NUUS: 27 Oktober om 13:00

Dinsdag 27 Oktober 2009

In die Nuus om Een

**  Die stormweer in die Wes- en Oos-Kaap eis nog ‘n lewe,

**  Man in Johannesburg gearresteer vir die moord op ‘n verkeersbeampte, EN

**  ‘n Britse egpaar op ‘n seiljag word aan die kus van Somalië vermis.

*** ‘n Man is dood nadat ‘n stormsterkte wind ‘n muur van sy huis in Addo in die Oos-Kaap omgewaai het.

Volgens die polisie se inspekteur Gerda Swart is die middeljarige Piet
Crouse noodlottig beseer toe die muur gisteraand op hom geval het.

Hy en sy vrou was alleen in die huis toe die voorval omstreeks half-tien
plaasgevind het.

***  Intussen sê ‘n woordvoerder van die Weerdiens die stormsterk wind wat die Wes-Kaap sedert die naweek geteister het, het na die Oos-Kaap beweeg. Dit sal na verwagting later vandag begin bedaar.

‘n Sesjarige kind is vroeg gisteroggend dood toe ‘n groot boom ontwortel is
en op ‘n huis in die Strand geval het. Vier vissermanne het ook gister verdrink nadat hulle boot by Mosselbaai omgeslaan het.

***  ‘n Man is in die vroeë oggendure by ‘n meenthuis in Mondeor, suid van
Johannesburg, in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n
verkeersbeampte die afgelope naweek in Reiger Park.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder is beslag gelê op twee pistole, insluitend
die dienspistool wat aan die verkeersman, Marvin Flagg, behoort het.

Flagg is Saterdagoggend doodgeskiet toe hy die bestuurder van ‘n motor wat onwettig geparkeer was, gevra het om die voertuig te verskuif.

***  Ontstoke inwoners van die dorpie Sir Lowry’spas in die Wes-Kaap het
vanoggend buite die landdroshof op Somerset-Wes saamgedrom waar twee
verdagtes verskyn het in verband met die ontvoering, verkragting en moord van die negejarige Juanita Josephs die afgelope naweek.

Volgens polisiewoordvoerder Susan Jantjies is Josephs Saterdag as vermis
aangemeld en ‘n 22-jarige man is later die dag in hegtenis geneem.
Die tweede verdagte is Sondag gearresteer.

***  Die Gautengse polisie het vuurwapen-eienaars daarop gewys dat hulle hul vuurwapenlisensie en identiteitsdokument by hulle moet hê indien hulle die wapen in die openbaar by hulle dra.

Superintendent Eugene Opperman sê dié dokumente is baie belangrik, aangesien mense met vuurwapens enige tyd tydens polisie-operasies deur wetstoepassers gekonfronteer kan word.

Hy sê die vuurwapenlisensie moet ook vir die betrokke vuurwapen wees. Volgens Opperman is 13 mense die afgelope 24 uur in hegtenis geneem en agt onwettige vuurwapens teruggekry tydens roetine-operasies deur die polisie in die provinsie.

Vier van die verdagtes is gister gearresteer nadat die polisie inligting
ontvang het oor ‘n beplande huisroof in Alberton aan die Oos-Rand.

***  Mpumalanga se onderwysdepartement het besluit dat drie matrikulante, wat matriekvraestelle in hulle besit gehad het, toegelaat sal word om eksamen te skryf totdat ondersoeke toon dat hulle skuldig is.

Volgens amptenare wat in Mpumalanga is om die uitlek van vraestelle te
ondersoek, is sekere amptenare in die departement moontlik daarby betrokke.

***  Die Britse departement van buitelandse sake sê soekspanne fynkam die
kus van Somalië nadat die seiljag van ‘n Britse egpaar in die gebied vermis
geraak het.

Die Britse Maritieme en Kuswag-agentskap sê Paul en Rachel Chandler was van die Seychelle-eilande na Tanzanië onderweg toe hulle vroeg Vrydagoggend ‘n noodsein uitgestuur het.

Sedertdien is daar nog niks weer van hulle gehoor nie. Kuswagbote van die Seychelle kon tot dusver geen spoor van die seiljag vind nie. Volgens die departement is daar ‘n moontlikheid dat hulle deur seerowers onderskep is.

***  Krieket:  Zimbabwe het die loot gewen en besluit om eerste te boul in
die eerste eendagwedstryd teen Bangladesj in Dhaka.

Die jongste beskikbare telling in Bangladesj se beurt is 138 vir agt in die
43ste boulbeurt. Die naatbouler, Elton Chigumbura, het tot dusver drie paaltjies vir 20 lopies ingeoes.

***  Finansiële nuus:  Die rand verhandel op 7 rand 58 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 44 sent teenoor die pond en op 11 rand 30 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,039 dollar per fynons en platinum teen 1,331 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 36 sent per vat.

………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………… 
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply