NUUS: 29 Oktober om 11:00
PenOrent Nuus : Donderdag 29 Oktober 2009.
Die nuus om elfuur:
*** Die polisie het minstens tien mense tydens geweldpleging oornag in Eldorado Park suid van Johannesburg gearresteer Meer as ‘n duisend ontstoke inwoners het die woonbuurt verlede nag met brandende
buitebande afgesper.
Die inwoners dreig om voort te gaan om leë grond in die woonbuurt onwettig te beset totdat die stadsraad behoorlike huisvesting verskaf.
Die polisie het rubberkoeëls op inwoners afgevuur nadat hulle
polisievoertuie in die woonbuurt onder die klippe gesteek het.
*** Veertig Somaliërs wat Suid-Afrika onwettig vanuit Mosambiek binnegekom het, is deur die polisie in Mpumalanga vasgetrek. Die Somaliërs het aan die polisie vertel dat hulle weens die burgeroorlog in
Somalië besluit het om uit die land te vlug.
Die polisie sê twaalf onwettige burgers van Bangladesj en 19 van Somalië is sedert verlede maand in Mpumalanga aangekeer.
*** Die veroordeelde moordenaar Cheslin Williams, ‘n voormalige kêrel van die Idols-wenner Karin Kortjie, sal na verwagting vandag in die Bellville landdroshof in die Wes-Kaap gevonnis word.
Williams is in Augustus aan die moord in 2006 op ‘n gastehuis eienaar Renate Kellerman skuldig bevind. Hy het in 2006 saam met Kortjie in Kellerman se gastehuis gebly.
***Die Nasionale Vergadering se verdedigings-en militêre veteranekomitee het ingestem oor ‘n versoek van die DA om die minister van verdediging te vra om verdagte militêre aankope te ondersoek.
Die DA het twee maatskappye geïdentifiseer wat na bewering by omstrede tenders vir wapentuig betrokke was. DA-woordvoerder, James Lorimer, sê die betrokke maatskappye is Origin Exhange en Classic One Consortium.
*** Manfred Nowak , die VN-ondersoekbeampte wat toegang tot Zimbabwe geweier is, is vanoggend uit die land gedeporteer. Nowak sê hy is deur die eerste minister, Morgan Tsvangirai genooi om beweerde aanvalle op MDC-ondersteuners te ondersoek.
Zimbabwiese amptenare het vroeër gesê Nowak se besoek moet uitgestel word oor die aankoms vandag van ‘n SAOG-afvaardiging wat ondersoek gaan instel na die ineenstorting van die eenheids-regering.
***Die Suid-Afrikaner wat in Afganistan aangehou word omdat hy ‘n sekerheidswag glo uit noodweer doodgeskiet het, is van moord aangekla.
Phil Young van Kaapstad se verhoor gaan in die hoofstad Kaboel plaasvind. Young is volgens sy broer van moord aangekla ondanks die feit dat al ses getuies in die saak bevestig het dat hy uit noodweer opgetree het.
***’n Suid-Afrikaner is in Botswana in hegtenis geneem en aangekla nadat hy glo dié land se president beledig het. Hy mag ook tydelik nie meer werk by die lodge in die Okavango-delta waar hy bestuurder was nie.
Die 31–jarige Riaan van der Watt het ontken hy het ‘n werker toegesnou het dat hy dommer as president Ian Khama is.
***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 84, ‘n Britse pond 12 rand 88 en ‘n Euro 11 rand 56 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,033 dollar 51 sent per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-315 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 76 dollar 2 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent Nuus. ©.