in die
hospitaal nadat hulle motor in Boksburg aan die Oos-Rand deur ‘n trein
getref is.

Teen gisteraand was min besonderhede nog oor die ongeluk bekend.

***  Nog koue, nat toestande word vandag oor ‘n groot deel van die land
verwag en sneeu het op die Drakensberg in Qwa-Qwa geval.

Die Weerdiens het vanoggend gewaarsku teen swaar reën langs die Wildekus,
die kusgebied van KwaZulu-Natal en in Limpopo en Noordwes.

In Gauteng sal die koue voortduur en wydverspreide reën word ook verwag.

***  ‘n Neurosjirurg, Wirginia Maixner, sê die Bangladesj-tweeling wat in ‘n
32-uur-lange operasie in Melbourne, Australië, van mekaar geskei is, sal na
verwagting ten volle herstel.

Die tweejarige dogtertjies was aan hulle koppe aanmekaar verbind.

Sestien spesialiste het Maandag met die hoë-risiko-operasie begin.

***  Die Internasionale Rugbyraad se hoof van skeidsregtersake, Paddy
O’Brien, het die All Blacks persoonlik om verskoning gevra vir die wyse
waarop die Australiër Stuart Dickinson hulle toets teen Italië Saterdag
hanteer het.
O’Brien — ‘n Nieu-Seelander — het aan die All Blacks gesê hy het Dickinson
aangespreek oor veral sy hantering van die skrums in Nieu-Seeland se
oorwinning van 20-6.
Dickinson het ‘n groot aantal strafskoppe vir skrumoortredings aan Italië
toegeken.

Dieselfde stut wat die Springbokke opdraende gegee het in hulle
verloorwedstryd teen Leicester, Martin Castrogiovanni, het glo onwettige
taktiek gebruik.

***  Krieket:  Die jongste beskikbare telling op dag vier van die eerste
toets tussen Indië en Sri Lanka in Ahmedabad is 682 vir vyf in Sri Lanka se
eerste beurt.

Mahela Jayawardene is op 252 nie uit nie en Prasanna Jayawardene is op ‘n
onoorwonne 124.

Hulle sesdepaaltjie-vennootskap staan reeds op 308 lopies.

Sri Lanka het reeds ‘n eerstebeurt-voorsprong van 256 lopies.

***  Sokker:  Frankryk het tot sy vierde agtereenvolgende
Wêreldbekertoernooi deurgedring danksy ‘n blaps deur die wedstrydbeamptes in
sy kwalifiserende wedstryd teen Ierland in Parys.

Frankryk het die gelykmakende doel in bykomende tyd aangeteken, maar die
kaptein Thierry Henry het die bal met sy hand gespeel in die beweging wat
tot die doel gelei het.

Henry het volgens berigte erken dat hy doelbewus die bal by twee geleenthede
met sy hand gespeel het.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 50 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 52 sent teenoor die pond en op 11 rand 18 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,141 dollar per fynons en platinum teen
1,444 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 79 dollar 52 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply