NUUS: 23 Februarie 2010 om 11:00

Die Nuus om Elf

***  Die leier van die ANC Jeugliga, Julius Malema, sê hy hoef slegs aan die ANC en die Jeugliga verantwoording te doen.

Hy het vanoggend in ‘n radio-onderhoud gesê hy het dit aan president Jacob Zuma en aan die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, gestel dat hy bereid is om slegs aan die ANC-leierskap, wat sy werkgewers is, besonderhede oor sy lewenstyl te gee.

Malema sê die ANC-leierskap het sy verduideliking aanvaar en dit is al wat saak maak.

***  Die Vryheidsfront Plus het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens formeel versoek om dringend ondersoek in te stel na Malema se inkomste en sy werklike bydrae tot belasting die afgelope paar jaar.

Woordvoerder Anton Alberts sê in ‘n verklaring Malema het nog geen
behoorlike antwoorde oor sy inkomste en lewenstyl verskaf nie.

Hy sê Malema het, soos gewoonlik, vrae gesystap en die aandag op hom toegedig aan sy politieke vyande.

Alberts sê Malema is ‘n openbare figuur wat omstrede uitsprake maak oor die wyse waarop die lot van die armes verbeter kan word en sy persoonlike lewe moet dus kan getuig van hoë morele standaarde en insig in die lot van die armes.

Hy sê Malema wil kommunistiese instrumente gebruik om na sy kiesers se belange om te sien, maar hyself leef soos ‘n wafferse kapitalis.

***  Die Goue Hoofweg, suid van Johannesburg, is steeds toe nadat dit gisteraand weens gewelddadige betogings deur inwoners van Orange Farm gesluit is.

Hoof-superintendent Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie het vanoggend gesê die pad sal gesluit wees totdat die toestand kalm is.

Motoriste is aangeraai om die N1 te gebruik.

***  Meer as 60 vuurwapens en ongeveer 50-duisend patrone is vermoedelik van ‘n gespesialiseerde polisie-eenheid in Mpumalanga gesteel.

News24 berig dat die wapens en ammunisie deel was van die arsenaal van die polisie se gewese onluste-eenheid wat in Hazyview gestasioneer was.

Die eenheid is in 2007 gesluit ná ‘n besluit deur die voormalige
polisiekommissaris, Jackie Selebi, om alle spesialis-eenhede te sluit.

Die diefstal van sommige van die vuurwapens is eers onlnags deur
polisie-inspekteurs ontdek.

***  Australië se eerste minister, Kevin Rudd, het gewaarsku dat sy land nou onder ‘n permanente en groter bedreiging van militante aanvalle is.

Hy sê daar is ‘n toenemende bedreiging van Islamitiese radikale wat in Australië gebore is of daar grootgeword het.

Rudd het ook planne aangekondig vir vingerafdrukke en gesigskanderings vir besoekers uit tien hoë-risiko-lande.

Hy sê die regering se veiligheids-intelligensie-agentskappe het gewaarsku dat aanvalle enige tyd in die land kan voorkom.

***  In Niamey - die hoofstad van Niger - is ‘n militêre dekreet
uitgevaardig dat die leier van die junta, majoor Salou Djibo, die land se oorgangs- staats- en regeringshoof sal wees.

Dit kom nadat die voormalige president Mamadou Tandja verlede week in ‘n militêre staatsgreep uit die kussings gelig is.

In die dekreet word gesê Djibo, wat die president van die Opperraad vir die Herstel van Demokrasie is, sal in die oorgangstydperk die funksies van die staatshoof en die regeringshoof behartig.

‘n Taakmag sal onder Djibo se gesag ‘n nuwe grondwet en verkiesingswette opstel.

‘n Sogenaamde grondwetlike komitee en ‘n hof sal ingestel word om die grondwetlike hof en die hooggeregshof, wat ná die staatsgreep ontbind is, te vervang.

***  Krieket:  Die Wes-Indiese Eilande het die loot gewen en besluit om
eerste te kolf in die tweede 20/20-wedstryd teen Australië in Sydney.

Die jongste beskikbare telling is 53 vir vier in die tiende boulbeurt.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 68 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 94 sent teenoor die pond en op 10 rand 49 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,118 dollar per fynons en platinum teen
1,543 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar 47 sent per vat.

……………………………………………………………………….
………………………..

Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie

van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply