NUUS: 26 November 2009 om 08:00

Die nuus om agtuur:

***’n Senior amptenaar van die George munisipaliteit het gewaarsku dat die Suid-Kaapse dorp se waternetwerk tydelik afgesluit kan word as daar nie gou verligting kom vir die verslegtende watersituasie nie.
Dit sal meebring dat die ongeveer 190-duisend inwoners net water op bepaalde tye by bepaalde punte in die dorp sal kry.
George se vernaamste waterbron, die Tuinroetedam is tans net meer as 23 persent vol.

*** Volgens pres. Jacob Zuma kan sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, wat tans op mediese parool is weer in die tronk beland as hy sy paroolvoorwaardes sou verbreek.
Zuma het reageer op ‘n navraag in die parlement van Cope se Anele Mda.
Volgens die president het die departement van korrektiewe dienste nog geen formele klagtes teen Shaik ontvang nie.

***Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die kaping van ‘n vragmotor op Brakpan aan die Oos-Rand wat aan ‘n aartappelskyfie maatskappy behoort.
Drie mans het die vragmotorbestuurder oorval terwyl hy besig was om geld te tel.
Die polisie het daarin geslaag om twee verdagtes van Soweto vas te trek.
Hulle soek egter nog na die man wat met die geld vort is.

*** Die polisie in Mpumalanga is op soek na ‘n bende wat by ‘n vlaag kitsbank ontploffings in die provinsie betrokke was.
‘n Veiligheidsbeampte op Lydenburg het kitsbankrowers met sy verfbalgeweer verwilder nadat hulle ‘n kitsbank in die dorp met plofstof oopgeskiet het.
Kort ná die Lydenburg-voorval is kitsbanke ook in Delmas, Tweefontein naby Witbank en Bethal oopgeskiet.
Onbekende bedrae geld by dié drie kitsbanke gesteel.

***Werkers van die Alfred Nzo Distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap het gedreig om te begin staak as hulle salarisse nie vandag betaal word nie.
Die werkers is lede van die munisipale werkersvakbond SAMWU.
‘n Woordvoerder van die vakbond, Zakahle Mgilane, sê niemand weet hoekom die werkers nog nie betaal is nie, maar dit is onregverdig dat raadslede reeds hulle geld op 15 November gekry het.

***Seremonies word vandag in die Indiese stad Moembaai gehou om die terreuraanvalle ‘n jaar gelede te herdenk wat die lewens van meer as 170 mense geeis het.
‘n Gedenkteken gaan later vandag vir die slagoffers onthul word.
Nege militantes is in die terreur-aanvalle dood.
Die enigste oorlewende aanvaller word tans in Indië verhoor.

*** ‘n Naakfoto van die rolprentregisseur Roman Polanski en sy vrou Sharon Tate, wat geneem is kort voor sy vermoor is, gaan opgeveil word.
Die foto sal na verwagting vir 10-duisend dollar opgeveil word.
Polanski het in 1978 uit Amerika gevlug voor hy gevonnis kon word weens seks met ‘n minderjarige meisie.
Hy word tans in ‘n Switserse gevangenis aangehou.

*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 36 teenoor die dollar, op 12 rand 26 teenoor die pond en op 11 rand 12 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen 1,193 dollar 67 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-475 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 91 sent per vat.

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.

Leave a Reply