NUUS: 29 Oktober om 08:00
PenOrent Nuus : Donderdag 29 Oktober 2009.
Die nuus om agtuur:
***Die polisie in Germiston oos van Johannesburg het drie van hul kollegas in hegtenis geneem in verband met die diefstal van klerasie ter waarde van
twee-komma-vyf miljoen rand.
Die klerasie het verdwyn van die toneel van ‘n vragmotor kaping.
Die polisie se kaptein Steady Nawa sê twee senior offisiere en ‘n konstabel is na ‘n wenk van die publiek in hegtenis geneem. Die vragmotor is Maandagaand by Heidelberg in Gauteng gekaap.
*** Die Gautengse gesondheidsdepartement sê 546 miljoen rand is nog verskuldig aan verskaffers by vyftien staatshospitale in die provinsie.
‘n Departementele woordvoerder, Mandla Sidu, sê daar is reeds begin om die uitstaande skuld so gou as moontlik te betaal.
Altesame 92 miljoen rand word deur die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal geskuld, 77 miljoen rand deur die Chris Hani Baragwanath hospitaal in Soweto en 59 miljoen rand deur die Dr George Mukhari hospitaal.
*** Vullisverwydering-werkers wat op kontrakbasis deur die Tshwane metroraad in Pretoria indiens geneem word , het begin staak.
As gevolg hiervan is vullisdromme in verskeie dele van Pretoria sedert die begin van die week nog nie leeggemaak nie. Die stakende werkers is glo ontevrede oor oortydbetalings vir September.
*** Twee broers is lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Pietermaritzburg opgelê vir die moord op ‘n egpaar van Hammarsdale in KwaZulu-Natal.
Sibongiseni Buthelezi en sy broer Brian het ‘n man, wat hulle by ‘n taverne ontmoet het, ontvoer, beroof en daarna vermoor. Een van hulle het hierna die slagoffer se vriendin verkrag en ook vermoor.
*** ‘n Vyftigjarige vrou van Pietermaritzburg het erge brandwonde opgedoen nadat brandstof glo op haar uitgegooi en aan die brand gesteek is.
Die voorval het glo tydens ‘n huishoudelike rusie plaasgevind maar die vrou is met die aankoms van nooddienswerkers alleen in die huis aangetref.
Sy het brandwonde aan haar gesig, arms en bolyf opgedoen.
** ‘n Jong Kanadese vrou is dood nadat sy deur twee prêriewolwe in die ooste van Kanada aangeval is.
Die 19-jarige Taylor Mitchell was alleen op ‘n staptog in die Cape Breton Highlands Nasionale Park toe die wolwe haar aangeval het.
Mitchell, wat erge bytwonde in die aanval opgedoen het, is per helikopter na ‘n hospitaal in Halifax geneem waar sy gister oorlede is.
*** Oorlogskepe van die Europese Unie in die see by Somalië het ‘n seiljag
opgemerk wat moontlik dié van ‘n Britse egpaar is wat vermoedelik verlede week deur Somaliese seerowers gekaap is.
Paul en Rachel Chandler van Kent het Vrydag ‘n noodsein naby die Seychelle eilande uitgestuur. Oorlogskepe van die Europese Unie het tot naby die seiljag beweeg maar hou nog hulle afstand om te sien wat op die boot aangaan.
*** Rugbybase het aangekondig dat ‘n voormalige Wêreldbeker-kaptein en ‘n regter aangestel is om te besluit watter span hom by die uitgebreide Super15-reeks gaan aansluit.
David Kirk, wat kaptein was van die All Blacks se seevierende Wêreldbekerspan in 1987 en ‘n voormalige regter van Nieu-Seeland, Barry Paterson, sal besluit of dit Melbourne of die Oos-Kaap gaan wees wat by Super15-reeks aansluit.
Die paneel is saamgestel na ‘n vergadering deur Sanzar verlede week ‘n dooiepunt bereik het.
***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 81, ‘n Britse pond 12 rand 81 en ‘n Euro 11 rand 51 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,032 dollar 22 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-315 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 75 dollar 71 sent per vat.
………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent Nuus. ©.