NUUS: 28 Oktober om 11:00

PenOrent Nuus :  Woensdag 28 Oktober 2009.

Die nuus om elfuur:

*** Krygkor-hoofde sal vandag met die minister van verdediging, Lindiwe Sisulu byeenkom om te besluit of hulle voortgaan met ‘n peperduur Airbus transaksie.

Die prys van agt militêre vervoervliegtuie wat van Airbus bestel is, het volgens berigte met 30 miljard tot 47 miljard rand gestyg. Airbus het die prys van die A400M vliegtuie verhoog as gevolg van die lang tydperk
wat verloop het sedert die bestelling geplaas is.

*** Drie mans sal vandag in die landdroshof op Dundee in KwaZulu-Natal verskyn in verband met die diefstal van bagasie  van Belgiese toeriste.

Die toeriste het na middagete Sondag vasgestel dat hul bagasie uit hul voertuig gesteel is. Lede van die gemeenskap het aan die polisie vertel dat hulle gesien dat drie mans met die bagasie gesien het. Vyf stuks bagasie is in die verdagtes se besit gevind.

*** ‘n Weermag kapelaan, W.T. Ndala , is deur ‘n senior militêre regter, kolonel Len Els, skuldig bevind  aan skandalige gedrag.

Ndala is aangekla nadat hy probeer het of seksuele omgang gehad het met die vrou van ‘n ondergeskikte weermaglid  in September   2007.
Die vrou, sersant  Mavis Rampeng, is enkele maande gelede dood.
Haar man ‘n sersant het die paar op heterdaad betrap.

*** Die soektog na die sesde visserman wat vermis word nadat ‘n vistreiler in die see by Mosselbaai in die Suid-Kaap omgeslaan het, is vanoggend hervat.

Vier mans is dood toe die boot in ruwe seetoestande omgeslaan en gesink het.  Slegs een visserman het lewend uit die see gekom.

*** Vier mense is vanoggend in twee afsonderlike ongelukke in die omgewing van Durban beseer.

Drie mense is op die M-4 snelweg beseer toe ‘n motor van agter af in ‘n minibus taxi vasgejaag het. In die ander ongeluk is ‘n vrou op die N-2 naby die Durbanse internasionale lughawe beseer toe haar kar omgeslaan en teen ‘n stormwater drein beland het.

***Ses buitelandse VN werkers is dood  en nege ander gewond in ‘n Taliban aanval op ‘n gastehuis in die Afgaanse hoofstad Kaboel.
Die aanval is deur drie Taliban vegters uitgevoer wat later in gevegte met
regeringsoldate dood is.

Twee Afgaanse veiligheidswagte en ‘n burgerlike is ook dood.
Die terreuraanval het plaasgevind tien dae voor die tweede rondte presidensiële verkiesing in Afganistan.

***Die MDC party  van die Zimbabwiese premier Morgan Tsvangirai sê een van sy sekuriteitsbeamptes  is deur militante ondersteuners van pres. Robert Mugabe geintimideer.

‘N MDC woordvoerder Nelson Chamisa sê die aanval was deel van nuwe vlaag van geweld teen die MDC omdat die party hom gedeeltelik aan die koalisieparty met ZANU PF  onttrek het.

Die MDC vroue-amptenaar is gister in Harare deur vier gewapende mans voorgekeer wat aan haar gesê het dat hulle haar wil arresteer.
Die mans het op die vlug geslaan toe ‘n skare byeengekom het.

*** Die oud-tennisspeler  Andre Agassi het erken dat hy tydens sy loopbaan positief getoets het vir die dwelm metamfetamien - beter bekend as tik.
Agassi het ook erken dat hy vir die tennisowerhede daaroor gejok het om ‘n skorsing te vermy.  Hy het in ‘n outobiografie onthul dat hy die dwelmmiddel in 1997 gebruik het.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 73, ‘n Britse pond 12 rand 64 en ‘n Euro 11 rand 45 sent.

Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,038 dollar 45 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-319 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 77 dollar 42 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………….
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent Nuus. ©.

Leave a Reply