NUUS: 2 Maart 2010 om 11:00

PenOrent Nuus: Dinsdag 2 Maart 2010.

 

Die nuus om elfuur:

 

***Sewe hoërskoolleerlinge is vanoggend dood en drie ander beseer in ‘n botsing tussen ‘n trein en ‘n bussie in Noordwes.

Die ongeluk het by ‘n spooroorgang op Sandfontein naby Rustenburg plaasgevind.

Die kinders wat oppad skooltoe was, is dood toe die bussie waarin hulle gery het voor ‘n aankomende trein beland het.

 

***Metro treindienste tussen Johannesburg en Vereeniging is weer normaal.

Metrorail het gister treindienste tussen die twee stede opgeskort nadat oproerige inwoners van Thembelihle ‘n goedretrein tydens dienslewering betogings aan die brand gesteek het.

Die woonbuurt naby Lenasia suid van Johannesburg was vanoggend stil na die geweldpleging.

 

***Sowat 60 mense is dakloos  nadat ‘n brand gisteraand in ‘n plakkerskamp op Atlantis aan die Kaapse Weskus uitgebreek het.

Sowat plakkershutte  in die Witsand-gebied het afgebrand.

Sover bekend is niemand in die brand beseer nie.

 

 

***’n Suid-Afrikaanse klankingenieur wat vir SuperSport werk, is een van vier mense wat gistermiddag naby Lagos in Nigerië deur vermeende militante as gyselaar geneem is.

Daar is vroeer verkeeerdelik berig dat die ontvoerde Suid-Afrikaner ‘n sport joernalis is.
Nick Greyling, twee Nigeriese kommentators en ‘n kameraman is gyselaar geneem nadat die bus waarmee hulle van Owerri na Lagos gereis het, aangeval is.
Greyling en sy vrou, Lorna, woon in Melville, Johannesburg.

 

***Die myngroep Gold Fields het ‘n kennisgewing van die mynwerkersvakbond, die NUM, ontvang dat hulle voornemens is om Sondag met ‘n onbepaalde staking te begin.

Die vakbond eis dat die maatskappy die funksionele werksvermoë-toetsstelsel by al sy Suid-Afrikaanse myne afskaf.

Ingevolge myn- en veiligheidswetgewing in Suid-Afrika, moet werkgewers verseker dat werkers aan die minimum fiksheidsvereistes voldoen om veilig ondergronds te kan werk.

 

***President Barack Obama het aangekondig dat Amerika sy geteikende sanksies teen pres. Robert Mugabe en sy magskliek vir ‘n verdere jaar verleng het.

Obama het gesê Zimbabwe se politieke krisis is nog nie bygelê nie ondanks die feit dat ‘n koalisieregering tot stand gebring is.

Beide die Europese Unie en die VSA het sanksies teen pres. Mugabe en sy trawante ingestel na aanleiding van verkiesings ongerymdhede en menseregte skendings in Zimbabwe.

 

*** ‘n Radar eksperiment aan boord van Indië se maantuig het tekens van water naby die maan se Noordpool getoon.

Meer as veertig klein kraters met ys is gevind.

Die eksperiment is deur die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA ontwerp.

 

**Tennis: Die Amerikaanse tennisspeler Venus Williams het Kim Clijsters van Belgie in drie stelle geklop om die Billie Jean King-beker in Madison Square Garden Maandag in New York te wen.

Die telling was  6-4,3-6 en 7-5.
Williams het  sowat drie miljoen rand in prysgeld vir haar oorwinning ontvang.

 

*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 66 teenoor die dollar, op 11 rand 41 teenoor die pond en op 10 rand 35 teenoor die euro.

Goud het kort gelede teen eenduisend-118 dollar 63 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-553 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar 58 sent per vat.

 

 

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.

Sel: 083 491 5148

Leave a Reply