NUUS: 23 November om 08:00
Die Nuus om Agt
*** ‘n Diereregte-organisasie het ‘n aansoek om ‘n hofbevel teen onder
meer koning Goodwill Zwelithini ingedien om te keer dat jong mans tydens die jaarlikse oesfees ‘n bul met hulle kaal hande doodmaak.
Beeld sê die aansoek is by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien
nadat die organisasie, Animal Rights Africa, al van 16 Oktober af probeer
het om met die Zoeloe-koningshuis en regeringsdepartemente daaroor in
gesprek te tree.
Die aansoek word gesteun deur nog ‘n organisasie wat hom vir die etiese
behandeling van diere beywer, Peta, wat vroeër ‘n skriftelike klagte oor dié
gebruik aan president Jacob Zuma gerig het.
*** Die vermeende kinderseksmisdadiger Dirk Prinsloo se verhoor weens ‘n
mislukte bankrooftog in Belarus sal waarskynlik teen einde Januarie begin.
Die Burger sê ‘n woordvoerder van Interpol in Suid-Afrika, senior
superintendent Tummi Golding, het gister gesê sodra die regsproses in
Belarus afgehandel is, sal die twee lande saam besluit oor wanneer Prinsloo
aan Suid-Afrika uitgelewer gaan word.
Tot dan kan geen datum van uitlewering bekend gemaak word nie.
Volgens ‘n Sondagkoerant is Prinsloo vir sielkundige waarneming na ‘n
inrigting gestuur waar vasgestel is dat hy is nie geestesversteurd is nie.
Prinsloo is in Junie in Minsk, hoofstad van Belarus, in hegtenis geneem.
*** Die dodetal in Sjina se ergste steenkoolmyn-ongeluk in twee jaar het
tot minstens 104 gestyg.
Nog vier mynwerkers word vermis ná Saterdagoggend se ontploffing in ‘n myn
in die noorde van die land.
Volgens die amptelike Xinhua-nuusagentskap was daar sowat 530 werkers in die
myn ten tye van die ontploffing.
*** Atlete is glo omgekrap omdat twee beweerde ondersteuners van die
geskorste voorsitter van Atletiek Suid-Afrika, Leonard Chuene, tot die
tussentydse raad van ASA verkies is.
Die twee is Alex Skhosana van KwaZulu-Natal en James Moloi van
Sentraal-Gauteng.
Atlete is egter tevrede dat hulle ‘n 40-persent verteenwoordiging in die
raad gekry het.
*** Krieket: Die Warriors het hulle vierdaagse SuperSportreekswedstryd
teen die Eagles in Oos-Londen met ses paaltjies gewen.
Ashwell Prince het in die tuisspan se tweede beurt 136 lopies aangeteken.
In Durban het die reën-ontwrigte wedstryd tussen die Dolphins en die Cape
Cobras onbeslis geëindig.
Die Cobras was op 329 vir twee in hulle eerste beurt in antwoord op die
Dolphins se eerstebeurttelling van 237 toe die wedstryd beëindig is.
Andrew Puttick was op 169 nie uit nie.
*** Rugby: Die Engelse klubspan, Saracens, wat nog in die wolke is ná
hulle oorwinning oor die Springbokke, is ná agt wedstryde nog onoorwonne in
die Engelse Premierliga-kompetisie.
Die span, wat deur Brendan Venter afgerig word, het Wasps gister met 22-6
verslaan en al die punte is deur voormalige Springbokke aangeteken.
Losskakel Derick Hougaard het 17 punte met skoppe aangeteken en die haker,
Schalk Brits, het die enigste drie van die wedstryd gedruk.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 56 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 47 sent teenoor die pond en op 11 rand 27 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,164 dollar per fynons en platinum teen
1,466 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.