NUUS: 25 Maart om 11:00

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 25 Maart 2010 11 vm  

 

# Die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, sê haar party gaan voort om oral in Suid-Afrika te groei en wen al meer setels wat voorheen aan die ANC behoort het. Sy het kommentaar gelewer na DA-oorwinnings in tussenverkiesings in die plaaslike owerhede Boland, Breedevallei en Theewaterskloof. Breedevallei het eers aan die ANC behoort. Zille sê haar party het in verlede jaar se algemene verkiesing vier setels by die ANC afgeneem, en een by Icosa.  

 

# AgriSuid-Afrika se president, Johannes Möller, is bekommerd dat ideologies-gedrewe ingrypings in die grondmark vertroue kan belemmer en beleggings afskrik. Hy sê dit sal negatiewe langtermyn-gevolge inhou vir voedselproduksie en werkskepping op plase. Möller het reageer op regeringsplanne om die hoeveelheid grond te beperk wat ‘n boer mag besit. Hy het egter die belofte van die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti, verwelkom om pragmaties te wees ten opsigte van grondige veranderings aan grond-eienaarskap.

 

# Tot ‘n honderd polisielede van die Australiese staat Victoria word ondersoek oor ‘n rassistiese epos-boodskap waarin ‘n nie-blanke man gemartel word. Die staat se polisiemag is vroeër gekritiseer omdat hy nie voldoende reageer het op ‘n reeks aanvalle op Indiese studente in Melbourne nie. Vroeër die maand het die polisiehoof erken dat sommige van die lede rassisties is. ABC News berig dat dit gevolg het op ‘n verdoemende verslag waarin lede beskuldig word van die mishandeling van ‘n jeugdige uit Afrika.

 

# Samesprekings tussen Amerika en Israel oor die vermindering van spanning tussen hulle het geëindig sonder enige teken van ‘n deurbraak. Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, het Washington verlaat na twee dae van ontmoetings om vredesonderhandelings met die Palestyne weer op koers te kry. Hy het aan verslaggewers gesê ‘n mate van vordering is gemaak, maar nie hy of die Withuis het enige ooreenkoms genoem nie. Amerika het Israel gekritiseer oor sy jongste planne om huise in die besette Oos-Jerusalem te bou. 

 

# Nog ‘n Amerikaanse internet-maatskappy het aangekondig dat hy gedeeltelik aan die Sjinese mark gaan onttrek weens kommer oor sensorskap. Google het vroeër opgehou om sy gebruikers in Sjina te sensor en begin om hulle na sy Hongkongse webblad te herlei. Die BBC berig dat Now Go Daddy, een van die grootste domeinnaam-registrasiemaatskappye ter wêreld, sê hy registreer nie meer name in Sjina nie weens wat hy bestempel as die regering se nuwe inmengende reëls.

 

# En geldsake: Die rand verhandel tans teen 7 rand-38 teen die dollar, 9 rand-84 teen die euro en 11 rand-1 sent teen die pond. Die goudprys is duisend-92 dollar-13 sent per fynons en Brent ruolie kos 79 dollar-58 per vat.

 

Dit is die einde van die nuus, saamgestel deur NuusFlits Nuusagentskap.

Leave a Reply