NUUS: 24 November om 08:00
Die Nuus om Agt
*** Regter Meyer Joffe sal om tweeuur vanmiddag in die Hooggeregshof in Johannesburg argumente aanhoor oor waarom ‘n voormalige intelligensie-amptenaar, Barry Gilder, nie in die korrupsiesaak van Jackie Selebi mag getuig nie.
Advokaat Marumo Moerane het gister namens die minister van Staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, en sy direkteur-generaal ‘n aansoek ingedien om te voorkom dat Gilder getuig.
Hulle beswaar is dat Gilder moontlik oor geklassifiseerde inligting sal moet getuig.
*** Meer leerlinge woon deesdae privaatskole by as voorheen.
Volgens die uitslag van ‘n opname wat gister bekendgemaak is, het die getal leerlinge in privaatskole van net meer as 256-duisend in 2000, tot meer as 366-duisend in 2008 toegeneem.
Dit is ‘n styging van vier-komma-twee persent vergeleke by die styging van een-komma-nege persent in die bywoning van staatskole.
Volgens die opname deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Rassebetrekkinge het Gauteng in 2008 die grootste aantal leerlinge in privaatskole gehad.
*** Die Vryheidsfront Plus sê uitsprake van die president van die
ANC-Jeugliga, Julius Malema, oor grondhervorming dat die grond van
swartmense gesteel is, kweek rassehaat.
Woordvoerder Pieter Groenewald sê in ‘n verklaring niemand se grond is gesteel nie en alle grondeienaars het op ‘n wettige wyse eienaars daarvan geword.
Grondeienaars vra ook nie verskoning daarvoor nie.
Hy sê dit is uitsprake soos dié wat rassespanning veroorsaak en dit kan tot gewelddadige konflik lei.
Groenewald sê dit is tyd dat president Jacob Zuma vir Malema in die bek ruk.
Grondhervorming is ‘n emosionele saak en veral boere is moeg daarvan om te hoor dat hulle die grondhervormingsproses vertraag.
*** In Brittanje word daar vandag begin met ‘n openbare ondersoek na die redes waarom die land besluit het om aan die oorlog in Irak deel te neem.
Eerste minister Gordon Brown, wat ook sal getuig, het probeer dat die
sittings agter geslote deure plaasvind, maar die voorsitter van die
ondersoekkomitee, sir John Chilcot, het beslis dat soveel mense as moontlik
toegang tot die getuienis moet hê.
Die voormalige eerste minister, Tony Blair, en van sy kabinetslede sal ook
moet help verduidelik op grond van watter intelligensie Brittanje besluit
het om Irak in 2003 binne te val.
*** Die gesagsowerheid vir reklamestandaarde (ASA) het ‘n klagte van SA
Rugby teen Windhoek Lager oor die gebruik van die woorde, die groen-en-goue
bier, in een van sy advertensies, van die hand gewys.
SA Rugby het aangevoer dat Castle Lager die amptelike bierborg van die
Springbokspan is en dat die advertensie die indruk skep dat Windhoek Lager
die amptelike borg is.
Die advertensie is glo ook gedurende ‘n wedstryd tydens die toer van die
Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika uitgesaai.
ASA se beslissingsraad het bevind dat daar onvoldoende bewyse is dat
Brandhouse Beverages, wat Windhoek Lager bemark, die advertensiekode oortree
het.
*** Tennis: Robin Soderling van Swede het die Spanjaard, Rafael Nadal, in
twee stelle geklop in die ATP-Wêreldtoer-eindronde in Londen.
Die telling was 6-4 en 6-4.
Die Sweed het Nadal ook vroeër vanjaar in die Franse Ope geklop.
In nog ‘n wedstryd het die derde gekeurde Novak Djokovic van Serwië met 3-6,
6-4 en 7-5 teen Nikolay Davydenko van Rusland gewen.
*** Krieket: Die jongste beskikbare telling op die eerste dag van die
eerste van drie toetse tussen Nieu-Seeland en Pakistan in Dunedin is 219 vir
ses in Nieu-Seeland se eerste beurt.
Ross Taylor is vir 94 lopies uitgehaal.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 51 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 46 sent teenoor die pond en op 11 rand 24 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,167 dollar per fynons en platinum teen
1,457 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 66 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.