NUUS: 22 Februarie om 11:00
Die nuus om elfuur:
***Die Vryheidsfront Plus sê hy gaan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens versoek om onmiddellik ondersoek in te stel na die ANC jeugliga-leier, Julius Malema, se inkomste en sy werklike bydra tot belasting die afgelope paar jaar.
Volgens sommige bronne beloop Malema se inkomste 20-duisend rand maandeliks en besit hy twee huise met ‘n gesamentlike waarde van bykans vyf miljoen rand asook ‘n string duur motors.
Volgens die Vryheidsfront Plus handhaaf Malema ‘n leefstyl wat ver bo sy inkomste strek is as al die betrokke inligting korrek is.
***Ontstoke inwoners van Orange Farm, suid van Johannesburg, het vanoggend verkeer op die Goue hoofweg ontwrig.
‘n Woordvoerder vir die Johannesburgse metropolisie, Wayne Minnaar, sê dis nie duidelik waaroor die inwoners ongelukkig is nie.
Hy het motoriste aangeraai om die N1 snelweg as alternatiewe roete te gebruik.
***’n Bejaarde vrou is tydens ‘n rooftog by haar huis op Sedgefield in die Suid-Kaap aangeval en verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek.
Die nooddienste sê die 80-jarige vrou is in haar bed aangetref.
Sy is in ‘n ernstige, maar bestendige toestand in die Knysna
Privaathospitaal.
*** Die broer van ‘n voormalige Springbok-atleet is in Kilnerpark, Pretoria, in die maag geskiet nadat hy en sy gesin Saterdag kort ná middernag by hul huis deur twee rowers oorval is.
Die aanvallers het die vermetelheid gehad om die polisiekaptein na die skietery van sy tekkies te besteel voordat hulle vort is.
Die erg gewonde polisieman is in ‘n Pretoriase hospitaal opgeneem waar hy die naweek ‘n noodoperasie ondergaan het.
***Sommige inwoners van Brits en Hartbeespoort in Noordwes kla dat die besoedelde drinkwater wat hulle moet drink maagsiektes onder verskeie mense in die Madibeng omgewing veroorsaak.
maagongesteldhede onder talle mense veroorsaak .
Die burgemeester, Sophie Molokwane-Machika, sê toetse op die drinkwater het getoon dat dit geskik vir menslike gebruik is.
Sy het gemeenskappe egter aangeraai om as voorsorgmaatreël, eers die drinkwater te kook voordat dit gedrink word.
*** NAVO het bevestig dat ‘n aantal burgerlikes dood is in Sondag se lugaanval in
die suide van Afganistan.
Sewe-en-twintig mense is na berig word dood en tien ander beseer in die lugaanval in
die Uruzgan provinsie.
Die dood van burgerlikes in lugaanvalle in Afganistan het tot groot ontevredenheid
onder die land se regering en burgers gelei.
*** Ongeveer vierduisend vlieëniers van die Duitse lugdiens Lufthansa het met ‘n
vierdaagse staking begin.
Die vlieëniers is gewikkel in ‘n dispuut oor werksekuriteit.
Lufthansa moes omtrent drieduisend vlugte weens die staking kanselleer.
*** ‘n Nepalese man, wat slegs 56 sentimeters lank is, het na Europa vertrek in ‘n
poging om amptelik as die wêreld se kortste lewende persoon erken te word.
Khagendra Thapa Magar het na Londen gevlieg waar hy die aanspraak by die Guiness
World Records gaan maak.
Die huidige rekord word gehou deur Sjina se He Pingping wat 73 sentimeters lank is.
***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 67, ‘n Britse pond 11 rand
84 en ‘n Euro 10 rand 43 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom eenduisend-123 dollar 90 sent per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-537 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 80 dollar 13 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.