NUUS: 26 Januarie 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
………………………………………………………………………………..
…..
*** Vier mense is dood en nog nege beseer in ‘n botsing vroeg vanoggend op die N1 naby die Zambezi-afrit in Pretoria.
Inspekteur Ben Strydom van die Gautengse polisie sê die vragmotor het op die pad gestaan en die taxi het van agter daarin vasgejaag.
Vier van die taxi se insittendes is op slag dood en nog nege is met
beserings na die hospitaal geneem.
Groot verkeersopeenhopings het voorgekom nadat twee van die bane van die N1-Suid gesluit moes word.
*** Verkeersowerhede het motoriste vanoggend gewaarsku dat verskeie paaie oos van Johannesburg oorstroom is nadat die Benoni-meer weens swaar reën oorgeloop het.
‘n Woordvoerder van die Ekhurleni-metropolisie sê verskeie paaie rondom die meer is gesluit.
*** Nasionale krieket-afrigter Mickey Arthur sal na verwagting môre redes
vir sy skokbedanking verskaf.
Die Suid-Afrikaanse span se woordvoerder, Michael Owen-Smith, het vanoggend
bevestig dat Arthur en die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Gerald
Majola, môre ‘n mediakonferensie in Oos-Londen sal hou.
Arthur het glo gister in Johannesburg met Majola oor sy uittreepakket
gepraat.
*** Arthur se skokbedanking kom slegs enkele dae nadat hy en die bestuur
van Krieket Suid-Afrika ‘n week gelede ’n noodvergadering in Johannesburg
gehou het.
Majola het voor die vergadering gesê dit is reeds in Desember beplan en dat
dit nie met die toetsreeks teen Engeland verband hou nie.
Volgens berigte kom Arthur se bedanking nadat sy verhouding met Graeme Smith
die afgelope maand glo onherstelbaar verbrokkel het.
*** ‘n Gesin van Soshanguve is in die vroeë oggend deur drie gewapende
rowers in hulle huis geterroriseer en beroof.
Die Gautengse polisie sê die gesin het nog geslaap toe hulle oorval is.
Die rowers het 13-duisend-500 rand se kontant, ‘n televisiestel en ‘n
DVD-speler gesteel voordat hulle die gesin vasgebind en gevlug het.
*** Reddingspanne van verskeie lande help nog om na liggame te soek na
gister se vliegramp aan die kus van Libanon.
Daar word aanvaar dat al 90 insittendes van die Ethiopiese
passasiersvliegtuig dood is nadat die vliegtuig gisteroggend in stormweer in
die Middellandse See geval het kort nadat dit van die lughawe van Beiroet
opgestyg het.
*** Een bemanningslid is dood en nog tien word vermis nadat ‘n vragskip van
Thailand in gure weer aan die kus van Taiwan gesink het.
Die Sea Angel was van Maleisië na Sjina onderweg toe dit gisteraand sowat 40
kilometer van die Yunlin-provinsie aan die weskus van Taiwan gesink het.
‘n Verbygaande vragskip het die owerhede in kennis gestel en ‘n see- en
lugsoektog is van stapel laat loop.
Nege bemanningslede met reddingsbaadjies is uit die see opgepik.
*** Krieket: Indië het sy tweede beurt op die derde dag van die tweede
toets teen Bangladesj in Dhaka gesluit verklaar op 544 vir agt.
Dit beteken dat Indië ‘n eerstebeurt-voorsprong van 311 lopies het.
Die jongste beskikbare telling in Bangladesj se tweede beurt is 111 vir een.
*** In die derde eendagwedstryd tussen Australië en Pakistan in Adelaide
het Australië 286 vir ses in sy 50 boulbeurte aangeteken.
Shaun Marsh het 83 lopies aangeteken en Michael Clarke 80.
Die jongste beskikbare telling in Pakistan se beurt is 20 vir een in die
sesde boulbeurt.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 64 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 40 sent teenoor die pond en op 10 rand 76 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,095 dollar per fynons en platinum teen
1,531 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 72 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.