NUUS: 29 Januarie 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Duisende polisielede van regoor die land het by Vodacom Park in
Bloemfontein byeengekom vir die viering van Nasionale Polisiedag.
Volgens berigte het die polisielede per trein, busse en minibus-taxi’s
aangekom en tot 50-duisend is verwag.
Die Polisiedag is ingestel om erkenning aan die polisie te gee vir hulle
werk om misdaad te beveg.
Die minister van Polisie, Nathi Mthethwa, sal die hoofspreker wees.
Die Volksblad berig dat 30 beeste vir die geleentheid geslag is.
Die Demokratiese Alliansie het die vieringe as ‘n vermorsing van geld
bestempel en gesê dit sal die bekamping van misdaad in die wiele ry.
*** Twee polisiemanne en ‘n veiligheidswag is vanoggend gewond toe daar op
hulle geskiet is terwyl hulle ‘n huisbraak in Rondebosch, Kaapstad,
ondersoek het.
Kaptein Angie Latchman van die Wes-Kaapse polisie sê ‘n verdagte het hom uit
die greep van die veiligheidswag losgewikkel en die wag se vuurwapen
afgeneem.
Hy het daarna blindelings op die wag en die polisiemanne geskiet voordat hy
gevlug het.
Die beseerdes is na die hospitaal geneem vir behandeling.
*** Mense wat ‘n verkeersboete wil betwis, sal dit voortaan in die hof moet
gaan doen.
Beeld sê die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolgings, Menzi
Simelane, het staatsaanklaers landwyd verbied om verkeersboetes te verminder
of terug te trek.
‘n Interne brief met dié opdrag is aan aanklaers gestuur.
Daarin sê Simelane boetes moet na howe vir vervolging verwys word.
Dít beteken dat nog meer druk op die reeds oorvol hofrolle geplaas gaan word
omdat enige dispuut oor verkeersvertoë soos enige ander vervolging gehanteer
moet word.
Voorheen het aanklaers ingevolge die Strafproseswet die mag gehad om hulle
oordeel oor die meriete van verkeersvertoë te gebruik.
*** Die onafhanklike reguleerder wat die Lughawensmaatskappy van
Suid-Afrika (Acsa) se tariewe vasstel, het Acsa se jongste tariefaansoek
verwerp.
Die voorsitter van die reguleerder, Mohammed Sizwe, sê die maatskappy wil hê
toeriste moet vir sy eie ondoeltreffendheid betaal.
Hy het volgens Sake24 gesê ‘n ondersoek na die jongste aansoek het ‘n hele
aantal wesenlike ondoeltreffendhede by Acsa aan die kaak gestel.
Acsa het die reguleerder aanvanklik gevra om sy tariewe in sy
2010/11-boekjaar met 132-komma-nege persent te verhoog.
Die reguleerder het 59-komma-nege persent voorgestel.
*** Minstens nege mense - die meeste van hulle burgerlikes - is dood tydens
hewige gevegte wat laat gisteraand in die Somaliese hoofstad, Mogadishu,
tussen Islamitiese insypelaars, wat met al-Qaeda verbind word, en soldate
van die Afrika-unie se vredesmag uitgebreek het.
Grofgeskut en outomatiese geweervuur is tot vanoggend in die stad gehoor.
*** Die voormalige Britse eerste minister, Tony Blair, verskyn vandag voor
die Chilcot-komitee wat ondersoek instel na Brittanje se deelname aan die
Irakse oorlog.
Hy sal na wat berig word ses uur lank ondervra word.
Die BBC berig dat teenstanders van die oorlog en familielede van die 179
Britse soldate wat in Irak gesneuwel het, na verwagting buite die gebou in
Londen, waar die openbare verhoor sal plaasvind, gaan betoog.
*** Rugby: Die Sharks het die agtsteman, Willem Alberts, in sy beginspan
gekies vir vanaand se vriendskaplike wedstryd teen die Stormers op Nuweland
in Kaapstad.
Dít ondanks ‘n vermaning deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie dat dit ‘n
oortreding van sy regulasies sal wees indien Alberts sonder ‘n
vrystellingsertifikaat van die Goue Leeus Rugbyunie speel.
Die Sharks se span is Patrick Lambie, Odwa Ndungane, Waylon Murray, Andries
Strauss, JP Pietersen, Monty Dumond, Rory Kockott, Alberts, Jean Deysel,
Keegan Daniel, Johann Muller, Gerhard Mostert, John Smit (kaptein), Bismarck
du Plessis en Jannie du Plessis.
Altesaam 12 plaasvervangers is gekies.
*** Intussen sal Schalk Burger vanaand die Stormers aanvoer nadat hy van sy
beenbesering herstel het.
Die span is Joe Pietersen, Gio Aplon, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan
Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw,
Burger, Andries Bekker, De Kock Steenkamp, Brock Harris, Tiaan Liebenberg en
Wicus Blaauw.
Die Stormers het tien spelers op die plaasvervangerbank.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 61 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 26 sent teenoor die pond en op 10 rand 61 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,084 dollar per fynons en platinum teen
1,511 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 72 dollar 5 sent per vat.
……………………………………………………………………….
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.