NUUS: 27 Januarie 2010 om 11:00
PenOrent Nuus: Woensdag 27 Januarie 2010.
Die nuus om elfuur:
***Die gesin wat die naweek uitgewis is toe motorkapers op die R30 tussen Derby en Noordwes in hul motor vasgejaag het, word vandag saam in een graf begrawe.
Die 30-jarige Johan Fourie sy vrou, Talita en hul babaseun van twee maande is op slag dood.
Die gesin se begrafnisdiens begin vanoggend om elfuur in die NG kerk Derby.
Een van die twee kapers wat in die botsing beseer is, is reeds uit die hospitaal terwyl die ander een onder polisiebewaking is.
***Twee mans het in die landdroshof in Kimberley in die Noord-Kaap verskyn in verband met die diefstal van ongeslypte diamante van meer as ses miljoen rand.
Die polisie se Cherelle Ehlers, sê een van die twee verdagtes het by ‘n plaaslike diamantmyn as bestuurder van die sorteer-afdeling gewerk.
Die twee is elk op borgtog van 200-duisend rand vrygelaat en die saak is vir verdere ondersoek tot 23 Maart uitgestel.
***Altesame 62 inwoners van Tshepisong buite Roodepoort aan die Wes-Rand is gister op aanklagte van openbare geweldpleging gearresteer toe ‘n betoging oor swak munisipale dienslewering handuit geruk het.
Paaie na die woonbuurt is met klippe en brandende buitebande versper en inwoners het die polisie met klippe
bestook.
Inwoners wag al sedert 2000 dat die owerhede beloftes oor HOP-huise, lopende drinkwater en toiletgeriewe moet nakom.
Hulle eis ook dat gratis elektrisiteit aan hulle voorsien word.
***Die vakbond Solidariteit eis dat daar dringend ondersoek na Eskom se regstellende aksie-aanstellings gedoen moet word.
Dit kom nadat swart Amerikaanse werknemers van die kragreus op die M-Net-program Carte Blanche beweer het hulle is na Suid-Afrika gelok om Eskom se regstellende aksie-teikens te haal.
Eskom het na twee dae se navrae nog nie dié aantygings ontken of bevestig nie.
***Duisende pendelaars in en om Johannesburg is vanoggend vir die derde agtereenvolgende dag gestrand te midde van die staking van treindrywers wat aan die vakbond SATAWU behoort.
Treindrywers het nié vandag vir werk opgedaag nie, ondanks ‘n hofbevel wat Metrorail gister bekom om hulle te dwing om te kom werk.
SATAWU vergader vandag met sy lede in Johannesburg om te besluit of hulle hul staking gaan voortsit.
***Hoop dat die onwettige besetting van Suid-Afrikaanse boere se plase in Zimbabwe met die hulp van dié land se howe bygelê sal word, het gister nóg ‘n terugslag gekry.
Dit volg nadat die hooggeregshof in Harare geweier het om die 2008-uitspraak van ‘n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te registreer.
Dié tribunaal het in 2008 in Windhoek beslis die grond-hervormingsprogram van pres. Robert Mugabe se regering is onwettig en rassisties, en dat die boere wat van hul plase verdryf is, toegelaat moet word om na hul plase terug te keer.
***Die Oostenrykse weermag gaan vierduisend troepe en 30 vliegtuie beskikbaar stel as deel van veiligheidsmaatreels vir die jaarlikse Wereld Ekonomiese forum in Davos, Switserland.
Die beraad begin vandag in alle erns by die Switserse ski-oord.
Die Oostenrykse troepe en vliegtuie en helikopters sal help om die lugruim in die Tirool en Voralberg provinsies te bewaak wat naby die Switserse ski-oord gelee is.
***Tennis: Serena Williams,die verdedigende kampioen in die vroue-enkelspel by die Australiese Ope in Melbourne, het haar plek in die een halfeindstryd verseker toe sy Viktoria Azarenka in drie stelle geklop het.
Die telling was 4-6. 7-6 en 6-2.
Vroeër moes haar suster Venus die knie voor Sjina se Li Na buig.
Li sal nou teen Serena in die een halfeindstryd te staan kom.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 62 teenoor die dollar, op 12 rand 29 teenoor die pond en op 10 rand 70 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen eenduisend 93 dollar 28 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-508 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 93 sent per vat.
—
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.
Sel: 083 491 5148
kdkock@lantic.net