NUUS: 29 Oktober om 13:00

PenOrent Nuus :  Donderdag 29 Oktober 2009.

In die nuus om eenuur:

**Inwoners van Gugulethu by Kaapstad raak oproerig.

**Oud-polisiehoof  bestempel regter in sy verhoor  as ongeskik  en vyandig.

**En dodetal in Pakistanse motorbom ontploffing styg tot 106.

***Minstens een persoon is gewond  toe die polisie vanoggend met rubberkoeëls op ‘n groep woedende inwoners van Gugulethu op die Kaapse Vlakte  geskiet het.

Die inwoners is ongelukkig oor die feit  dat mense wat nie in die woonbuurt woon nie  werk by  ‘n nuwe winkelkompleks kry. ‘n Onbekende aantal mense is deur die polisie gearresteer.

*** Die voormalige polisiehoof  Jackie Selebi het die regter wat hom in sy
korrupsiesaak verhoor as ongeskik en vyandiggesind bestempel.  Selebi se  advokaat het vanoggend sy poging voortgesit om regter Meyer Joffe oor te
haal om hom aan die verhoor te onttrek.

Selebi het in regsdokumente gesê hy was altyd bekommerd dat hy nie ‘n regverdige verhoor sal ontvang nie weens die media veldtog teen hom.
Die oud-polisiehoof het gesê regter Joffe het blykbaar onbewustelik voor die begin van die verhoor besluit dat hy skuldig is.

***Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap  is op soek na twee rowers  wat vanoggend ‘n kitsbank in die noorde van die stad met plofstof probeer oopskiet het.

Die mans moes met leë hande vlug omdat die ontploffing slegs die voorkant van die kitsbank beskadig het.  Petroljoggies wat die slag gehoor het, het die polisie ontbied.

***Ses mans is vroeër vandag in die Johannesburg omgewing in hegtenis geneem nadat hulle ‘n 14-jarige meisie glo om die beurt verkrag het.
Die meisie is verkrag toe sy saam met die verdagtes by ‘n huis in die Moleleki woonbuurt gekuier het. Die meisie  se vriendin het die verdagtes na die voorval geïdentifiseer.

***Die amptelike opening van die Bridge City-winkelsentrum op Inanda by Durban is vanoggend ontwrig toe sowat tweeduisend mense die ingang na die winkelsentrum versper het.

Hulle is ongelukkig omdat hulle nie by die winkelsentrum in diens geneem is nie.  ‘n Plaaslike raadslid se motor is tydens die betoging beskadig.

***Die dodetal in gister se kragtige motorbom-ontploffing in Peshawar in die noordweste van Pakistan het tot 106 gestyg.  Die ploftoestel het in ‘n volgepakte mark in die stad ontplof.

Reddingswerkers het vanoggend nog na slagoffers onder die puin gesoek.
Die militante Taliban beweging word van die terreuraanval verdink.

***Die uitslae van die afgelope verkiesing in Mosambiek sal aanstaande week bekendgemaak word.  Daar is reeds met stemtellery in die streeksverkiesing  begin. Volgens die Mosambiekse Verkiesingskommissie moes stemlokale  in sekere dorpies langer oopbly sodat alle kiesers hul kruisies kon trek.  Daar word verwag dat die bewindhebbende Frelimo party die verkiesing sal wen.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 80, ‘n Britse pond 12 rand 82 en ‘n Euro 11 rand 51 sent.

Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,035 dollar  per fynons verhandel en platinum teen eenduisend-318 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 76 dollar  per vat.

*** Die hoofnuus vroeër vanoggend was dat  die polisie minstens tien mense weens openbare geweldpleging oornag in Eldorado Park suid van Johannesburg  in hegtenis geneem het.

Meer as ‘n duisend ontstoke  inwoners het die woonbuurt verlede nag met brandende buitebande en groot klippe afgesper.

Inwoners dreig om voort te gaan om leë grond in die woonbuurt onwettig te beset totdat die stadsraad behoorlike huisvesting verskaf.

…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent Nuus. ©.

Leave a Reply