NUUS: 28 Oktober om 13:00

PenOrent Nuus :  Woensdag 28 Oktober 2009.

In die nuus om eenuur:

**Drankmisbruik vir huishoudelike geweldsvoorvalle blameer.

**Pretoriase grafiese ontwerper sit kardiewe agterna.

**En minstens vyftien mense dood in motorbom ontploffing in Pakistan.

*** ‘n Mediese kenner sê tot tagtig persent van huishoudelike geweld voorvalle kan aan alkohol-misbruik toegeskryf word.
Die hoof van die Rooikruis Kinderhospitaal  in Kaapstad se trauma-eenheid, professor Sebastian van As, sê sy eenheid behandel jaarliks  meer as tienduisend kinders slagoffers van geweld.

Die parlementere komitee oor vroue, jeug en mense met gestremdhede hou vandag en môre openbare sittings  in verband  met die implementering van die wet op huishoudelike geweld.

***’n Vier-en-twintigjarige vrou van die Sweetwaters woonbuurt by Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, wat na bewering haar twee jong kinders se kele afgesny het, verskyn vandag in die plaaslike landdroshof .

Die vrou se vriend is ook in hegtenis geneem nadat hy glo die vyfjarige meisie verkrag het. Lede van die gemeenskap het die twee aan die polisie oorhandig.

***Oos-Kaapse amptenare en tradisionele leiers het die Mount Frere gebied besoek  waar sowat 90 hutte deur ‘n tornado beskadig is. Twee skole en ‘n kerk se dak is ook deur die stormwinde afgewaai.

Die Alfred Nzo Distriksmunisipaliteit beraam skade wat deur die tornado aangerig is op drie-en-’n-half miljoen rand.

*** ‘n Grafiese ontwerper van Centurion , Frans-Hendrik Gouws, het met die hulp van ‘n taxibestuurder  een van die drie mans vasgetrek wat sy vrou se Uno uit ‘n meenthuis-kompleks  in Wierdapark gesteel het.

Gouws het die gesteelde kar tot in die Pretoriase middestad agtervolg waar die skelms van agter in ‘n taxi vasgejaag het. Die taxibestuurder het een van die mans platgeduik en gearresteer maar die ander twee kardiewe het daarin geslaag om weg te kom.

***Die onderhoudsgeskil tussen die oud Springbok rugbyspeler Naas Botha en sy vervreemde seun is gister in die onderhoudshof in die Pretoriase landdroshof tot April aanstaande jaar uitgestel.

Die 21-jarige   Francois Jooste  eis onderhoud vir sy klasgeld en lewenskoste. Beeld berig dat Botha se advokaat gister nie behoorlik voorbereid was om met die saak voort te gaan nie en om uitstel gevra het.

***Uit Peshawar in Pakistan word berig dat minstens vyftien mense dood en 35  ander gewond is in ‘n vermeende motorbom ontploffing.
Die ontploffing het in ‘n besige mark in die stad plaasgevind. Die  bomaanval het gebeur kort na die aankoms in  Pakistan van die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton.

***Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe  gaan waarnemende ministers vanuit sy Zanu-PF party aanstel om poste te vul wat vakant is weens ‘n boikot deur die opposisie MDC-party.

MDC-ministers het sedert verlede week reeds twee kabinetsvergaderings geboikot uit protes teen Mugabe se hardnekkige weiering om  hervormings deur te voer en die volgehoue vervolging van die MDC tesourier, Roy Bennett.

Die Zimbabwiese premier, Morgan Tsvangirai, het vroeër vandeesweek gesê hy hoop die Suider Afrikaanse Ontwikkelings- gemeenskap sal daarin slaag om pres. Mugabe oor te haal om hom by die magsdelingooreenkoms met die MDC te hou.

*** Fietsry:  ‘n Sewemalige wenner van die Tour de France , Lance Armstrong, het aangedui dat hy graag in 2011 aan die Epic  bergfietstoer deel te neem.

Die bergfiets-wedren vind oor ‘n tydperk van agt dae plaas.
Armstrong kom volgende jaar in Maart vir drie dae na Suid-Afrika.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 72, ‘n Britse pond 12 rand 61 en ‘n Euro 11 rand 42 sent.

Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,036 dollar 17 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-315 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 77 dollar 21 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent Nuus. ©.

Leave a Reply