NUUS: 28 Januarie 2010 om 11:00

 

PenOrent Nuus: Donderdag 28 Januarie 2010.

 

Die nuus om elfuur:

 

*** Die voormalige Springbok- en Bulls-flank Ruben Kruger het sy jarelange stryd teen breinkanker verloor.
Kruger is gisteraand in die ouderdom van 39 jaar in ‘n Pretoriase hospitaal oorlede.
Hy het van 1993 tot 1999 as Springbok-flank uitgedraf en was deel van die seevierende Wêreldbeker-kampioenspan van 1995.
Kruger laat sy vrou Lize en twee dogters die sewejarige Zoë en die vierjarige Isabella  agter.

 

***Ondanks  ontkennings deur Krieket Suid-Afrika  word daar sterk in krieketkringe gegis dat Mickey Arthur sy pos as hoofafrigter kwyt is weens transformasie teikens wat nie bereik is nie.

Ingeligtes beweer Arthur het onder druk van KSA se

bestuur gekom omdat Suid-Afrika in die afgelope reeks teen Engeland in drie van die vier toetse sonder ‘n swart speler  gespeel het.

Bruin spelers soos JP Duminy en Ashwell Prince voldoen volgens die ingeligtes nie aan die kleurvereiste wat KSA vir die pad vorentoe vir die Suid-Afrikaanse span stel nie.

 

*** ‘n Man is deur lede van die gemeenskap op Tsakane aan die Oos-Rand met klippe doodgegooi nadat hy drie mense geskiet het.

Een van die persone wat geskiet het is dood terwyl twee ander gewond is.

‘n Pistool, waarvan die reeksnommer afgevyl is, is na die steniging in die besit van die aanvaller gekry.

 

 

 

*** ‘n Man wat ernstige brandwonde opgedoen het toe sy huis in Parow naby Kaapstad aan die brand geslaan het, is op die toneel oorlede.

Daar was niemand anders in die huis tydens die brand nie.

Ondersoek word die oorsaak van die brand ingestel.

 

***Die pad tussen Welkom en Bultfontein in die Vrystaat is vir verkeer gesluit omdat dit weens swaar reëns oorstroom is.

Motoriste is versoek om alternatiewe roetes soos die N-1 tussen Bloemfontein en Welkom en die pad tussen Brandfort en Welkom te gebruik.

Talle plaaspaaie in die Noord Vrystaat is ook oorstroom.

 

***Die dodetal weens die gasontploffing wat ‘n woonstelblok in die Belgiese dorp Liege verwoes het, het tot nege gestyg.

Die polisie vrees dat ander geboue in die omgewing van die woonstelblok, wat ook beskadig is, inmekaar kan tuimel.

Altesame 21 mense is beseer, van wie drie ernstig, toe die ses verdieping gebou na die ontploffing ineengestort het.

 

*** Navo en Afgaanse magte het die hulp van oorlogs-vliegtuie ingeroep nadat hulle deur ‘n groot aantal Taliban vegters in die noorde van Afganistan aangeval is.

Tussen twaalf en twintig Taliban vegters is in die daaropvolgende Navo lugaanvalle  doodgeskiet.

Die aanvalle het laat gisteraand in die Baghlan provinsie plaasgevind.

 

*** Tennis: Justine Henin van België het ‘n maklike oorwinning in die een halfeindstryd van die Australiese Ope in Melbourne oor Zheng Jie van Sjina behaal.

Die telling was 6-1 en 6-stroop.

Sy sal in die eindstryd van die toernooi teen die eerste gekeurde en verdigende kampioen, Serena Williams speel.

Williams het in die ander halfeindstryd teen nog ‘n Sjinese speler, Li Na, gewen.

Die telling was 7-6 en 7-6.

 

 *** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 56 teenoor die dollar, op 12 rand 30 teenoor die pond en op 10 rand 60 teenoor die euro.

Goud het kort gelede teen eenduisend 91 dollar 80 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-522 dollar 50 sent.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 70 sent per vat.

 

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.

Leave a Reply