NUUS: 2 Desember 2009 om 08:00

Die Nuus om Agt

***  Die vakbond, Solidariteit, sê hy gaan enige aansoek van Eskom vir ‘n
tariefverhoging teenstaan totdat Eskom ʼn behoorlike finansieringsmodel vir sy kapasiteitsuitbreiding gefinaliseer het.

Dit volg nadat Eskom ʼn hersiene tariefverhogingaansoek van 35-persent by NERSA ingedien het.

Solidariteitwoordvoerder Jaco Kleynhans sê die jongste versoek is ook onaanvaarbaar en die vakbond sal dit ten sterkste teenstaan. 

Hy sê die vakbond kan nie ʼn aansoek vir ʼn verhoging wat so buitensporig hoog bo die vlak van inflasie is, ondersteun nie.

***  Die Algemene Balieraad het ’n amptelike ondersoek gelas na die nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Menzi Simelane, se bevoegdheid om as advokaat te dien.

Die voorsitter van die Pretoriase Balie se etiese komitee, advokaat Pat Ellis, sê die Algemene Balieraad het drie senior advokate gelas om ondersoek in te stel of Simelane geskik is om as advokaat te praktiseer in die lig van die bevindings wat die Ginwala-kommissie vroeër oor sy geloofwaardigheid gemaak het.

Ellis het aan Beeld gesê Simelane sal sy amptelike reaksie aan albei balierade kan voorlê.

Daar sal dan waarskynlik vroeg in die nuwe jaar besluit word of daar gronde is om ’n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria in te dien om te vra dat Simelane onbevoeg verklaar word om as advokaat te praktiseer. 

***  Die polisie in Noordwes stel ondersoek in na waar die joernalis, Chris Louw, die AK-47 geweer gekry het waarmee hy glo homself op sy kleinhoewe op De Wildt buite Pretoria geskiet het.

Superintendent Lesego Metsi van die Noordwes-polisie het bevestig dat die polisie die saak as ‘n selfmoord hanteer nadat selfmoordnotas op Louw se rekenaar gevind is.

Volgens Louw se vrou het hy nie ‘n AK-47 besit nie.

 
*** Twee rowers wat ’n bekende prokureur van Bloemfontein, Nico Naudé, vier jaar gelede in sy kantoor oorval en van kontant en waardevolle besittings van duisende rande beroof het, is in die Bloemfonteinse streekhof elk tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Die Volksblad berig dat Naudé toevallig die verdagtes vier maande ná die aanval op hom, in die selle van die landdroshof in Bloemfontein gesien het terwyl hy ’n verhoor-afwagtende besoek het.

Hulle was beskuldigdes in ’n ander verhoor en op pad om op borgtog vrygelaat te word.

‘n Derde rower is nog nie aangekeer nie.

 
***  Iran se president Mahmoud Ahmadinejad sê daar sal geen verdere samesprekings oor sy kernkwessie wees nie ongeag die jongste resolusie van die Internasionale Atoomenergie-agentskap.

Hy het in ‘n televisieboodskap gesê wat Iran betref, is die saak afgehandel met alle tegniese aspekte wat met die VN-agentskap uitgestryk is en daar sal nie verder met enige land daaroor gepraat word nie.

Ahmadinejad het gesê Iran weet die IAEA het onder politieke druk opgetree, maar samewerking met die agentskap sal egter beperk word tot internasionale wette en niks meer nie.

 
***  ‘n Bevelvoerder van die Europese Unie se vlootmag, vise-admiraal Peter Hudson, sê die internasionale vlootmagte sal nooit in staat wees om Somaliese seerowers aan die kus van Oos-Afrika aan bande te lê nie.

Dit volg ná Sondag se skaking van ‘n Griekse olietenskip met 275-duisend metrieke ton ru-olie ter waarde van nagenoeg 150-miljoen dollar in ‘n gebied oos van die deel van die Indiese Oseaan wat as gevaarlik vir seerower-aanvalle bestempel word.

Hudson sê die gebied is net te groot om te patrolleer.

Seerowers hou tans elf skepe en 264 bemanningslede aan die kus van Somalië as gyselaars aan.

 
***  Krieket:  Sri Lanka het die loot gewen en besluit om eerste te kolf in die
derde en laaste toets teen Indië in Moembaai.

Indië loop met een-nul voor in die reeks.

Die jongste beskikbare telling is 88 sonder verlies in Sri Lanka se eerste beurt.

 
***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 31 sent teenoor die dollar, op 12 rand 13 sent teenoor die pond en op 11 rand 3 sent teenoor die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,212 dollar per fynons en platinum teen 1,491 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 79 dollar 53 sent per vat.

 

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply