NUUS: 23 Maart 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Duisende pendelaars is vanoggend gestrand gelaat weens die staking deur taxiverenigings in die Wes-Kaap.
Volgens berigte is vragmotors en busse glo op die N2 met klippe bestook.
Xenophone Wentzel van die Wes-Kaapse verkeersdepartement sê by die Nyanga-taxistaanplek is busse ook met klippe gegooi.
Die Wes-Kaapse Taxi-alliansie - wat meer as 150 taxigroepe verteenwoordig - is ontevrede oor die implementering van die snelvervoerbusdiens.
*** Polisiewoordvoerder Frederick van Wyk sê intussen geen oproerige of gewelddadige voorvalle is tot dusver aangemeld nie.
Polisielede was sedert tweeuur vanoggend by brandpunte regoor die
Skiereiland ontplooi en monitor die toestand.
*** Een persoon is dood en 16 mense beseer in ‘n botsing reg van voor tussen twee taxi’s naby die Indaba Hotel, noord van Johannesburg.
Volgens Werner Vermaak van die ER24-nooddiens is die bestuurder van een van die taxi’s dood, terwyl die ander bestuurder in ‘n kritieke toestand per helikopter na die hospitaal vervoer is.
*** Vyf gevalle van ‘n nuwe virus, wat deur die gewone huismuskiet versprei word, is in Bloemfontein geïdentifiseer.
‘n Mikrobioloog en viroloog, dr. Chris Janse van Rensburg, het aan die
Volksblad gesê die virus lei tot ‘n siekte waarvan die simptome soortgelyk is aan dié van die sogenaamde jappie-griep.
Hy sê met al die muskiete ná die baie reën in omloop, is dit baie maklik om die simptome van die nuwe virus soos gewrigspyne, spierpyne, hoofpyn, koors en dalk ‘n ligte uitslag sowat drie tot sewe dae later, mis te kyk.
Soos die jappie-griep van ‘n paar jaar gelede, kan dit ook lei tot moegheid en ongesteldheid wat tot 24 maande kan duur.
*** Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, hou vol dat Israel ‘n
reg het om huise in Jerusalem op te rig.
Dit te midde van ‘n geskil met Amerika oor Israel se planne om
een-duisend-600 huise in Oos-Jerusalem te bou.
Hy het in Washington gesê Jerusalem is Israel se hoofstad en nie ‘n
nedersetting nie.
Hy sê nedersettings in die besette Oos-Jerusalem is ‘n onlosmaalike deel van
die stad en sal ingevolge enige vredesooreenkoms deel van Israel bly.
*** Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het
vroeër gesê Israel sal moeilike keuses moet maak ter wille van vrede.
Sy sê die voortgesette uitbreiding van Joodse nedersettings in Palestynse
besette gebiede ondermyn Amerika se rol in die vredesproses.
*** Die agtsteman van die All Blacks en die Waikato Chiefs, Sione Lauaki,
het in ‘n distrikshof in Hamilton skuldig gepleit op ‘n aanklag van
aanranding.
Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer op 6 Mei in die hof verskyn in
verband met ‘n voorval vroeër die maand in ‘n kroeg in Hamilton.
Die 28-jarige Lauaki, wat al in 17 toetse vir Nieu-Seeland gespeel het, het
gesê hy is teleurgesteld met sy optrede en het sy familie en spanmaats om
verskoning gevra.
*** Krieket: Die teetydtelling op die vierde dag van die tweede en laaste
toets tussen Engeland en Bangladesj in Dhaka was 115 vir drie in Bangladesj
se tweede beurt.
Engeland is vroeër vir 496 lopies uitgehaal vir ‘n eerstebeurt-voorsprong
van 77 lopies.
*** Nog krieketnuus is dat die Diamond Eagles hulle laaste
SuperSportreekswedstryd van die seisoen teen die Titans sonder hulle
kaptein, Morné van Wyk, sal moet klaarkom.
Hy is geskors oor sy span se stadige boultempo in die naweek se wedstryd
teen die Warriors.
Die Eagles het 20-komma-68 punte vir hulle oorwinning ingeoes, maar dit is
met ses punte verminder as straf vir die stadige boultempo.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 36 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 8 sent teenoor die pond en op 9 rand 94 sent teenoor die
euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,103 dollar per fynons en platinum teen
1,604 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 80 dollar 21 sent per vat.
……………………………………………………………………….
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.